Johannes 8:12-20

‘n Geseënde lewe gebeur nie net sommer nie, dit vereis daaglikse gebed, menslikheid, opoffering en harde werk.

By die Lig van die Kampvuur – Johannes 8:12-20

Ons sit om ‘n heerlike gesellige kampvuurtjie. Dit is laataand, en die vuurtjie knetter en vlam op as ek die laaste paar kurkdroë sekelbostakkies opgooi. ‘n Heerlike geur van egte boskruie vul die lug. Die warm vlammetjies van ons vuurtjie verlig die bos rondom ons in ‘n snoesige, warm gloed. Al die duisternis om ons word verdryf. Alles is mooi en stil en vreedsaam. Al wat ons hoor is die vuurtjie wat so heerlik gesels.

Maar dan begin die dun takkies uitbrand, en al wat oorbly is ‘n dik stomp wat hardnekkig nog klein blou vlammetjies optower. Ja, die kole gloei nog rooi, maar die vuurtjie is uitgebrand. ‘n Doodse stilte sak oor ons toe. Skielik kom ons agter hoe donker en dreigend die bos rondom ons werklik is. Ek hoor ‘n takkie kraak. Ons probeer kyk of ons iets sien, maar die duisternis is oorweldigend. Vrees omklem my hart – wat kan dit wees? Dalk ‘n luiperd? Dalk ‘n leeu? In die verte klink die onheilspellende klaaglied op van ‘n hiëna. ‘n Koue rilling gaan langs my ruggraat af. ‘n Nag in die bos kan angswekkend wees, veral as die pikdonker duisternis jou oorval.

Solank ‘n kampvuurtjie helder brand, voel jy veilig. Die vuurtjie wat knetter verdryf nie alleen die duisternis nie, maar ook die ander onheilspellende bosgeluide. Wanneer die vuurtjie doodgaan begin jy allerhande dinge hoor wat jou bang maak. Presies dieselfde geld vir jou geestelike lewe.

Die tema van lig en duister kom keer op keer voor in Johannes se Evangelie. Hier sien ons weereens dat Jesus vir Sy hoorders sê dat Hy die Lig vir die wêreld is. Wie Hom volg sal nooit in die duisternis lewe nie. Lig was in daardie tyd ‘n algemene Godsdienstige beeld om die kontras tussen goed en kwaad aan te dui. Mense was in daardie jare afhanklik van klein olielampies om lig te maak wanneer dit begin donker raak. As jy ná donker nog enigiets wou doen, moes jy ‘n lampie gebruik, anders knoei jy. So ‘n lampie het dus sin gegee aan ‘n mens se lewe. Terselfdertyd was die duisternis weer gebruik as dekking vir bose dade. As ‘n rower jou goed wou vat, het hy dit in die donker gedoen om sy identiteit weg te steek asook om jou onverhoeds te betrap.

Duisternis word ook in dieselfde lig gesien as blindheid. Het jy al ooit deur die rowwe veld probeer stap in ‘n pikdonker nag sonder ‘n flits? Dit laat jou voel hoe dit moet wees om blind te wees. Ek onthou ‘n geleentheid by Debrug in die Vrystaat, waar ‘n klompie van ons Weermag troepe so ‘n staptog meegemaak het. Miershope, klippe en grensdrade het hulle tol swaar geëis, en na daardie aand was daar talle bloukolle en nerf-af maermerries.

Wanneer Jesus dus sê dat Hy die Lig is vir die wêreld, dan is daar ‘n paar gedagtes wat na vore kom. Die eerste vraag is of ek daardie Lig in my lewe het? Daarsonder is ek geestelik blind, en gaan elke liewe klippie in my pad my hard met moeder aarde laat kennis maak. Sonder Jesus se Lig is dit pikdonker rondom my, en is ek in die mag van die bose. Dan is dit soos om sonder ‘n vuurtjie in die bos te sit, en die leeus en ander kriepiekrôlies hier rondom jou te hoor. Angswekkend!

Met Jesus se Lig in my lewe is dit egter anders. Dan hoef ek nie die donker van die bose te vrees nie. Maar dit is ook die plig van my as gelowige om Jesus toe te laat om Sy lig in my te laat skyn. In die bos gloei die kole van my kampvuur alreeds. Om egter ‘n knetterende vuurtjie te hê, verg van my om hout en takkies op te gooi. In my geloofslewe is dit presies dieselfde: Om Jesus toe te laat om Sy Lig helder te laat skyn, verg van my om die hout en takkies van “goeie werke” op te gooi. Wat beteken dit? In die eerste plek om my liefde uit te leef teenoor my medemens. Maar terselfdertyd beteken dit ook dat ek my verhouding met Jesus sal koester. Dit doen ek onder meer deur ‘n gesonde gebedslewe asook ‘n gedurige honger na die Woord. ‘n Mens kan nooit ophou leer uit die Woord nie. Ek het oor die afgelope week dinge ontdek uit die Woord wat ek nooit geweet het nie, en ek het gedink dat ek darem ‘n bietjie kennis het!
Ons kan baie leer uit ‘n kampvuur. Hy begin met ‘n hoop dun takkies wat vinnig opvlam en ‘n helder lig gee. Maar hulle brand gou uit, en dan moet jou vuur weer gestook word. So is dit met iemand wat nuut in die geloof is: Daar is nog nie werklik ‘n basis nie, en sy geloof verflou maklik as dit nie gestook word nie. Maar soos die aand vorder en daar al baie hout gebrand het, vorm dit ‘n warm basis van kole, wat net ‘n paar takkies verg om dit weer vrolik te laat brand. Net so vorm jou kennis ‘n stewige basis vir jou geloof, wat sorg dat dit maklik kan opvlam. As jy egter nie hout opgooi nie, gaan die kole weldra koud word, en so ook met jou geloofsvuurtjie. As dit nie gedurig gestook word nie, gaan dit stadig koud word.

Stook dus vandag daardie kampvuurtjie van jou geloof, sodat Jesus se lig helder deur jou kan skyn en die duisternis van die bose kan verdryf.

Here, ek wil U lig laat skyn in my lewe. Help my om te onthou om dit gedurigdeur te stook, in Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 102 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *