‘n Lekker Steakburger

Vir die steak
steak
30 ml balsemiekasyn
30 ml sjerrie / soetwyn
5 ml heelkorrel- of aangemaakte Engelse mosterd
sout en varsgemaalde swartpeper

Vir die gekaramelliseerde sjerrie-uie
1 rooi ui, in dun skyfies gesny
5 ml olie
30 ml sjerrie
15 ml balsemiekasyn
15 ml suiker

Vir die sampioene
groot, bruin sampioene, stele verwyder (twee per persoon)
olie, om te braai
klontjie botter of margarien, om te braai
sout en varsgemaalde swartpeper, na smaak

Vir die avokado
1 avokado
‘n skeut, twee of drie suurlemoensap
sout en varsgemaalde swartpeper

Vir die ciabatta
ciabatta
nog sjerrie
olyfolie
aangemaakte soet mosterd
Vir die finale aanmekaarslaan
baba-spinasieblare

Begin deur die steak te marineer. Hoewel jy vir hierdie resep eenvoudige steakrepies, of selfs minute steak kan gebruik, is beleë porterhouse nie te versmaai nie. Wat jy ookal kies, die metode bly dieselfde. Meng die balsemiekasyn, sjerrie en mosterd. Gooi dit oor die steak en hou eenkant terwyl jy solank die uie en brood gereed kry.

Braai nou die ui in die olie vir ongeveer 5 minute, totdat dit sag, maar nog nie bruin is nie.
Voeg dan die sjerrie, asyn en suiker by en laat nog 5 minute kook, totdat meeste van die vloeistof weggekook is.

Terwyl die uie braai kan jy solank ‘n groter pan uitkry vir die sampioene, waarin jy ook later die steak kan braai. Verhit ‘n bietjie olie saam ‘n klontjie margarien. Wanneer die margarien gesmelt is, sit die sampioene steelkant na bo in die pan. Geur met sout en peper, en draai om wanneer die onderkant verbruin is. Braai tot die sampioene sag is. Verwyder uit die pan en hou eenkant.

Maak ook gou die avokado, deur dit met ‘n vurk fyn te druk en dit met vars suurlemoensap, sout en peper te geur. As jy van dit romeriger hou, kan jy suurroom byvoeg.

Nou moet jy die brood in gereedheid bring: Sny die ciabatta, en besprinkel dit met sjerrie en olyfolie.
Braai dit op ‘n riffelpan tot mooi verbruin, of plaas dit 5 minute aan ‘n kant in ‘n oond wat tot 220 °C voorverhit is. Smeer die warm broodjies met ‘n lagie mosterd en hou eenkant.

Dis nou tyd om die steak te braai. Kry nou weer die sampioen-pan, en verhit ‘n bietjie olie totdat die pan lekker warm is. Braai die steak weerskante tot die verlangde gaarheid bereik is.

En die groot oomblik het uiteindelik aangebreek. Om hierdie bielie-broodjie aanmekaar te slaan, begin jy deur gekarameliseerde uie en baba-spinasieblare op die eerste sny brood te sit. Volg met twee sampioene op die spinasie, en dan ‘n stukkie steak. Volg met nog ‘n broodjie, wat lekker dik met avokado gesmeer is. Plaas nog ‘n stuk steak bo-op en eindig met ‘n skeppie uie, en nog ‘n broodjie vir die groot honger.
Ta-da!

Wenk: Indien jy nie lushet vir steak nie, kan jy dit sommer heeltemal weglaat. Vervang die steak dan met vellose, ontbeende hoenderborsies, of maak bloot net nog groot, bruin sampioene gaar.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 211 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *