2 Korinthiërs 4:8-9:

JESUS IN DIE SKADU’S VAN ONS LEWE.

2 Korinthiërs 4:8-9: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie, vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.”

Kyk ek na hierdie woorde, besef ek net die geweldige opdraende stryd wat die kind van God het en ek vra dan onwillekeurig, “Here, hoe is dit dan dat U kinders soveel teëspoed het? Hoe is dit dat dit somtyds voel asof alles verkeerd loop?” Dan herinner die Here my daaraan dat Petrus onder die leiding van die Heilige Gees geskryf het: “En as die regverdige nouliks gered word” (1 Petrus 4:18 ). Hiermee sê God dat dit geen maklike pad is nie. Daar is soveel verwysings in die Skrif dat dit geen maklike pad sal wees nie. God wil ons nie onder ‘n wanindruk bring van die “pie in the sky”-sindroom nie. “Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie” (Lukas 13:24 ). Ons moet die werklikheid in die gesig staar en weet dit is somtyds baie moeilik, maar deur dit alles heen dra God ons dag na dag.

Ek lees ‘n verhaal van ‘n lewenslustige vrou wat na ‘n motorongeluk van haar nek af verlam was. Eendag is ‘n vriendin by haar en sy vra die vriendin om haar ‘n oordosis pille te gee en natuurlik weier die vriendin. Hierdie vrou roep uit en sê: “Ek kan nie eers selfmoord pleeg nie, want ek is verlam.” Haar vriendin soek naarstigtelik na woorde en dan, deur die werking van die Gees, sê sy: “Jesus weet hoe jy voel, want Hy was ook verlam.” Die verlamde vrou sê vir haar vriendin: “Hoe kan jy so sê?” Waarop haar vriendin sê: “Toe Jesus aan die kruis gehang het en die ruwe hout in Sy stukkende rug in gesny het, het Hy verlang net om te kan omdraai en Hy kon nie. Hy moes deur die pyn worstel sonder enige hulp. So, Jesus weet.” Jy sien, liewe leser, so weet Jesus van elke situasie in jou lewe. Hy was arm, Hy was honger, Hy het nie blyplek gehad nie. Hy was verneder, Hy het geweldige pyn gely, Hy was dors en, seker die grootste van alles, Hy was van God en mens verlate, sodat ons nooit van God verlate sal wees nie. Die Skrif sê elke kind van God se Naam is in Jesus se handpalms gegraveer en dat Hy ons nooit sal vergeet nie. “Maar Sion sê: Die HERE het my verlaat, en die Here het my vergeet! Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My” (Jesaja 49:14-16).

Dit maak dus nie saak hoe onmoontlik jou situasie lyk nie, God is in beheer. Is die pad maklik om te loop? Baie beslis nie. Inteendeel, ons word soos skape onder die wolwe ingestuur: “Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.” Ek wil dat jy egter besef, hoewel dit moeilik is en die aanslae van die lewe soms baie fel is, is God daar en Hy is ons beskermer. 

Are your crosses too heavy to carry,
And burdens too heavy to bear?
Are there heartaches and tears and anguish,
And there’s no one who seems to care?

Are there shadows of deep disappointment?
And trusts that have proven untrue?
Has the darkness of night settled round you?
Has your hope and your faith wavered too?

Has the storm over shadowed your sunshine
And life lost attraction for you?
Have the dreams that you cherished been broken,
Is your soul filled with bitterness too?

Standing somewhere in the shadows you’ll find Jesus,
He’s the Friend who always cares and understands.
Standing somewhere in the shadows you will find Him
And you’ll know Him by the nail prints in His hands.

Here, leer ons dat, hoewel ons nie ‘n maklike pad het om te loop nie, hoef ons dit nie alleen te loop nie, want daar iewers in die skadu van hierdie donker pad, staan Jesus wat altyd omgee en verstaan. Baie dankie dat dit so is en ons eer U. In Jesus Naam, Amen. 

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 77 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *