Job 40-41

Die Seekoei en die Krokodil – Job 40-41

Job laat sy kop in skaamte sak: “Ek sal liewer stilbly.” (Job 39:37). Hy voel hy kan sy tong afbyt omdat hy die Almagtige God se handelinge bevraagteken het. Wie is hy, armsalige Job om van die Here verduidelikings te eis?

Maar God is nog glad nie klaar met Job nie. “Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My.” Vir ‘n tweede keer moet Job ‘n reeks vrae aanhoor. Hy moet antwoorde probeer gee, maar hy ken nie die antwoorde nie!

“Wil jy my beslissing tot niet maak? Wil jy My skuldig verklaar sodat jy vrygespreek kan word? Het jy die mag wat Ek het?” Bitter harde woorde, maar dit is inderdaad wat Job probeer doen het. Het jy dit nie dalk ook al gedoen nie? Job het nie direk vir God probeer skuldig maak nie, maar sy tergende vrae het die implikasie gehad dat hy die Almagtige beskuldig het. Ek het self ook al gevra: “Kon die Here nie maar……..” wat impliseer dat God ‘n fout gemaak het.

God se harde woorde is nie gemik op ‘n bepaalde sonde wat Job iewers in die verlede gepleeg het, soos wat sy vriende voor sy deur gegooi het nie. Job veg egter so hard om sy eie onskuld te probeer bewys dat hy in die proses vir God skuldig verklaar. Job het as’t ware God probeer speel.

“Tree dan op met jou trots en jou groot mag, handel in jou majesteit en heerlikheid. Laat brand dan jou gloeiende toorn, sien elke trotsaard raak en sit hom op sy plek, sien elke trotsaard raak en verneder hom, trap die goddeloses plat. Begrawe hulle almal, lê hulle weg in die graf. Dan sal Ek teenoor jou erken dat jy jou deur jou eie mag kan red.” So daag God vir Job uit. As hy dan dink dat hy so hoogheilig is, moet hy al die goddeloses uitdelg! Waarom gryp hy nie self in nie?

Job se kop sak al laer. Hy voel bitter skaam.

Net wanneer Job dink dat God se toorn hom gaan tref, begin God verder verduidelik van die wonder en asemrowende grootheid van Sy volmaakte skepping: “Kyk die seekoei: Ek het hom gemaak toe Ek jou gemaak het.” Hierdie manjifieke dier word deur jagters beskou as die gevaarlikste van al die diere in Afrika. Hy mag dalk op die oog af vet en potsierlik lyk, maar hy is so byna twee ton van brute krag en tande wat ‘n krokodil middeldeur kan byt. Hy stuit vir géén mens nie. Tóg vreet hy gras soos ‘n koei en hy word in dieselfde asem as die brose Job genoem. Boonop is hy ondergeskik aan sy Maker.

“Kan jy ‘n krokodil met ‘n hoek vang of hom ‘n tou in die bek sit?” vra die Here verder vir Job. Ja, die krokodil is slinks, sterk en uiters gevaarlik. Hy is waarskynlik verantwoordelik vir die meeste sterftes as gevolg van wilde diere in Afrika. Meeste van sy slagoffers verdwyn net eenvoudig en word nooit weer gevind nie. “Sal jy hom kan mak maak soos ‘n voëltjie of kan jy hom met ‘n lyn vasmaak vir jou dogtertjies?” Dis lagwekkend, om die minste te sê! Almal is doodbang vir krokodille. Wie sou óóit daarvan droom om ‘n krokodil as lieftallige troeteldier aan te hou? Dis absurd! “Pak hom gerus met kaal hande: jy sal die geveg onthou, jy sal nie weer probeer nie.” waarsku God vir Job.

Dan berispe Hy weer vir Job omdat hy die Here probeer aanvat het: “Wie wil dan nog teen Mý standhou? Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My.” Ja, Hy is die Maker van daardie formidabele gedierte. Ook die krokodil is Syne! Niemand kan die gedierte tem nie, net God!

As Job nie eers een van die skepsele van God, ‘n krokodil kan aanvat nie, hoe kan hy dit dan nog waag om die Skepper van die krokodil aan te vat?

Net om dit nog verder goed in te vryf, word die mitologie aangehaal. Die seekoei en krokodil was albei gesien as mitiese diere (Behemot en Leviatan), oermonsters wat die chaosmagte in die godewêreld beheer het. God beskryf die bonatuurlike mitiese krokodil wat die mense se gedagtegang gevul het: “As hy nies, spat die vonke, sy oë is so rooi soos die daeraad. Daar kom vuur uit sy bek, die vonke waai deur die lug. Daar trek rook uit sy neusgate, soos uit ‘n kokende pot op ‘n vuur. Sy asem steek vure aan, daar skiet vlamme uit sy bek.”

Selfs al was daar sulke mitiese drake soos hier bo beskryf, met ongekende krag, is God steeds die Skepper, die Maker van dit alles. Alles, selfs drake en die sterkste onder die sterkes buig steeds voor die almag van God.

Onwillekeurig dink ek aan die opgrawings van reusagtige diere uit die oertyd. Monsters wat die reuse ou olifant na ‘n vlooi laat lyk. Wreedaardige roofdiere wat die leeu na ‘n bang huiskatjie laat lyk. En my God het hulle almal gemaak!

Wat ‘n wonderlike gedagte dat ek dus kan weet dat daardie groot en magtige God Hom oor my, nietige mensie ontferm. Dat Hy bemoeienis met my maak en dat Hy my liefhet. Dat Hy my wil leer van Hom. Dat Hy my nie wil straf oor my sondes nie, maar my eerder styf in Sy arms wil vasdruk en my vertroos en vertroue in Hom gee. Dat Hy my wil leer hoe afhanklik ek van Hom is.

Vandag kan ek weereens net neerval in verwondering voor U, Here. Dankie dat U my Vader is.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 99 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *