Job 29-31

Ek is Onskuldig! Job 29-31

In hoofstuk 29 gaan Job se gedagtes met groot nostalgie terug na die tyd toe dit nog goed gegaan het met hom. “Kon dit maar weer met my gaan soos lank gelede, soos in die dae toe God nog sy hand oor my gehou het, toe sy lig beskermend oor my geskyn het en my pad in die donker verlig het. Dit was die beste jare van my lewe toe ek nog ‘n vertroueling van God was.”

Dit is groot nostalgie! Dit was lekker tye. Job het nie die einde geken van sy voorspoed nie. Die teenwoordigheid van God kon Job elke dag aanvoel. Die gemeenskap het groot respek vir hom gehad. Hy het immers in die stadspoort gesit en die mense het na hom gestroom vir raad. Daar het hy talle male opgetree as regter in hofsake. Selfs die ou manne het eerbiedig opgestaan wanneer hy verbystap. Almal het net groot lof gehad vir Job, want hy was ‘n wyse man met groot aansien.

Wanneer dit by die armes kom en die weduwees en weeskinders, was Job die eerste een na wie hulle gegaan het, want hy het altyd ‘n oop hand en hart gehad vir almal wat swaarkry. Hy was ‘n ware vader vir hulle. En soos wat hy die ou bekendes behandel het, het hy ook die vreemdeling wat na hom kom vir hulp behandel.
In kort: Job het ‘n lewe gehad waaroor enige gelowige maar net kan droom!

Nou sug Job swaar: “Daarom het ek gedink: ek sal eendag sonder sorge sterf in my eie huis.” (v. 18). Hy het gedroom daarvan om te wees “soos ‘n boom met sy wortels by die water en elke môre dou op sy takke.” (v. 19)

Maar sy droom lê aan skerwe. In Job 30 snik hy: “Maar nou lag hulle vir my, mense wat jonger is as ek.” Hierdie man met aansien het nou die bespotting van die dorp geword. Alles het so verskriklik anders uitgedraai as wat Job gedroom het. Alles het in ‘n aaklige nagmerrie verander. “En nou sing hulle liedjies oor my en word ek deur hulle bespot.”(v. 9)

Maar dit is nie alleen die mense wat hom so verskriklik verneder en hom beroof van al sy hoop nie. Job voel asof God nou presies dieselfde met hom doen.

In vers 20-23 praat Job direk met God. Hy beskuldig die Here: “Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie. Hier staan ek, maar U steur U nie aan my nie. U draai U teen my met U geweld, U val my aan met mag. U tel my op en laat die wind my wegwaai, U ruk my heen en weer in U stormwind. Ek weet dat U my bestem vir die dood.”

Harde woorde van Job teen God. Van die gespuis wat hom uitlag kan ‘n mens sulke dinge verwag. Maar dat selfs God nou Sy rug op Job gedraai het, is vir hom skokkend en vernietigend. Sulke harde woorde sou jy nóóit van Job verwag het nie!

Al wat vir Job oorbly is ‘n treurlied. Sy klaende hulpgeroep klink op van sy ashoop waar hy sy swere met ‘n potskerf krap. Hy is eensaam. “Al broers wat ek het, is die jakkalse; al vriende wat ek het, volstruise.” (v. 29) kerm hy. En so styg sy klaaglied op soos die jammerlike getjank van jakkalse en die eensame gebrul van volstruise.

Al wat vir my oorbly, is ‘n treurlied op die lier, ‘n lied van trane op die fluit.”(v. 31)
In die volgende hoofstuk beweeg Job se uitdaging aan God na ‘n hoogtepunt. Hy is selfs uitdagend en vol selfvertroue wanneer hy die Here aanspreek en verklaar dat hy beslis onskuldig is. Hy het nog nooit met begeerte gekyk na ‘n mooi meisie nie. Valsheid en bedrog was nie deel van sy woordeskat nie. Nog nooit het hy geloer na sy buurman se vrou nie – dis immers ‘n skande! Sy werknemers (slawe) het hy nog altyd net goed behandel. Hy het nog altyd ‘n oop hand gehad vir armes. Hy is onskuldig, en as hy dan aan enige van hierdie dinge skuldig is, mag God maar sy arm afskeur!

Job gaan voort deur vir God te sê dat hy nog nooit sy vertroue op sy rykdom geplaas het nie. Geld was nooit by hom ‘n kwessie nie. Dit sou neerkom op afgodery. Nee, hy het ál sy vertroue op God alleen geplaas.

Job gaan verder deur te ontken dat hy hom ooit verlekker het in sy vyande se ongeluk. By hom is daar géén vyandshaat nie. Boonop is daar ook nie so ‘n ding soos skynvroomheid of skynheiligheid by hom nie.
Al verstaan Job God glad nie, vertrou hy Hom steeds as die Regverdige en Alwetende. Sy verhouding met God is eerlik, soveel só dat hy selfs vir God kan uitdaag!

Job vra nie van God om sy ou lewe en rykdom terug te kry nie. Al wat hy vra is dat sy verhouding met God herstel kan word. Dit gaan met ander woorde vir hom nie om Job nie, maar om God. Kan jy dieselfde sê?
Here, herstel asseblief vandag my gebroke verhouding met U, In Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 93 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *