Efesiërs 4:1-10

Trots op jou pak, al het jy dit nie verdien nie?

Ek was nie die soetste outjie op skool gewees nie. Inteendeel! Ek het soms dinge aangevang waar ek erg die grense getoets het. Neem nou maar die debataand toe ek my Afrikaanse juffrou se kar se band afgeblaas het. My vriende sê dit was meer as een, maar ek kan dit nie onthou nie.

Wat ek wel kan onthou, is dat dit sommer in die eerste klas was wat ek die hoof my naam oor die interkom hoor brul en dit was nie ‘n stem wat iemand wou uitnooi na ‘n teepartytjie toe nie. In die kantoor is daar nie baie gepraat nie. Net ses van die bestes – klipharde bestes.

Terug in die klas kon ek nie lekker op die bank sit nie, maar ek het myself heeltyd daaraan getroos: Jy het dit verdien. Ja, boontjie kry sy loontjie.

Weens my track record van grense toets was daar egter tye waar ek noodwendig skuld gekry het vir verkeerde gebeure in die skool waarmee ek niks te doene gehad het nie. En dis ‘n ding wat ek glad nie kon vat nie. Moenie my vals beskuldig nie. Dan het ek soos ‘n maer vark te kere gegaan. Ek sal my pak met ‘n glimlag vat as ek verkeerde dinge gedoen het, maar as dit nie ek was nie, was ek nie bereid om vir ‘n ander ou se pak in te staan nie.

En vir Paulus maak dit nie saak nie. Hy sit doodluiters in die tronk, nie dat hy eintlik iets verkeerd gedoen het nie en hy is so blasé daaroor: Ek sit hier in die tronk omdat ek vir die Here werk. Dit wys hoe ernstig ek oor hierdie dinge is, en juis daarom vra ek julle mooi: leef so dat God trots kan wees dat Hy julle na Hom toe geroep het.

Ek sien myself in Paulus se skoene. Ek sien hoe ek met die intrapslag sommer hardop bid: Here, ek werk my as af vir U en nou dit? Ek het dan niks verkeerd gedoen nie, maar nou word ek soos ‘n groot misdadiger behandel. Kyk hier. Water en ‘n stukkie droë brood. Is dit wat ek verdien vir al my harde werk? Ag nee wat…

Paulus is egter rustig. Nee, nog meer: Hy berus hom daarby. Hy besef dat hy nie nou die groter prentjie sien nie en dis fine, want hy weet dit wat vir ons soos die einde lyk is vir God die begin van nuwe, groter planne. Ek wonder altyd of Paulus die briewe wat vandag vir ons van soveel waarde is, sou skryf as hy nie in die tronk was nie. Sou hy nie net op nog ‘n volgende skip geklim het en na nog ‘n ongeredde land gevaar het om die evangelie te gaan uitdra nie? Dit was tog sy passie, nè.

Paulus weet God is in beheer en hy kou met groot smaak die toffie wat die wêreld nou weer na hom gegooi het. Hy gaan sit nie in sak en as nie. Nee, hy maak die beste van die swak omstandighede. Hy gebruik die tyd om briewe te skryf wat in die jare na hy al lankal uit die tronk is, baie jare na sy dood ander sal help om God te ontmoet en werklik te ken.

Paulus is ernstig oor sy roeping en vat enige curve ball wat na sy kant toe gegooi word en slaan dit met passie terug, want hy weet en vertrou God se groter prentjie, al kan hy dit nie aldag sien. Al voel dit soms vir hom of dit totaal en al onregverdig is en dat hy dit nie verdien nie, glo hy dat God die negatiewe sal omdraai in ‘n positief.

Hy mag ons vra en ons uitdaag om ook ons roeping ten alle koste te gaan uitleef. Ja, ons word eintlik voor die bors gegryp en nou is dit jou beurt om te antwoord: Is God trots op jou? Is Hy trots op hoe jy jou roeping uitleef? Is Hy trots op die manier wat jy jou pak vat, al het jy dit nie verdien nie?

Teks:
Efesiërs 4:1-10
Om oor na te dink
Is God trots op jou?
Is Hy trots op hoe jy jou roeping uitleef?
Is Hy trots op die manier wat jy jou pak vat, al het jy dit nie verdien nie?

Ai, Vader. Eintlik moet ek my kop so-effe laat sak, want al lewe ek in ‘n gemaksone, is ek soms so ontevrede. Jammer dat ek nie sterk staan nie. Jammer dat ek te veel kla en te min doen. Ek wil U droom vir my lewe uitleef. Amen

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 102 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *