Efesiërs 4:29

Dis die ref se skuld… Dis die ref se skuld…

Daar was al baie kere in my lewe waar ek dinge gesê het wat kon gebly het. Soos wat die woorde hier by my mond uitglip, besef ek dat dit nou nie die regte ding is om te sê nie en dan wil ek hulle een vir een gryp om terug in my mond te druk, maar helaas, dan is dit klaar te laat en die skade is gedoen.

Ek staan een keer langs die rugbyveld by ‘n grand skool in die Springs. My seun speel. Dit was eintlik nie my skuld nie en ek het wraggies my bes probeer om alles hier binne my te hou, maar ai, die ref het ‘n goeie game gemis. Ek weet nie hoekom die skool nie eerder eksterne ouens kry om te blaas nie – nog petrol op die vuur. En ja, toe was dit so. Met die volgende dom fout (in my oë) het ek ‘n paar dinge oor en van die skeidsregter gesê. Ai. Ek moes na die game vir die vriend wat langs my gestaan het om verskoning gaan vra…

Efesiërs 4:29… As julle iets sê, moet dit iets wees wat die moeite werd is om te sê en vir ander iets beteken. Kyk wat nodig en goed is om in die omstandighede te sê en sê dit dan.

Die lewe is nie maklik nie. Verhoudings is nie maklik nie. En die “nie maklik” goeters werk op ‘n mens se spiere en as jy nog ‘n hoop emosies en kort lonte daarby gooi, is dit ‘n goeie resep vir dinge sê wat maar kon gebly het. En dan wil ons dit as verskoning gebruik hoekom ons so gereageer het. As die ref net… As my eggenoot net… As my baas net… As my kind net… Dan sou ek nie so afgegaan het nie.

Tog lê die verantwoordelikheid wat by my mond uitkom nie by die omstandighede wat my tref nie. Dit lê by my. Ek moet beheer oorneem. Ek moet sorg dat dit wat hier in my opborrel nie my mond aan die brand steek nie. En nee, dit is nie so maklik nie. Wanneer die emosies so opborrel en ek al soveel keer daaroor gepraat het, kos dit baie energie om nie self oor te borrel nie.

Dit bly my verantwoordelikheid om maniere te kry sodat dit wat hier by mond uitgaan, opbouend en nie afbrekend is nie. Ek moet seker maak dat dit wat hier uitkom “die moeite werd is” vir ander om iets mee te maak. En hier het ons elkeen ‘n klomp wysheid nodig. Ons moet ‘n situasie baie vinnig kan opsom om te sien of dit nou die regte tyd is om te sê wat gesê moet word. Dalk moet ons eers ‘n blaaskans vat. Dit is nie nou ‘n goeie tyd om vir jou eggenoot te sê hy of sy praat te hard nie. Dis petrol op die vuur en die volumeknoppie gaan heel waarskynlik net nog harder gedraai word.

Elke keer voor ‘n mens praat moet jy seker maak dat die grond reg voorberei is. Soms is dit beter om net eers stil te bly en te wag dat die emosies gaan lê het. Leer jouself ken. Leer watter dinge vryf jou verkeerd op en probeer ‘n afstand daarvan kry. Gryp die wysheid aan en stap eerder eers ‘n draai of vat ‘n dag af sodat die storm eers kan gaan lê. Wanneer die omstandighede dan gunstiger is, raak die issue weer aan.

Ons elkeen moet sorg dat ons nie vuur spoeg nie. Dit bly ons verantwoordelikheid om te keer dat ons tonge nie messe word nie. Kry vir jou soldaatjies om te keer dat jy verkeerde dinge sê. Leer vir jou ander maniere aan en sorg dat jy ander opbou, eerder as afbreek.
En ek en rugby? Deesdae staan ek daar doer agter en praat net met myself…
Efesiërs 4:17-32
Om oor na te dink
Hoe reageer jy as die dinge nie werk soos jy wil hê dit moet werk nie?
Bou jy op?
Breek jy af?

Here, ek moet bieg dat daar tye kom waar ek sukkel om in beheer te bly. Tye wanneer ek dinge sê en doen wat nie opbou nie. Ek wil nie afbreek nie, Vader, maar op my eie is ek te swak. Ek het versterkings nodig in Jesus Naam. Amen

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 106 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *