Jakobus 2:1-13

Diskriminasie – Jakobus 2:1-13

Die deursnee besoeker aan die Kruger Wildtuin het net een ding in gedagte: “Ons wil leeus sien!” Die leeu is immers groot en sterk en hy is die koning van die diere. En as hy brul… sjoe! Daardie stem maak jou bene jellie. Hy is die jagter by uitstek, en niks en niemand staan in sy pad nie. Dus, as jy ry, is jou verwagting om daardie formidabele jagter van alle jagters teë te kom.

Dis vroegoggend in Oom Paul se Wille Krugertuin. Die yskoue sonnetjie steek sy kop so skaam-skaam tussen die doringbome deur. In die motor borrel ons van opgewondenheid: gaan ons vandag vir Vuilbaard te siene kry? Ons draai af in ‘n grondpaadjie, want daar het ons dalk ‘n groter kans om die ou grote te kry. Skielik merk ons ‘n beweging in die vaal gras. Opgewonde soek ons die oorsaak daarvan. En dan die teleurstelling: dit is maar net ‘n ou vaal, motgevrete hiëna met ‘n askies-lat-ek-hier-is gevreet en ‘n paar agterbene wat lyk of hulle ‘n ander rigting wil loop as die spier-tier voorlyf. Die ou wolf-met-die-mank-been het die oumense hom genoem. Jy kan sommer sien hoe stink die ou ding – hy móét mos stink, want hy leef mos van vrot vleis en ou bene! Sommer skoon vies vir hierdie gedrog ry ons verder.

Wat is die ware feite? Die hiëna is nie noodwendig ‘n aasdier nie, maar hy is ‘n uitstekende jagter. Dikwels is dit nie hy wat die leeus se vangs aas nie, maar juis die leeus wat ‘n hiëna se vangs aas. As ‘n wildkenner leeus wil lok, speel hulle opnames van die geluid wat hiënas by ‘n vangs maak. Dit maak mos nou van die leeu die verfoeilike aasdier, of hoe? In sommige dele van Afrika is hiënas hoofsaaklik jagters, en slegs by uitsondering aasdiere. Hy is ongelooflik sterk, en sy kakebene het baie groter krag as dié van ‘n leeu. “En wat van die brul?” sou jy vra. Ek het een aand die voorreg gehad om sowat vyf meter van ‘n hiëna af te sit wat brul. Ja, jy het reg gehoor, hy het gebrul! Dit was ‘n ongelooflike geluid wat my met groot ontsag gevul het.

Diskriminasie gebeur wanneer ons mense se waarde meet aan hoe hulle lyk. In Jakobus 2:1 staan daar baie duidelik: “Julle wat glo… moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie.” Daar is baie vorme van diskriminasie, en glo my: dit word daagliks op die een of ander wyse toegepas. Dikwels word daar teen vrouens gediskrimineer, veral wanneer dit kom by bevordering in die werksituasie. Die sterk man kry gewoonlik die voorkeur, al is die vrou beter gekwalifiseer vir die pos. Kinders voel dikwels dat daar teen hulle gediskrimineer word, want daar word ‘n minderwaardige posisie aan hulle toegeken. Deesdae word daar teen onderwysers gediskrimineer, want leerlinge kan maak net wat hulle wil, en die arme onderwyser mag nie ‘n vinger verroer nie. As hy net durf ‘n bietjie streng praat met ‘n leerling, is hy in die sop. Rassediskriminasie is aan die orde van die dag. ‘n Paar jaar gelede, onthou ek nog, was dit Wit wat teen Swart gediskrimineer het. As jy Swart was kon jy nie gaan woon waar jy wil nie, en is baie soorte werk vir jou taboe. Vandag is dit weer ‘n geval van, as jy Wit is, dan kan jy vergeet daarvan om ‘n sekere pos te kry, of selfs om énige werk te kry, en met die grondhervormingsbeleid is jy nie eers meer seker van jou blyplek nie.

Vir Jakobus het dit veral gegaan oor sosiale diskriminasie. En nou hoor ek al hoe jy sê: “Nie ekke nie!” Ja, so het Jakobus se eerste lesers seker ook gesê. Dan noem Jakobus ‘n voorbeeld: twee mense loop die kerk binne. Die eerste is stinkryk, met goue ringe aan sy vingers. Die gemeentelede sien al sommer hoe die geld in die offergawekis gaan val. Nes ons vandag, sukkel hulle ook maar met finansies, en hierdie is ‘n gulde geleentheid om die gemeentekoffers weer propvol te maak! Die tweede ou wat instap lyk eerder of hy geld soek as wat hy geld het om in die kis te gooi. Natuurlik maak hulle ‘n ophef van die ryke, en gee hom die beste sitplek in die kerk, en die arm ou moet maar op die grond gaan sit, want daar is nie plek vir hom nie.

Jesus het Self die wet opgesom (Mattheus 22:39) toe Hy gesê het dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself. Om jou naaste lief te hê beteken dan ook dat jy nie mag diskrimineer teen iemand nie, want deur te diskrimineer ontneem jy daardie persoon van sy lewensgeleenthede. Dit is byna soos om moord te pleeg! Jakobus maak dit baie duidelik dat as jy in een enkele opsig ‘n wet oortree, dan maak jy jou skuldig aan die verbreking van die hele wet van God. God vra van jou en my om te praat en op te tree in die lig van die wet wat vry maak, die wet van naasteliefde (Jakobus 2:12).

Inderdaad is die teendeel ook waar. As jy barmhartigheid betoon, triomfeer dit oor die oordeel wat jou
eintlik op die oordeelsdag behoort te tref (Jakobus 2:13). Barmhartigheid is die teenvoeter vir diskriminasie. Jesus het dit uitgeleef tydens Sy tyd op aarde, tot walging van die kerkleiers toe Hy saam met die skuim, die sondaars en gehate tollenaars gaan eet het.

Here, gee asseblief vir my ‘n hart van liefde – liefde teenoor my naaste, en vergewe my asseblief waar ek nog so dikwels teenoor ander mense diskrimineer, in Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 99 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *