Mattheus 23-24

MAAK EERS VREDE.

LEES: Mattheus 23-24: “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”

Vergifnis is iets wat vir God baie belangrik is, want alleen waar daar vergifnis is, kan daar vrede wees. As dit nie was dat Hy ons vergewe het vir ons sondes nie, wat sou van ons geword het? En omdat Hy vergifnis gee waar dit nie verdien word nie, verwag Hy van ons dat ons ander ook sal vergewe. Wat interessant is in hierdie gedeelte, is dat Jesus nie sê jy moet gaan vrede maak as jý iets teen iemand het nie. Nee, Hy sê jy moet gaan vrede maak as iemand anders iets teen jóú het! Jý is dus die een wat in nederigheid om verskoning moet gaan vra en weer vrede moet bewerkstellig.

Hebreërs 12:14 sê: “Jaag die vrede na met almal…”. Om in vrede met ander te leef is tog baie lekkerder as om heeltyd met mense te baklei en vir mekaar kwaad te wees. Dit is soveel beter om die minste te wees, om verskoning te gaan vra en die vrede te herstel. Toegegee, dit is nie altyd maklik nie en soms wil die ander persoon nié vrede maak nie, maar dan weet jy ten minste dat jy van jou kant af God se opdrag uitgevoer het en dat dit nou in Sý hande is om die ander een te oortuig dat hy moet vergewe.

Is daar iemand wat iets teen jou het? Los dan alles en gaan maak eers vrede. Dit is vir God belangriker as die ‘gawe’ wat jy na die ‘altaar’ toe bring!

Here, dit is nie altyd maklik om die minste te wees en vrede te maak nie. Help my asseblief om gehoorsaam te wees aan U opdrag, in Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 67 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *