Johannes 10:22-42

Die grootste plesier in die lewe is om iets te doen wat mense vir jou gesê het jy nie sal kan doen nie.
Hardkoppige Ongeloof. Johannes 10:22-42

In Jerusalem was dit winter. Saam met die winter het een van die Jode se groot feeste gekom: die fees van die tempelwyding. Dit het terugdateer na die jaar 164 vC. Sirië was daardie tyd die wêreldheerser, en Israel was in sy greep. Aan die hoof het ‘n man gestaan met die naam Antiochus Epifanes, ‘n Goddelose despoot. Epifanes was nie oorspronklik deel van sy naam nie. Hy het dit self bygevoeg. Dit beteken “geopenbaarde god”. Boonop het hy die liederlikste, Godslasterlike dinge van God gesê. Om die Jode ‘n les te leer, het hy die tempel onteer deur ‘n beeld van Zeus in die tempel te laat oprig. Hy het selfs ‘n vark op die altaar geoffer. In die winter van die jaar 164 vC word die tempel weer in gebruik geneem nadat Judas Makkabeus die vyand verdryf het. Daarna hou die Jode elke jaar in die middel van Desember die Fees van die Ligte, Chanoeka om die wyding van die tempel te herdenk. Terloops, hierdie Chanoeka fees van die ligte word in dieselfde tyd as ons Kersfees gevier.

Dit was tydens hierdie groot feestelikhede, dat Jesus in die tempel was. Die Jode drom om Hom saam. Nou soek hulle ‘n reguit antwoord: is Hy die Christus of nie? Hoeveel keer het Jesus alreeds vir hulle die antwoord gegee? Maar steeds hoor hulle nie wat Hy sê nie. “Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie”, sê Jesus moedeloos. Kan hulle net eenvoudig dan nie verstaan nie?

Vandag hoef ek en jy nie moedeloos te raak as ons die evangelieboodskap aan iemand oordra, en hy het eenvoudig hardkoppig geweier om te verstaan of te glo. Selfs Jesus het hierdie probleem gehad!
Jesus verduidelik vir die Jode deur weereens die beeld te gebruik van skape. Sy skape staan in ‘n spesiale verhouding met Hom. Hulle ken Sy stem en hulle volg hom. Soos ‘n goeie Herder, sorg Hy vir hulle. Hy gee hulle selfs die ewige lewe. Hy beskerm hulle met Sy lewe, en niemand sal hulle van Hom kan steel nie. Hy hou hulle styf vas. Waarom kan Hy dit doen, en hoe kry Hy dit reg om so sterk te staan? Die Vader het hulle vir Hom gegee, en natuurlik is die Vader almagtig. Maar meer nog: Jesus en die Vader is Een. Jesus identifiseer Homself dus baie intiem met die Vader.

Wat beteken dit vandag vir ons as Jesus sê dat Hy en die Vader een is? Nee, dit beteken nie dat Jesus die Vader is nie. Hy word nie die Vader nie. Jesus bly die gestuurde Seun. Hulle is egter een omdat hulle een wil het. Hulle belange is dieselfde – dit vloei saam. Die eenheid tussen Vader en Seun is ‘n eenheid van wil asook van dade. Dit impliseer natuurlik ook dat Jesus waarlik God is. Hy is deel van die Goddelike Drie-Eenheid. En dit weerlê die beweringe van die Jehovah’s Getuies, dat Jesus nie God is nie, maar slegs ‘n Goddelike wese.

Natuurlik het die Jode baie goed begryp wat Jesus gesê het. Dit was in hulle oë niks minder nie as Godslastering, want hiermee wil Jesus Homself as God verhef. Hulle tel dan sommer ook klippe op om Hom dood te gooi. Eintlik is dit bitter ironies, want absoluut alles wat Jesus gedoen en gesê het, het daarop gewys dat Hy waarlik God is. Uit Hom het slegs liefde en goeie dinge gekom, maar daarvoor is hierdie manne totaal blind. “Oor watter een van hierdie goeie dinge wil julle My stenig?” vra Jesus hulle. Hulle steur hulle egter nie aan wat Jesus sê nie. Hy moet dood omdat Hy Godslasterlike bewerings maak.

Nou kom Jesus met ‘n meesterlike argument, en Hy haal aan uit Psalm 82:6, waar die regters veroordeel word. Hier sê die Here vir hulle dat hulle almal gode is omdat hulle goddelike uitsprake moet maak. Hulle moet dus vir God aanhaal en daarom behoort hulle Hom baie spesiaal te ken. Hulle verteenwoordig Hom as’t ware op aarde. As hulle “gode” was, dan soveel te meer is Jesus God. Hy sê dit nou wel nie in soveel woorde nie, maar die implikasie is daar! As die Jode Psalm 82 lees, dan kan hulle Jesus nie skuldig vind nie, want alles wat Hy gesê het is korrek volgens die Skrif en daarmee durf hulle nie stry nie. Nou is hulle in ‘n hoek gedryf.

Ai! As die Jode maar net Jesus se woorde en dade wou bymekaarbring. Dan sou hulle tot die besef gekom het dat Jesus en die Vader deel is van die Drie-Eenheid. Maar alles help net mooi niks, want hierdie Jode is beslis nie van Jesus se skape nie, en hulle herken dus gladnie Sy wonderbare stem nie. Hulle soek net één ding: Jesus se dood! Voordat hulle Hom egter kan gryp, ontglip Hy hulle. Hy vertrek uit Judea na Perea, ‘n landstreek oorkant die Jordaan.

Hoe tragies dat die Jode – Sy eie mense – vir Jesus laat gaan het. Hulle het Hom gehoor en hulle het die wonderlike dinge gesien wat Hy gedoen het, maar hulle wou Hom nie aanvaar nie, wou nie in Hom glo nie. Met die mense van Perea was dit egter anders: Hulle het alles onthou wat Johannes die Doper oor Jesus gesê het, en dit was vir hulle genoeg om Jesus ten volle te aanvaar en glo. Hy het nie eers nodig gehad om dit met wondertekens te bewys nie. Aan hulle het Hy die ewige lewe gegee.

Here Jesus, ek bid vanoggend vir elkeen wat U woord gehoor het maar steeds onverskillig daarteen bly. Open asseblief hulle oë Here.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 136 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *