Johannes 15:5

AFHANKLIKHEID.

Johannes 15:5: “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra veel vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.”

Ek hoor nou die dag van ‘n Chinese pastoor, wat ‘n huiskerk in China bedien, wat vir ‘n week saam met sy vrou in Amerika by ‘n Amerikaanse pastoor gaan besoek aflê het. Na die week se besoek maak die Chinese pastoor die stelling dat dit só goed gaan in Amerika, dat mense maklik vergeet om te bid. Hy sê dat dit baie swaar gaan met Christene in China en dat hulle absoluut weet dat hulle elke dag op elke terrein van hulle lewens, totaal van God afhanklik is. Maar in Amerika is daar ‘n oorvloed van alles en mense vergeet maklik dat hulle van God afhanklik is, met die gevolg dat daar maar min gebid word. Sy skok was groot toe hy besef dat hy sélf gedurende daardie week begin vergeet het dat hy totaal van God afhanklik is!

Besef ons nog elke dag dat ons van God afhanklik is? Jesus het gesê dat ons niks sonder Hom kan doen nie. Besef ons dit regtig, of is dit maar iets wat ons weet iewers in die Bybel staan en wat ons ons in elk geval nie veel aan steur nie? Bid ons nog elke dag omdat ons in God se teenwoordheid wil wees en aan Hom wil erken dat ons Hom nodig het, of bid ons net wanneer ons self nie meer raad het vir ons probleme nie? Vertrou ons God elke dag om ons te beskerm en in ons behoeftes te voorsien, of is ons gerus omdat ons ‘n alarmstelsel in die huis en darem ‘n klompie geld in die bank het?

Ek het op ‘n ander keer gelees van ‘n pastoor wat ook in ‘n land woon waar Christene vervolg word, wat gesê het mense moet asseblief nie bid dat die vervolging ophou nie, want dit hou hulle op hulle knieë en laat hulle elke dag besef hulle het God nodig. Dit laat my wonder oor hoe ons bid wanneer ons in een of ander moeilike situasie is. Wees nou maar eerlik, ons bid gewoonlik dat God tog asseblief so gou as moontlik die situasie moet verander of wegneem. Dalk moet ons begin bid dat ons eerder in die storms van die lewe totaal op God sal vertrou en groei in ons afhanklikheid van Hom.

Here, ek is van U afhanklik vir alles in my lewe. Help my om dit nooit te vergeet nie, In Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 125 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *