1 Korinthiërs 15:3-8

JESUS: VANDAG EN DIE TOEKOMS.

Alhoewel die Bybel as God se Woord ons van Jesus se dood vertel, lewe Jesus vandag. Honderde mense wat in die eerste eeu gelewe het, was ooggetuies van die feit dat Jesus uit die dood opgewek is – 1 Korinthiërs 15:3-8. Jesus het daarna aan Sy Vader se regterhand gaan sit en gewag om koninklike mag in die hemel te ontvang – Psalm 110:1 en Hebreërs 10:12-13.

Baie mense dink aan Jesus as ‘n baba in ‘n krip. Ander mense dink aan Hom as ‘n man wat gely en doodgemaak is. Jesus is vandag die Magtige, Heersende Koning – Openbaring 19:16. In Openbaring 19:11-15 sien ons ‘n beskrywing van hoe Koning Jesus met groot krag kom om die goddeloses te vernietig. Ons liefdevolle Hemelse Heerser is gretig om die lyding van biljoene mense te beëindig, asook om hulle te help wat Sy volmaakte voorbeeld probeer volg, wat Hy gestel het toe Hy op aarde was – 1 Petrus 2:21.

Jesus se wederkoms en ons wegraping na Hom toe word voorspel in Psalm 73:24, Lukas 17:34-36 en 1 Thessalonisense 4:16-17. God se kinders, wat Sy werk op aarde verrig het, kan soveel as ses krone kry:
* Die kroon vir almal wat uitsien na Sy koms, die lewe by God – 2 Timotheus 4:8.
* Die kroon vir mense wat in versoeking standvastig bly – Jakobus 1:12.
* Die kroon vir mense wat die kudde van God goed opgepas het – 1 Petrus 5:2-4.
* Die kroon vir mense wat tot die dood getrou gebly het aan God – Openbaring 2:10.
* Die kroon vir almal wat siele vir God se Koninkryk gewen het – 1 Thessalonisense 2:19.
* Die kroon vir almal wat die ou natuur oorwin het – 1 Korinthiërs 9:24-27.

Jesus wil God se kinders deur die “Armageddon” (Oorlog op die groot dag van God, die Almagtige) bewaar, sodat hulle vir ewig as aardse onderdane van God se hemelse Koninkryk kan lewe, soos gesien kan word in Openbaring 7:9,14 en Openbaring 16:14,16. Ons as Jesus se bruid staan vlekkeloos voor Hom, omdat ons duur gekoop is deur Sy kosbare bloed.

Gedurende Jesus se voorspelde duisendjarige Heerskappy van vrede, sal Hy wonderwerke vir die hele mensdom verrig, soos gesien kan word in Jesaja 9:5-6 en 11:1-10, asook Openbaring 20:6. In hierdie tydperk sal Jesus alle siektes genees en ‘n einde aan die dood maak. Hy sal biljoene dooies opwek, sodat hulle ook die geleentheid het om vir ewig op die aarde te lewe, soos Johannes 5:28-29 ons leer. Ons kan ons nie voorstel hoe wonderlik ons lewe onder Koning Jesus se heerskappy sal wees nie. Dit is dus belangrik om Christus Jesus beter te leer ken. Hy wil ‘n intieme, persoonlike en lewende verhouding met elkeen van ons hê.

Here Jesus, ek erken U as die Weg, die Waarheid en die Lewe. Dankie dat ek saligheid in U gevind het. Ek loof, eer en prys U grote Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 69 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *