Galasiërs 3:26-29

Multivrugteboom
Galasiërs 3:26-29

Deur die doop word ons almal met Christus verenig, sê Paulus in Galasiërs 3:28. Dit is soos om ingeënt te word. In my jong dae was daar nie allerhande dinge soos TV, selfone en tablette om mense besig te hou nie. Dit was eenvoudige dinge wat vir vermaak gesorg het. Een van die baie gewilde aktiwiteite was om takkies van verskillende soorte vrugtebome op een boom in te ent. Die onderpunt van ‘n jong loot word versigtig in ‘n “V” gesny. Aan die moederboom word daar ‘n keep gesny in ‘n takkie, wat presies dieselfde vorm en grootte het as die “V” van die loot, en dan word die loot in die keep aan die moederboom ingedruk en styf vasgebind. Daar moet volkome versoening wees tussen die twee plante.

Lewegewende sappe van die moederboom vloei deur die vate van die loot en voed hom. Uiteindelik groei hy heeltemal daar vas en vorm hulle ‘n eenheid, en kan hierdie loot selfs vrugte dra. So sou jy uiteindelik ‘n geelperskeboom kry wat pruime, appelkose, lospitperskes en ‘n verskeidenheid ander vrugte dra.

Op dieselfde manier word ons deur die doop “ingeënt” op Jesus Christus om uiteindelik totaal een met Hom te word, en saam met Hom te groei tot één geestelike boom. Net soos met die multivrug boom van ouds, is daar ook in hierdie geestelike boom ‘n verskeidenheid van “vrugtelote”. Nie alleen is daar ‘n verskeidenheid in kultuur en ras nie, maar ook in verskillende aanbiddingstyle: NG, AGS, Methodiste, Anglikane, Baptiste, Volle Evangelie – noem maar op. Daar is ‘n ryke verskeidenheid van uiteenlopende sieninge en denominasies, maar almal het één ding in gemeen: almal groei aan dieselfde “Boom”, Jesus Christus, en almal is onlosmaaklik deel van daardie selfde “Boom”.

‘n Vraag wat dikwels gevra word is, watter van daardie lote is nou eintlik die belangrikste? In Paulus se tyd was mans die belangrikste wesens op aarde. Vrouens was etlike trappe laer. Kinders was net so ‘n klein trappie hoër as die slawe, wat natuurlik nie veel meer status gehad het as blote eiendom nie. Die Jode het hulleself weer as verhewe bo enige ander volk gesien, en as jy besny was, dan was jy ook ‘n trappie hoër as die onbesnedenes. Paulus wil dit baie duidelik stel dat as jy in Christus is, dan is almal presies gelyk. Die deurslaggewende faktor is of jy in Christus glo of nie.

Vandag durf ons ook nie onderskeid maak deur een persoon hoër as die ander te ag nie. In die kerk van Christus mag daar nie so ‘n ding wees soos diskriminasie nie. Natúúrlik mag daar verskille wees, maar elkeen moet die ander respekteer en as ‘n gelyke sien, en nooit as minderwaardig nie, maar deel van daardie “Boom”, Jesus Christus.

Dankie dat U my ook deel gegee het aan U wonderlike “vrugteboom”, Here.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 116 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *