Die pottebakker.

Die pottebakker.

Die heerlike geur van vars, nat klei hang swaar in die lug as ek die pottebakker se werkswinkel instap. Ek is opgewonde – wat gaan hy vanoggend maak? In die vertoonlokaal staan die mees elegante kunswerke uitgestal, en daar is van te kies en te keur. Al die kleure van die reënboog is daar verteenwoordig, en daar is van piepklein tot mammoetgroot – koppies, bakke, blakers, potte.

“Kom kyk”, word ek vriendelik uitgenooi agter die skerms in, dáár waar die dinge gebeur. Ek stap in ‘n totaal ander wêreld in – hier is dit half-morsig, as ‘n mens die woord durf gebruik, want die vloer is nat, en van al die glans en glorie van die vertoonlokaal is hier niks te bespeur nie. Aan die vêrste ent van die vertrek staan ‘n reuse oond, en ek sien al hoe gloei hy van binne met ‘n hitte wat die warmplek na ‘n vulletjie laat lyk. In die middel van die vertrek staan die beroemde draaitafel – die plek waar die groot wonders gebeur. Rondom is dit alles behalwe skoon – ‘n modderigheid omring die draaitafel, en skielik begin my gedagtes te dwaal na die tyd toe ek ‘n klein seuntjie was, op Oupa se plaas.
Daar was ‘n kleigat, net onderkant die fontein – taai, gladde blou klei, wat ek en my maters dikwels uitgegrawe het – en in die proses vieslik vuil geword het. Dit was oorlog-klei, want kleilatgevegte was aan die orde van die dag. Maar soms was dit ook lekkerspeel-kuns-klei, waarmee ons klei-osse en allerhande wonderlike dinge gemaak het. Ek het dit eenmaal in Ouma se ou koolstoof se oond probeer bak, maar dit was ‘n volslae mislukking!

Ek word terug geruk na die werklikheid as die pottebakker ‘n stuk klei neem en dit begin brei totdat dit heerlik elasties en vormbaar is. Met méning gooi hy ‘n stuk klei wat hy sorgvuldig afgemeet het op die wiel. Terwyl die wiel draai, begin sy kunstige hande iets vorm. “Wat gaan hier uitkom?” wonder ek opgewonde. Sy hande word natgemaak, en die klei maak hulle modderig, sodat sy hande en die klei op die wiel naderhand een is. Stadig neem die voorwerp vorm aan, totdat hy skielik sê: “Daar’s hy, dis klaar”.
Ek is teleurgesteld – al wat hy gemaak het is ‘n plat bak. Ek wou sien dat die pottebakker ‘n ingewikkelde kunswerk maak, maar nou dít! Ek verstaan nie – sy talente word nie gebruik nie! Hy lees die vraagteken op my gesig, en dan lag hy: “Hierdie gaan ‘n kleurvolle vrugtebak wees – ek gaan dit glasuur wanneer die klei droog is, en dan gaan dit gloei met die vrolikste kleure.”

As jy dink oor die uitverkiesing, dan hang daar seker baie vrae in die lug. Selfs Paulus vra die vraag: “Is God dan onregverdig?” Prof Johan Heyns skryf in sy boek: “Dogmatiek” dat God se genade so groot is dat Hy wil hê dat elke mens wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal beërwe – daarvoor het Hy die mens uitverkies, en so is jy en ek en elke mens wat in Hom glo uitverkies. Die hartseer saak – en ek glo dat die Here die hartseer deel – is dat sommige mense hierdie onbegryplike, onverdiende genade in Christus verwerp en kies vir hulle eie manier van selfregverdiging deur “goeie werke”……

Die uitverkiesing, en daarmee saam baie ander vraagstukke, is vir ons onverstaanbaar, en ons wil graag vir God voorskryf hoe dinge behoort te gebeur. Paulus vergelyk God se handelinge met dié van ‘n pottebakker. Hy het vrymag om te maak met die klei wat Hy wil, en dit te vorm na Sy hand. Soms lyk dit wat Hy maak vir ons onregverdig, maar God se plan is soveel groter as wat ons gedagtes kan verwerk.
Ek wil soms vra: “Maar waarom het God my dan nie ‘n Billy Graham of ‘n Angus Buchan gemaak nie?” Maar ek vergeet baie gou dat ek maar net ‘n klont vaal klei was voordat God my begin vorm het. Hy het nie nodig gehad om enigiets aan my te doen nie, want ek was vir Hom absoluut waardeloos. Nogtans het Hy uit genade hierdie waardelose stuk slap, modderige klei geneem en iets daaruit gevorm wat nuttig kan wees vir Sy koninkryk.

Daardie vormingsproses was natuurlik nie altyd so lekker nie, want ek moes anders gemaak word as waaraan ek gewoond was, en om bruikbaar te word moes ek geglasuur word – in ‘n baie warm oond bak (figuurlik gesproke). Van my kant af was daar slegs een voorwaarde: ek moes gewillig wees, want sonder my eie toestemming sou God nie hierdie proses met my begin het nie. Wat behels hierdie “toestemming”? Om “Ja” te sê op God se roepstem, en Jesus se geskenk van die ewige lewe te aanvaar. Maar dit gaan ook verder – ek moet toelaat dat God my verder vorm en bruikbaar maak. Hoe doen ek dit? Deur die sonde agter te laat en myself te bekwaam vir Sy diens, maar die belangrikste is dat ek gewillig moet wees om my aan God se vormingsproses – hoe pynlik dit soms ook kan wees – te onderwerp, en Hom, die Groot Kunstenaar, met my lewe te vertrou.

Here, Skepper van die heelal – ek stel my vandag onvoorwaardelik i

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 170 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *