Johannes 4:43-54

Geloofstoets – Johannes 4:43-54

Dit moes seker twee baie ongemaklike dae vir die manne gewees het tussen die Samaritane van Sigem. Maar, alhoewel dit ‘n uiters suksesvolle bediening onder die Samaritane was, is dit genadiglik uiteindelik verby en is hulle op pad na hulle tuisland, Galilea. Dan sê Jesus ‘n baie snaakse ding vir die manne: “‘n Profeet word nie in sy eie land geëer nie!” Wanneer ons egter die volgende paar verse van Johannes lees, verstaan jy gladnie wat Jesus bedoel het nie, want hier lyk dit dan nou asof die mense van Galilea Hom baie goed ontvang. Hy word met ope arms terug verwelkom.

Dit is gevaarlik om die Bybel te wil verstaan deur slegs enkele versies te lees. Dikwels moet jy ander gedeeltes daarmee saam lees om die spesifieke gedeelte in sy konteks te plaas. Ons moet onthou dat Johannes hierdie Evangelie geskryf het om bepaalde gedagtes by sy lesers tuis te bring. As ons die ander evangelies saam lees, dan kry jy ‘n breër prentjie van Jesus se bedoeling. Matteus 13:53-58 vertel hoedat die mense van Jesus se tuisdorp Nasaret, Hom verwerp het. Lukas skryf dat hulle Hom selfs van ‘n krans wou afgooi (Luk. 4:28-30).

As Johannes dus skryf dat die Galileërs vir Jesus verwelkom het, was dit slegs ‘n tydelike ding. Wanneer Hy egter dinge begin sê wat hulle ongemaklik laat voel, draai hulle die rug op Hom, selfs Sy eie broers!

Van Sigem af neem die groep se reis hulle reg noord, verby Nasaret, tot by Kana waar Hy die water in wyn verander het. Hulle volgende stop sou Kapernaum wees, sowat 25km verder, langs die see van Galilea. In Kana kom ‘n man Jesus tegemoetgeloop. Hy is bitter bekommerd en baie moeg, want hy het baie haastig die hele ent pad van Kapernaum geloop toe hy verneem dat Jesus in Kana is. Sy seun is baie siek, en hy kan enige oomblik sterf van die koors. Hierdie man is ‘n regeringsamptenaar. Hy werk dus vir Herodus Antipas, die regeerder van daardie streek.

Wanneer die man uiteindelik by Jesus uitkom, moet hy eers aanhoor hoedat Jesus hom toets: Is hy nie dalk maar net daar om ‘n wonderwerk te kom sien nie? Ons wil amper vra: “Maar hoe kón Jesus? Kon Hy nie sien dat die man desperaat is nie?” Ons moet onthou dat duisende mense na Jesus gestroom het uit nuuskierigheid. Ek is séker dat baie van daardie mense egter iets gekry het wat hulle nie verwag het nie, en as veranderde mense weggegaan het. Gaan jy nie ook dikwels maar uit blote nuuskierigheid na ‘n groot saamtrek soos byvoorbeeld ‘n Mighty Men, ‘n Daniël of Ester konferensie nie? En dan keer jy terug as ‘n totaal veranderde mens?

Wanneer Jesus hierdie man “uitlok”, sien ons egter uit sy antwoord dat hy Jesus gesien het as die enigste oplossing vir sy probleem. Hy tree nie eers in die een of ander teologiese gesprek met Jesus, soos baie van die ander gedoen het nie, maar hy smeek Jesus om asseblief dadelik te kom. Sy seun sterf! Hierdie hooggeplaaste stort sy hart uit voor Jesus.

Maar steeds sien ons dat Jesus nie doen wat die man vra nie. Hy gaan nie saam met die man om vir die kind hande op te lê of die een of ander teken te gaan doen nie. Die mense het geglo dat ‘n geneser die sieke moet aanraak, sodat sy krag van hom af kan vloei na die sieke toe. Jesus se krag is egter nie afhanklik van aanraking nie. Hy toets die man se geloof nog verder, en Hy stuur bloot die man terug huistoe. Die amptenaar moes maar net glo dat sy seun sou leef. Wat het in sy gedagtes omgegaan terwyl hy die lang pad huistoe begin stap? Vir hom het daar twee dae voorgelê, twee dae waar hy maar net kon hoop en probeer glo voordat hy by die huis sou wees. Twee dae waarin sy senuwees hom sou opvreet!
Maar op daardie presiese oomblik het die kind gesond geword, so verneem die amptenaar later van sy werksmense.

Daar was egter ‘n bonus, ‘n baie groot bonus. Hierdie ondervinding het die man en sy gesin so aangegryp, dat die hele gesin gelowig geword het. “Hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom”, lees ons in Joh. 4:53.

Ek en jy word dikwels ook soos hierdie amptenaar getoets. Daar is ‘n saak waarvoor ons bid, en dan kom die antwoord dat die Here ons gebed verhoor. Maar dan volg die lang pad “huistoe” waar niks gebeur nie, en jy wonder of die Here ooit onthou het van jou gebed. Hierdie is nie ‘n maklike pad nie! Jy het twee keuses: jy kan die hele pad loop en jou siek bekommer of die Here ooit van jou onthou, of jy kan loop en jubel, in die wete dat jy op Hom kan vertrou, al lyk alles op hierdie oomblik totaal verlore.
Ek weet hoe moeilik daardie pad is. Ek het hom al verskeie kere geloop, en op die oomblik loop ek hom alweer. Die versoeking is baie groot om in die donker put van depressie in te sak, en jou probleme met die wêreld te deel. Positiewe vertroue in Hom, en ‘n uitleef van ware blydskap, is al wat jou op daardie pad staande kan hou.

Here, ek glo en ek vertrou op U beloftes, al sien ek nog niks. Here, gee my die krag om staande en vol vreugde te bly, asseblief! In Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 143 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *