Ai, Ai, ons kry Ai! – Josua 8:1-29

Ai, Ai, ons kry Ai! – Josua 8:1-29

Ai tog! Ai was vir Josua ‘n bitter pil om te sluk. Maar hy het ‘n baie duur les geleer: “Stel jou vertroue in die Here!”

Maar die Here vergewe: “Josua, Ek wil hê dat jy die stad Ai in besit gaan neem. Ek gee die stad in julle hande!”

Josua is dankbaar dat die Here hom steeds gebruik nadat hy so op sy eie vermoëns begin staatmaak het. Dan gee die Here vir Josua noukeurige instruksies. Deur goeie, slim beplanning kan die vyand uitoorlê word, al is hulle sterk.

Josua moes leer dat Jerigo eintlik verspot maklik was, want die Here het die stad vir hulle gegee deur van ‘n asemrowende wonderwerk gebruik te maak. Daar was ‘n doel mee, want die Here wou eerstens vir Israel wys dat Hy God is en dat hulle Hóm alleen moet aanbid. Maar Hy wou ook vir die ander volke van Kanaän waarsku dat hulle met Hóm te doen kry. Hy is die enigste ware God, Hy is almagtig en hulle gode is nietig. Toe hulle Jerigo ingeneem het, het hulle eenvoudig oor die mure van die stad gestorm en dit gevat.

Die Here wou egter vir Josua leer om strategies te begin dink. Jy loop nie net eenvoudig ‘n stad storm en oorrompel hom nie. Die vyand gaan jou pak slae gee! Dit moes hy baie pynlik leer by Ai. Jy beplan en uitoorlê die vyand.

Vandag is hierdie les ook vir ons as gelowiges baie waardevol. Jy storm nie sommer blindelings in ‘n projek in nie. Jy gaan sit eers en doen deeglike beplanning terwyl jy fyn luister na die stem van die Heilige Gees om jou wysheid te gee vir die taak.

Ai is, soos die kraai vlieg, sowat agtien kilometer wes van Gilgal. Twee kilometer verder is Bet-El. Josua soek dertigduisend van die dapperste manne uit om die inname van Ai te gaan doen. Dan verduidelik hy wat hulle strategie gaan wees. Sodra die son sak, begin hulle aanmarsjeer na Ai. Hulle sal regdeur die nag stap sodat niemand sal weet dat hulle op pad is nie. Josua verduidelik ook verder vir hulle, dat nét soos die geval met Jerigo, word die stad met ‘n banvloek getref. Niemand mag oorleef nie. Dit is God se bevel! Maar die Here het tóg ook vir hulle ‘n bonus, want hulle kan al die vee en die buit vir hulleself neem.

Met hulle groot nederlaag teen hierdie einste stad nog vars in hulle geheue, val die manne die aand in die pad. Maar hierdie slag is hulle behóórlik voorberei en boonop wag daar vir hulle ‘n lekker vet buit. Wanneer hulle in die vroeë oggendure naby die stad kom, roep Josua eers halt. Hier verdeel hy die manskappe. Vyfduisend van hulle gaan agter om die stad en gaan kruip weg aan die westekant tussen Ai en Bet-El. Daar moet hulle wag tot al die soldate uit Ai uitgelok is.

Met die res van die mag marsjeer Josua oop en bloot tot binne goeie sig van die stad aan die noordekant en daar slaan hulle ewe arrogant kamp op sodat almal in Ai hulle kan sien.

Natúúrlik maak die wagters op die stadsmure alarm toe dit begin lig word, en hulle sien die klomp Israeliete op hulle voorstoep. En hulle kan baie duidelik sien dat hierdie klomp nie hier is vir ‘n piekniek nie! Inderhaas word die weermag georganiseer en kort voor lank moet Josua sien hoedat die reuse stadspoorte oopswaai. Dit lyk soos ‘n swerm miere wat by die poorte uitpeul en in hulle duisende swerm die soldate in gelid uit na die vlakte voor die stad en stel hulle linies op. Het hierdie klomp dan nie geleer van laaskeer nie? Hulle gaan die spul Israeliete afmaai!

Aan die oorkant mik Josua om die aanval te loods. Hulle tart en lok die Aïete uit, en dan storm hulle.
Natúúrlik laat die koning van Ai nie op hom wag nie en met bloedstollende gevegskrete storm hulle terug om vir eens en altyd met die Israeliete af te reken.

Skielik gee Josua sy manne bevel om om te draai en die hasepad te kies. Hulle hardloop so hard hulle kan, met die ganse weermag van Ai agterna. Die stadspoorte staan wawyd oop met niemand om dit te bewaak nie, want die vyand is mos aan die weghol.

Dit is presies waarvoor die vyfduisend manne aan die westekant gewag het. Hulle spring op, hardloop bloot die stad binne en steek dit aan die brand. En dan neem hulle stelling in tussen die weermag van Ai en hulle stad.

Wanneer Josua die rook sien, draai hy om. Skielik is hulle nie meer die vlugtendes nie maar die aanvallers en die weermag van Ai is vasgekeer soos rotte. Almal word doodgemaak sonder dat ‘n enkele Israeliet sterf. Daardie middag is dit ‘n singende klomp Israeliete wat stadig huiswaarts loop, want saam met hulle is daar groot troppe vee wat aangedryf word huistoe.

Josua het ‘n baie waardevolle les geleer. Daar is twee dinge nodig om suksesvol te wees: Inderdaad is die belangrikste om jou volle vertroue op God te plaas en te luister na wat Hy sê. Maar dit is ook belangrik om kreatief en slim te beplan en dink. Dit mag nooit uitgesluit word nie.

Here, ek vertrou U met alles in my. Maar leer my ook om slim te kan beplan.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 77 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *