Spreuke 3:6

BLYDSKAP KOM IN DIE MôRE.

Spreuke 3:6: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.”

Ek sit en dink vanoggend, ons as mense is partykeer so gefokus op ons probleme dat ons vergeet wat God elke dag vir ons doen. Die son kom elke môre op soos klokslag en gaan weer onder elke aand. Ons aanvaar dit as vanselfsprekend.
Jesus praat in die evangelies oor die lelies van die veld, Mattheus 6:25-34: “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”
Alhoewel Jesus die kosbaarheid van die mens vir God hier beskryf, kwel ons ons nog steeds oor die dag van môre. Ek kyk vanoggend uit by die venster en sien ‘n pragtige sonsopkoms. Die wolke is in lieflike goud getooi. Die lug is so skoon na al die reën en ek besef hoe baie daar is om voor dankbaar te wees. Net die feit dat ek kan sien, kan hoor, nog op my eie bene kan staan en nog soveel meer. Geen wonder die spreekwoord sê ons probleme verdwyn soos mis voor die son. Die son se lig breek deur die wolkemassa en verlig die hele wêreld. Net so breek God se lig deur ons duisternis en bring lig waar daar nou net donker is.

Daar is ‘n lied wat die volgende sê:
Hold on my child, joy comes in the morning,
Weeping only lasts for the night;
Hold on my child, joy comes in the morning,
The darkest hour means dawn is just in sight.

Dit mag nou donker lyk, maar die dagbreek is nie ver nie. God se lig sal deurbreek en weer jou lewe verlig, hou net vas aan die beloftes van God. Doen net dit wat die teksvers sê: “Ken Hom in al jou weë en Hy sal jou paaie gelykmaak.” Ek weet, dat ek weet, dat ek weet, God kan ons nie faal nie en dit maak nie saak wat jou behoefte of situasie is vandag nie, God kan en sal jou daarmee help.
Seker een van die moeilikste tekste in die Skrif is die volgende, Jesaja 28:16b: “…hy wat glo, sal nie haastig wees nie.” Ons is van nature haastig en alles moet vinnig gebeur. In hierdie teks sê God, wees rustig, stop ‘n bietjie langs die pad, geniet die natuurskoon en glo God.

Here, leer ons om in U weë te wandel, nie haastig te wees nie en te glo dat U ons sal help en onderskraag. Leer ons om soos die lelies van die veld en soos die voëls te wees, geen bekommernis oor die dag van môre nie en U sal vir ons ‘n uitkoms bied. In Jesus Naam, Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 156 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *