Johannes 3:16.

DIE SEUN! KOOP DIE SEUN!

Johannes 3:16.

Ek het hierdie pragtige verhaaltjie van iemand oor die Internet gekry, en die vrymoedigheid geneem om dit in Afrikaans te vertaal. Wie die skrywer is, die weet ek nie, maar so ‘n juweeltjie kan ek net eenvoudig nie ongelees laat verbygaan nie!

‘n Skatryk man en sy enigste seun het ‘n passie vir kunswerke gehad. Hulle het saam menige werke van die grootste kunstenaars gekoop, en dan het hulle vir ure gesit en die pragstukke bewonder.

Toe breek die Viëtnamese oorlog uit. Die seun word opgekommandeer om te gaan veg, en dit het hy met sy hele hart gedoen. Hy was ‘n brawe jong man wat omgegee het vir ander, soveel so dat hy gedood is in ‘n geveg terwyl hy besig was om ‘n mede-soldaat se lewe te red. Sy pa was bitter bedroef toe hy die nuus kry.

Sowat ‘n maand later klop iemand aan sy deur. Dit was kort voor Kersfees, en voor die deur staan ‘n jong kêrel met ‘n pakkie in sy hande: “Meneer, jy ken my nie, maar ek het al baie van jou gehoor. Ek is die man vir wie jou seun sy lewe opgeoffer het. Ek was gewond in die geveg, en hy het my na veiligheid gehelp. Terwyl hy my dra het ‘n koeël hom in die hart getref. Hy is oombliklik dood. Hy het my baie van jou vertel, en van julle liefde vir kuns.”

Die jong man gee die pakkie vir hom: “Ek is nou nie juis ‘n groot kunstenaar nie, maar jou seun sou wou hê dat ek hierdie vir jou gee.”

In die pakkie is ‘n skildery van sy seun, geskilder deur die dankbare jong kêrel. Vol verwondering staar hy na die afbeelding van sy enigste seun. Sy oë skiet vol trane as hy sien hoedat die jong soldaat die persoonlikheid van sy seun vasgevang het, veral in die oë. Hy bied aan om te betaal daarvoor, maar die kêrel hou vol dat dit maar net sy manier is om ‘n ietsie terug te gee vir wat sy seun vir hom gedoen het. Dis ‘n geskenk.

Hierdie geskenk word die kosbaarste kleinood vir die man en elke keer as besoekers opdaag, word dit met trots eerste vir hulle gewys.

‘n Paar maande later, na ‘n siekbed, is die ryk man dood. Hy het geen naasbestaandes gehad nie en al sy besittings moes op ‘n reuse veiling verkoop word.

‘n Groot aantal invloedryke mense het vir hierdie veiling van alle veilings opgedaag. Die kunswerke wat daar te koop aangebied word, is almal unieke versamelstukke waaroor menige kunsjagter maar net kon droom.

Die afslaer het op sy verhogie gaan staan. Dramaties slaan hy met sy hamer op die podium vir stilte: “Ons begin die vendusie met hierdie pragtige skildery van die oorledene se seun. Kan ek asseblief ‘n bod kry vir hierdie pragtige werk?”

Stilte.

“Kom, asseblief, wie sal die eerste bod insit?”

Uit die agterste gestoeltes skree iemand: “Kan ons nie maar hierdie een oorslaan nie? Ons wil die beroemde skilderye sien!”

Maar die afslaer hou vol: “Asseblief mense, ek soek ‘n bod vir die skildery van die seun! Enige bod? Twee honderd? Wat van ‘n honderd rand?”

Nog iemand skree: “Ons het nie gekom om hierdie een te sien nie. Ons wil die Van Goghs en Rembrandts hê! Toe, toe man, kom nou by die regte ding!”

Maar die afslaer hou voet by stuk: “Die seun! Die seun! Wie sal die seun neem?”

Dan kom daar ‘n stem heel agter uit die saal uit, van die ou tuinier wat donkiejare lank vir die oorledene gewerk het: “Ek sal tien rand vir die skildery betaal.” Hy kon nou nie juis meer bekostig nie.

“Aha! Ons het tien rand! Enigeen vir twintig?”

“Gee dit asseblief tog vir hom vir tien, laat ons tog net by die meesters uitkom!” skree iemand ongeduldig.

“Tien rand het ek, is daar dan niemand wat meer vir hierdie pragtige skildery wil betaal nie?”

Nou raak die skare regtig ongeduldig. Hulle het nie gekom vir hierdie eenvoudige skildery van ‘n amateur nie. Hulle het gekom vir ware beleggings vir hulle kunsversamelings.

Uiteindelik kom die afslaer se hamer hard op die podium neer: “Vir die eerste maal! Vir die tweede maal! Verkoop vir… TIEN RAND!”

Opgewonde maak die skare voornemende kopers hulle reg om die koop van hulle lewe te koop. Nou kom die wáre kunsskatte. Maar die afslaer begin sy goedjies wegpak. “Jammer menere, maar die veiling is verby!”

“Maar wat dan van al die skilderye?”

“Ek is jammer, dis verby! Toe ek aangestel is om hierdie veiling waar te neem, het ek streng opdrag gekry om dit op hierdie wyse te hanteer, sonder om af te wyk. Daar is ‘n stipulasie in die testament, wat ek eers openbaar kon maak na die veiling verby is: daar sal slegs op die skildery van die seun gebie word. Die persoon wat hierdie skildery koop kry die ganse erfporsie, wat onder andere ook al die ander skilderye insluit!”

Meer as tweeduisend jaar gelede het God Sy Seun gegee om aan die kruis te sterf. Vandag is God se vraag, net soos dié van die afslaer: “Die Seun, die Seun, wie sal die Seun neem?” Sien, iemand wat nie die Seun vat nie, kry niks, maar hy wat die Seun vat, kry alles!

Ons lees in Johannes 3:16: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Liewe vriend, het jy álles gekry? Die Seun? Ook die ewige lewe? As jy opreg “Ja!” kan antwoord, loof God deur hierdie pragtige verhaaltjie met iemand te deel wat nog nie hierdie wonderlike geskenk van God aanvaar het nie.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 81 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *