Eksodus 22:28:

BID VIR DIE REGERING.

Eksodus 22:28: “Moenie lasterlik teen God optree nie. Moenie die leiers van die volk vloek nie” EN 1 Timotheus 2:2: “Bid so vir konings en alle ander in gesagsposisies sodat ons in vrede en rustigheid, toewyding en eerbaarheid kan lewe.”

As jy ‘n normale mens is, is dit so maklik om negatief te wees en afbrekende kritiek op alles en almal te lewer. Om onvergenoegd met alles en almal om jou te wees. Om jouself jammer te kry (al is dit soms net in jou enigheid). Dit is so maklik om die blaam vir alles wat verkeerd is in die samelewing, op die regering te plaas!

Maar in hierdie twee teksverse staan juis dat jy alles positief moet benader, nie die regering vloek, belaster of kritiseer nie. Nee, jy moet vir hulle bid. Wanneer jy dan bid, moet nie net die Here vra om hulle te help nie: Vra die Here om jou te wys hoe Hy jou wil gebruik om hulle te help, tot seën van ons almal.

Dink ‘n bietjie, jy het mos kundigheid en vaardighede wat jy aangeleer het om jou werk en jou stokperdjies en ontspanning, maklik en aangenaam te maak. Kan jy van hierdie kennis en vaardighede gebruik om die gemeenskap waarin jy woon, ‘n lekkerder omgewing te maak? Gaan bied dan jou dienste aan, sonder om vergoeding daarvoor (in geldterme) te verwag. En moet ook nie dink dat jou aanbod sommer dadelik aanvaar sal word nie. Omdat ons so krities en afbrekend was teenoor die “nuwe” regering (plaaslik, provinsiaal en nasionaal), sal ons aanbod met skeptisisme bejeën word! Dit het die groep voormalige munisipale amptenare ondervind toe hulle hul dienste gaan aanbied het om die huidige posbekleërs op te lei en te help om ‘n beter diens aan hulle dorp te lewer. Hulle het egter deurgedruk, en daar waar hulle hulp mettertyd aanvaar en verwelkom is, het dienslewering en begroting aksies drasties verander, ten goede!

Bid dus elke dag vir die in gesagsposisies, bied jou hulp aan, doen iets om die gemeenskap beter te laat funksioneer: jy is die een wat op die ou end bevoordeel word omdat jy nou rustig, in vrede, eerbaarheid en toewyding kan lewe!

Heilige Gees, help my vandag om ‘n verandering te maak in my gemeenskap. Wys U vir my hoe die pad loop, sodat ek daarop kan loop!

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 61 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *