Paulus Groet

Paulus Groet

Kan jy nog onthou wanneer jy laas vir iemand ‘n brief geskryf het? Nee, ek praat nie van ‘n SMS of van e-pos nie, ook nie van ‘n brief wat met ‘n rekenaar getik is nie. Ek praat nou van ‘n regte, egte handgeskrewe brief. Dit is ‘n ding wat nou totaal uit die mode geraak het, en as so ‘n brief die dag in jou posbus opdaag, is dit so ‘n rariteit, dat ‘n mens dit as ‘n kunswerk beskou en raam.

Harde werk, om ‘n brief met die hand te skryf, want jy mag nie foute maak nie. As jou hand gly, moet jy die hele ding oorskryf. Maar so ‘n brief is só persoonlik! Daar is ‘n stukkie van jouself in daardie brief. Ek onthou nog die dae toe ek weermagdiens gedoen het, ver van my Lieffie af. Saans het ek daar in my tentjie in die veld my hele hart uitgestort in daardie briewe wat ek vir haar geskryf het. Sommer so op die grond gesit en skryf, want daar was nie luukse goed soos stoele en tafels nie. Het ôk nie juis die mooiste handskrif gehad nie, maar sy het daar ver ‘n stukkie van my gekry.

En soggens, as die lorrie van die dorp af kom met die pos, dan het ek met bonsende hart gestaan en trippel, want ek was séker dat daar vir my ‘n brief sou wees. Ek het hulle verslind! Oor en oor en oor gelees. Aag, die nuus was dalk nou nie so belangrik nie, maar dit was net om haar woorde, geskryf met haar eie hand, in te drink, en haar so naby my te voel. En om die geur van haar parfuum wat aan die blaaie kleef te kon indrink.

Ai toggie!

Paulus was nou nie juis ‘n skrywer nie – dalk het probleme met sy oë verhoed dat hy kon skryf. Maar dit het hom geensins gekeer om sy gedagtes op skrif te stel nie. Om die waarheid te sê, was dit algemene praktyk in daardie dae om gebruik te maak van ‘n professionele skrywer of sekretaris om jou briewe te skryf. Hierdie mense was gewoonlik opgelei in die kuns om mooi te skryf. Paulus het dan sy brief aan hierdie persoon gedikteer, en nie net onderteken soos vandag die mode is nie, maar die laaste paar reëls self geskryf om te wys dat die brief eg is.

In Galasiërs se briefslot doen Paulus dan ook weer so, en dan skryf hy: “Kyk net die groot letters!” Was dit om sy skrif met die netjiese handskrif van die sekretaris te vergelyk? Of dalk omdat hy nie mooi kon sien nie? ‘n Derde rede klink vir ons meer logies: Hy het die laaste sinne in groot letters geskryf om die belangrikheid van die gedagtes by die lesers tuis te bring!

Normaalweg dra Paulus in sy slot groete aan dié en dáái oor, maar nie dié slag nie: Paulus is so ontsteld oor die dinge wat besig is om te gebeur in Galasië, dat hy die hele slot wy aan ‘n opsomming van die dinge wat hy vir hulle geskryf het. Daardie dinge is vandag vir ons van nét soveel belang as wat dit vir die Galasiërs was. Ons kan dit so opsom:

* Dit is totaal onmoontlik om vryspraak van ons skuld en sondes te kry op grond van ons prestasies – hulle is absoluut niks werd nie.

* Al manier waarop jy vryspraak kan kry is deur geloof in Jesus. Ja, dit is nie wat ek en jy reggekry het wat die wa deur die drif trek nie, maar dít wat Jesus gedoen het. Dit was Jesus se groot offer aan die kruis alleen wat vir ons vryspraak gee.

* As ons eers hierdie waarheid begryp, kom ons tot die besef dat om oor allerhande prestasies te stry totaal nutteloos is. Die heel belangrikste saak is dat ons in Jesus glo, en dat ons nuut gemaak is in Jesus.

* As ons in Jesus glo, is ons deel van die nuwe volk van God. Ons is met ander woorde die nuwe (ware) Israel. Jy het nie nodig om ‘n Jood te wees om deel van hierdie volk te word nie. Daar is maar net een vereiste: Die geloof dat jou ou mens saam met Christus aan die kruis gesterf het, en dat dit nou nie meer jy is wat lewe nie, maar Christus wat in jou lewe.

Ja, Paulus het ‘n lang en harde pad geloop voordat hy hierdie brief geskryf het. Hierdie pad was besaai met duwweltjies en dorings en hy dra die littekens daarvan aan sy liggaam. Hy het baie pyn en ontberings verduur om hierdie evangelieboodskap aan die wêreld te kon bring, selfs by tye die dood in die oë gestaar. Gaan lees maar gerus 2 Korintiërs 11:23-27, waar hy vertel van waardeur hy alles was. Dit laat jou hare regop staan, dat één man soveel ontberings kon deurmaak! En dít omdat hy vas geglo het in wat hy verkondig het. Is dit nie klaar genoeg rede vir my en jou om ag te slaan op wat hy vir ons deur die Galasiërbrief leer nie? Neem dit dus ter harte.

Paulus sluit af met ‘n seëngroet, soos sy gewoonte was. Hy beklemtoon daarin weereens God se genade. My gebed vir jou is dat jy daardie genade elke dag sal beleef, en dat Hy jou so sal lei dat jy nooit die wonder van Sy groot, groot genade sal miskyk nie, of dalk só gewoond daaraan raak dat jy nie meer verwonderd daaroor sal wees nie.

Here, ek bid vanoggend dat U genade sal skyn oor elkeen wat hierdie stukkie lees, in Jesus Naam

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 82 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *