Lukas 2:7

SY HET HAAR EERSTELINGSEUN IN DIE WêRELD GEBRING.

Lukas 2:7 vertel ons: “Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.”

Die wrede samelewing het op daardie eerste feesnag geen plek gehad vir die Lig wat God na die wêreld gestuur het nie. Lukas 2:11 en Johannes 1:11 stel dit treffend. Die treffendste feit van die geboorte van Jesus Christus is dat daar geen plek daardie aand in die herberg in Betlehem was waar Maria en Josef kon oornag het nie. Jesus Christus is toe in ‘n stal gebore. Dit was die kilste ontvangs wat enige koning nog ooit gekry het.

Die feit dat Jesus Christus in ‘n stal gebore en in ‘n krip neergelê is, beklemtoon ook die fokus van Sy bediening op aarde. Jesus het geweldige weerstand van mense in Sy wandel van 33 jaar op aarde ondervind. Hy het in totale gehoorsaamheid aan Sy Vader deurgedruk met Sy opdrag waarvoor Hy aarde toe gekom het. God weet dat die mens kortsigtig is maar het nogtans uit liefde Sy Seun gestuur as verlossing van die mensdom.

Die twee belangrikste woorde in die Bybel, wat soos ‘n goue draad vanaf Genesis tot Openbaring deurloop, is liefde en gehoorsaamheid. Jesus het uit liefde vir ons en in totale gehoorsaamheid aan die Vader mens geword om aan ‘n kruishout te sterwe vir ons sonde.

Die vraag is of daar in jou hart en in jou huis ‘n plek is vir Jesus Christus? Moenie die fout maak soos daardie herbergier meer as twee millennia gelede om Jesus Christus uit te sluit nie.

Vader, dankie dat U my so liefhet dat U U Eniggebore Seun geoffer het sodat ek die ewige lewe kan beërwe. Dankie dat U ‘n onverbeterlike God is waarvoor ek my lewe sal gee, in Jesus Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 70 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *