Efesiërs 1:1-14:

DRIE WOORDE IN VERGIFNIS.

Efesiërs 1:1-14: “In Hom het ons die verlossing deur Sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van Sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het…” (vs.7,8).

‘n Vrou is deur iemand verontreg. Sy het geweier om vrede te maak. Uiteindelik gaan praat die Pastoor met haar. “Vergewe haar,” pleit die dominee. “Goed,” gee sy in. “Ek sal haar vergewe, maar ek sal nie vergeet nie.” Met groot meegevoel antwoord die dominee haar: “Is dit hoe jy wil hê God jou jóú sondes moet vergewe? Moet Hy dit áltyd nog onthou na Hy jou vergewe het?”

Gelukkig vergewe God in Sy groot liefde en met Sy groot genade ons ons sondes hééltemal. ‘n Vrou vertel my hoe die betekenis van vergifnis een oggend, in haar stiltetyd, vir haar duidelik geword het. Sy merk op dat drie woorde, in die woord vergifnis, gesien kan word. Dit is drie onsamehangende woorde, maar dit bring vergifnis se betekenis helderder vir ons na vore: ver-gif-nis.

Wanneer God ons vergewe, neem Hy ons sondeskuld ver van ons af weg. “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af” (Psalm 103:12). Dus: ver-gif-nis.

Gif verwoes lewe, so verwoes sonde ‘n mens se geestelike lewe. ‘n Skuldige gewete vergif ‘n mens se geloof en vrede en liefde vir God. As mens ‘n sondige gevoel jeëns ‘n ander koester, wraak of nyd of afguns, vergif dit ‘n mens se geestelike gestel. Vergifnis neem hierdie gif uit ‘n mens se lewe uit en ‘n mens word geestelik gesond. “Dit gaan goed met die mens…wie se sonde vergewe word. Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer…my krag het opgedroog…Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie…en U het my skuld vergewe…”” (Psalm 32:1-5): Ver-gif-nis.

God dink nooit weer aan ons sondes nie. “Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie” (Hebreërs 8:12). As Hy ons sondes vergewe, handel Hy dit finaal af. “U het al my sondes agter U rug gewerp” (Jesaja 38:17, Ou Vertaling). “Hy sal ons sonde tot niet maak. U sal al hulle sondes in die diepsee gooi” (Miga 7:18). Maar óns onthou ons sondes. Dit verskrik ons nie meer nie, inteendeel, met dankbaarheid onthou ons waarvan God ons gered het. So onthou Paulus sy sonde: “Hy het my krag gegee…al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig…God was genadig teenoor my…Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste” (1 Timotheus 1:12-15). ‘n Nis (ver-gif-nis), sê HAT-woordeboek, is ‘n uitholling in ‘n muur om iets in te plaas. In ‘n gedenkmuur word iemand se as in ‘n nis geplaas. So onthou ons ook ons dwaasheid en skandes en oortredings, soos ‘n dooie liggaam se as wat in ‘n nis geplaas is. Dit is daar, maar bedreig ons nie meer nie. Ons glo ons vergifnis.

Here, vandag oordink ek opnuut U vergifnis, in Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 109 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *