Boontjie en sy loontjie

Ek sien eendag ‘n aangrypende fliek van ‘n man wat ter dood veroordeel is. Sy loon: Die elektriese stoel. Boontjie kry sy loontjie, want die man het self ander doodgemaak. Ek wonder hoe moet ‘n mens voel as jy ander se lewe geneem het? Wat gaan deur jou as jy sien hoe die ander se lewe hulle liggaam verlaat en net die dooie, lewelose liggaam bly oor? Ek wonder of die prentjie oor en oor deur die moordenaar se kop speel? Ek wonder of hy kan slaap?

Vir lank word die dood deur ‘n elektriese stoel bespreek, maar uiteindelik word daar besluit om die moordenaar met sy eie medisyne te straf. Die doodstraf – en dit deur middel van ‘n elektriese stoel. Eintlik is jy as kyker nou tevrede, want boontjie kry sy loontjie, maar tog is ons mos mense wat omgee en ons voel jammer vir sy familie wat agterbly. Ek voel selfs jammer vir die moordenaar.

Almal is tjoepstil as die moordenaar sy laaste vyf minute kry om te stort. Wanneer ‘n kol agter op sy kop skoon geskeer word waar die plaatjie met die drade moet kom, is dit net die fyn geskree van die skeerder wat gehoor kan word. Soos hy op die stoel inskuif, raak jy bewus van jou eie asemhaling. Eintlik wil jy hê dat dit alles vinniger moet gaan. Kom ons kry net klaar.

Die moordenaar staar net voor hom uit. Hy is nou alleen in die kamer. Net hy en die stoel. Maar dan is daar ‘n geskarrel by die deur en ‘n man met ‘n jong seun storm in. ‘n Mens kan niks hoor nie, maar die man beduie na die man op die stoel en dan na sy seun. Die tronkbewaarder se vraagtekens is duidelik op sy gesig geteken.

In ongeloof kan die kyker nie glo wat voor sy oë afspeel nie. Die drade word een vir een van die moordenaar losgemaak. Stadig staan hy uit die stoel op. Verbasing straal oor sy alles uit, terwyl die drade een vir een op die pragtige seun se liggaam geplak word.

Dit is presies wat Jesus vir ons kom doen het. Ons verdien die dood. Die straf vir ons sonde is die dood. Dis klaar. Wanneer jy sonde teen God doen, wanneer jou dade vir God afskryf, moet jy ook afgeskryf word. Boontjie kry sy loontjie. Tog kan God dit nie oor sy hart kry dat mense een na die ander op die stoel moet doodgaan nie. Nee, Hy neem sy pragtige jong Seun en gaan sit Hom in ons plek op die stoel. Waar ons die dood verdien, kry ons die lewe: Saam met Jesus is ons, wat soos dooie mense nie eens van God geweet het nie, lewend gemaak. Saam met Christus Jesus sit ons ook nou op ‘n spesiale plek by God in die hemel.

Ons straf wat die dood is, word omgedraai in lewe. Ja, Jesus is doodgemaak in ons plek sodat ons nie meer vir ons sondes doodgemaak hoef te word nie. Boontjie kry nie meer sy loontjie nie, want Jesus het klaar die loon vir ons sondes gedra.
Sjoe, watter ongelooflike storie is dit nie?

Maar God se genade hou nie hier op nie. Jesus sterf nie net in ons plek nie, nee, Hy bewerk ook vir ons ‘n spesiale plek in die hemel. Amper so asof ons iemand by die rugbystadion ken en ons met elke wedstryd ‘n spesiale kaartjie kry in die losie. Omdat ons Jesus ken, omdat Hy vir ons gesterf het, kry ons ‘n spesiale plekkie in die hemel.

God moet ons darem ontsettend liefhê. Hy doen so baie vir ons. Dit is nou die tyd om die lewe te leef as begenadigdes. Begenadigdes wat nie net die lewe ontvang het nie, maar ook ‘n spesiale plek in die hemel. Kom ons leef met ‘n verwagting dat ons eendag ‘n spesiale plek in die hemel sal kry. Kom ons leef met die intensie om van God se genade wat ons ontvang het uit te deel aan die mense om ons. Hulle verdien dit net so min soos ons.
Teks

Efesiërs 2:1-10
Om oor na te dink
Besef jy dat Jesus in jou plek die dood in is?
Besef jy dat daar vir jou ‘n spesiale plek in die hemel wag?
Hoe leef jy dit vandag uit?
Vader, wat kan ‘n mens sê? Hoe groot is u liefde nie vir my nie! Om U Seun in my plek op die elektriese stoel te sit. Dankie, Vader. Dankie vir U hoop genade. Ek wil van die genade aan die mense rondom my uitdeel. Ek moet! In Jesus Naam. Amen

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 167 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *