Joshua 24:14-18: “

BELANGRIKSTE.

Joshua 24:14-18: “…kies dan vir julle vandag wie julle wil dien…maar ek en my huis, ons sal die Here dien” (vs. 15).

As dinge vir ons te veel word en ‘n dag se 24 ure is te min om alles te doen wat nodig is, moet ons die storie van die mayonnaise-bottel en die twee koppies koffie onthou, sê Dick Krüger vir ons. Dan vertel hy van die professor wat voor sy filosofieklas staan en ‘n groot mayonnaise-bottel in sy hande hou. Woordeloos begin hy die bottel vol golfballetjies pak. Hy vra vir die klas of hulle saamstem dat die bottel nou vol is. Ja, hulle stem saam. Hy neem ‘n dosie vol albasters en gooi dit in die bottel, en dit rol in die holtes in. “Is die bottel nóú vol?” wil die professor voorts weet. “Ja,” stem die studente saam, “nou is hy vol.” Die professor tel ‘n doos vol sand op en gooi die sand tot bo in die bottel. “Is die bottel nóú vol.” Die studente stem eenparig saam, nou ís die bottel vol. Van onder die tafel bring die professor twee koppies koffie te voorskyn. Hy gooi altwee koppies koffie in die bottel, en dit sypel in die sand en tussen al die holtes in. Die studente lag. “Goed,” sê die professor toe die gelag bedaar, “ek wil hê julle moet elkeen die bottel as ‘n beeld van sy lewe beskou. Die golfballe is die belangrike dinge in die lewe: jou gesin, jou gesondheid, jou vriende, jou voorliefdes. As alle ander dinge vergaan en hierdie dinge bly, sal jou lewe steeds sinvol wees. Die albasters is die ander dinge wat ook saakmaak: jou beroep, jou huis, jou motor. Die sand is al die ander dinge, klein goedjies wat die lewe kan vol maak. As jy die sand eerste ingegooi het, sou daar nie plek gewees het vir die albasters, en nog minder vir die golfballe, nie. Gee aandag aan die dinge wat regtig belangrik is vir jou geluk. Bring tyd deur by jou kinders, by jou ouers, besoek jou grootouers, maak tyd vir roetine, mediese ondersoeke. Daar sal altyd nog tyd wees om die huis aankant te maak, die vullis te verwyder, tuinwerk te doen, koerant te lees, TV te kyk. Sorg vir die golfballe, die dinge wat regtig saakmaak. Besluit wat voorrang in jou lewe moet kry. Die ander dinge is die sand. Dit sal wel insypel.” Een van die studente steek sy hand op. “En die koffie?” Die professor glimlag. “Ek is bly jy vra. Die koffie wys dat hoe besig ‘n mens se dag ook mag wees, daar is altyd nog tyd vir ‘n koppie koffie saam met ‘n vriend.”

Dit is ‘n waardevolle storie, dink ek. Ons ervaar ‘n mens se dag kan so vol raak met algemene dinge, dat belangrike dinge uitbly. Ek is net spyt die professor het nie eerste ‘n tennisbal ingesit en toe golfballe, albasters en sand nie. En dan vir die student gesê, belangrikste bo alle ander dinge is ons omgang met God. As ons nie doelbewus tyd maak vir ons gebedslewe en die lees van God se Woord nie, kry ons nie daarvoor tyd nie. Hoeveel keer sê iemand nie: “Ek het vandag regtig nie tyd gekry om te bid of my Bybel te lees nie.” Dit is onuitspreeklik voordelig vir ‘n mens om die dag op die knieë en by die oop Bybel te begin. “Versadig ons in die môre met U goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae” (Psalm 90:14, Ou Vertaling).

Here, vandag wil ek U eerste stel in my program.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 93 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *