TE LAAT!

TE LAAT!

Op die televisieprogram: “Sandra op ‘n drafstap” gesels Sandra Prinsloo met die beroemde sopraan Marietha Napier. In alle opsigte is sy een van die grootste soprane wat ons land ooit opgelewer het, en sy hoef ook nie juis terug te staan vir grote diva, Mimi Coertze nie! Maar daar is tog ‘n reuse verskil, so kom ek tydens die program agter. Mimi is ‘n flambojante ekstrovert terwyl Marietha teruggetrokke is. Albei het vir baie jare in al die groot operahuise in Europa die een na die ander opera opgevoer en nie sommer net klein rolletjies nie, maar elke keer die hoofrol. Nie juis ‘n klein prestasietjie nie!

Soos wat die gesprek tussen Marietha en Sandra vorder merk ek op dat daar ‘n droewige trek op Marietha se gesig is. Daar is deurentyd iets wat haar baie pla. En dan bars die bom: sy het kanker! Vir die afgelope 25 jaar veg sy reeds teen die gevreesde siekte en elke keer oorwin sy. Maar hierdie slag is die prognose maar baie swak en sy het hoogstens ‘n paar maande om te lewe.

Skielik maak die droewige trek op haar gesig vir my meer sin. Uit die gesprek raak dit duidelik dat sy nie weet hoe om hierdie swaard wat oor haar kop hang te hanteer nie. Sy het nie ‘n man of kinders wat haar in haar doodsangs kan bystaan nie. Sy het besluit dat sy haar laaste maande voluit wil lewe deur te reis en lekker dinge te doen waarvoor sy nooit die tyd gehad het nie. Deur die jare het sy baie geld bymekaargemaak en nou is die tyd om dit te spandeer!

Maar dan sê sy ‘n ding wat my diep in die hart ruk: “Ek is nie ‘n Christen nie!” Ek sien dat die arme vrou verbouereerd is, want sy weet nie wat van haar gaan word wanneer sy sterf nie. Ek voel bitter jammer vir haar. Sy het die hoogste hoogtes bereik in haar lewe en groot roem verwerf. Sy het haar álles gegee vir die kunste en vir konings en prinse gesing. Sy het opgetree saam met die grootstes van verhoogkunstenaars. Tog is sy hier ‘n patetiese figuur wat bitter bang is vir dít wat op haar wag, want sy weet nie waarheen sy gaan nie.

Tog draai die Bybel nie doekies om nie: “Die loon wat die sonde gee is die dood…” So staan daar helder en duidelik in Romeine 6:23. Maar dis nie al nie, want as jy verder lees staan die goeie nuus daar: “…die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”

Ek sit en wonder of daar nie dalk ‘n manier is om haar te kontak nie, dalk vir haar ‘n e-pos te stuur en vir haar te vertel dat alles nie verlore hoef te wees nie. Daar is nog hoop, selfs in die aangesig van die dood. Vat nou maar die man wat aan die kruis langs Jesus gehang het: hy is gered op nommer nege-en-negentig! Selfs vir ‘n sterwende ongelowige kan daar nog hoop wees.

Na die program verby is maak ek die koerant oop. Daar is ‘n beriggie in: “Wêreldberoemde sopraan, Marietha Napier sterf.”

Ek voel so leeg, so magteloos. Het sy ooit vrede gemaak met God? Het sy in haar laaste dae vir Jesus ontmoet? Ons sal dalk nooit weet nie.

En jy, liewe leser, het jy al ‘n ware ontmoeting met Jesus gehad? Kan jy vandag met sekerheid sê dat jy weet waarheen jy op pad is en dat Jesus jou Verlosser is? En wat van jou geliefdes?

Moenie wag tot dit te laat is nie!

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 74 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *