Efesiërs 5:1-5

Vir my die pak gevat – Efesiërs 5:1-5

Die Bybel is darem dinamies, nè. Dis nou al amper 2000 jaar oud en die mens kan dit nog nie 100% vasgevang kry nie. Daar is soveel verskillende interpretasies, soveel verskillende opinies. Mense raak selfs heftig om hulle sienings te verwoord. Ek dink nie die Bybel gaan ooit opraak nie. Mense sal dit nooit alles 100% reg kan verstaan nie. Dit is juis vir my ‘n teken dat hier meer as net mense betrokke was. Ja, dit is deur God geïnspireer en die Heilige Gees het ‘n groot aandeel daarin.

As ek dan sou vra dat elkeen die evangelie vir my in een teksvers moet saamvat, sal ek vir seker baie verskillende verse kry. Vir my som Efesiërs 5:2 dit mooi op: Hy het ons so liefgehad dat Hy sy lewe tot ons voordeel gegee het. Hy het Homself geoffer en God het die offer aanvaar as betaling vir al die skuld wat ons met ons sondes gemaak het.

Dit is die kruks van die hele Bybel. Dit is waaroor die lewe, die hele wêreld gaan. God se liefde was net te groot. God se liefde het so oorgeloop vir die mens dat Hy nie anders kon as om homself as offer aan te bied vir betaling van al ons sondes nie. Hy het self deur Jesus aan ‘n kruis vir ons sondes betaal.

Eintlik is dit verregaande. Waar sal die hoof van ‘n skool sy pos, sy huis, sy kar of selfs sy lewe gee vir ‘n stout kind, net sodat die kind ‘n kans op die lewe kan hê? Waar sal ‘n groot besigheidsman sy alles gee vir ‘n werknemer wat lui is, laat opdaag vir werk en die heeltyd ‘n plek soek om niks te doen nie? Waar sal die president homself aan ‘n galg laat hang, sodat die tronkvoëls vry kan vlieg?
Tog doen God dit. God kom neem die rekening wat ons met ons dade opgejaag het uit ons hande. Hy vat die pak vir ons verkeerde dade.

Ek sreek skoolkinders by ‘n skool in die Springs toe en ek wil die punt binne hulle verwysingsraamwerk laat grondvat. Ek vertel dat ek nie op skool altyd so soet was nie. Ek onthou dat ek en my vriende een debataand buite rondgeloop het. Om een of ander rede, wat ek nou nog nie weet nie, besluit ons om ons Afrikaanse juffrou se kar se wiele af te blaas. Ai, tog!

Die volgende oggend het die eerste klok skaars klaar gelui toe my naam oor die interkom uitgebasuin word. Ek moes kom buk vir 6 houe – hulle het nie vrae gevra nie en ek het ook nie vrae gevra nie.
Om Jesus se daad aan die kruis te kontekstualiseer, verduidelik ek vir die kinders dat terwyl ek gewag het vir die eerste hou om te val, hoor ek die hou, maar ek voel niks. Verbaas draai ek om om te sien wat aangaan. Dan sien ek hoe die hoof besig is om vir iemand anders my straf uit te deel. Iemand anders is besig om my pak te vat. Ek was die een wat die wiel afgeblaas het. Ek het die oortreding gedoen, maar iemand anders vat die pak. As die laaste van die ses houe val, sien ek dis Jesus. Jesus vat die pak in my plek.

Dit is presies wat Jesus aan die kruis doen. Jesus dra die straf. Jesus vat die pak wat ek eintlik moes gevat het vir die sondes wat ek so lekker staan en doen. Jesus se bloed moes vloei, sodat my sondes uitgevee kon word.

Sjoe, hoe dankbaar moet ons nie wees vir ‘n God wat ons so liefhet nie?
Laat hierdie middelpunt van die boodskap van die Woord van God die middelpunt van ons lewe word en mag ander dié boodskap deur ons lewe lees en ervaar!

Glo jy in God se liefde?

Glo jy dat Jesus in jou plek die pak gevat het?

Sien ander die boodskap in jou lewe raak?

God, Almagtig, hoe sê ‘n mens dankie vir U onselfsugtige daad? Dankie, dankie, dankie dat U in my plek die pak vat vir al my sondes. Ek wil ‘n lewe leef waar ander hierdie genade wat ek ontvang het, ook kan ervaar. Alles net uit dankbaarheid in Jesus Naam! Amen

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 150 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *