Filippense 2:19-30.

DIE REGTE GESINDHEID.

Filippense 2:19-30.

Wat ‘n wonderlike getuigskrif is dit nie wat Paulus oor Timotheus skryf nie. Hy vertel van Timotheus se wonderlike gesindheid en van sy betroubaarheid. En natuurlik ken die gemeente hom reeds, want Timotheus het hom op sy tweede sendingreis vergesel, toe die gemeente in Filippi tot stand gekom het. Timotheus was by Paulus in Rome toe hy hierdie brief geskryf het.

Toe Paulus tydens sy tweede sendingreis by Listra aandoen, was Timotheus reeds ‘n gelowige. Sy ma was ook ‘n gelowige. Voor haar bekering was sy ‘n Joodse vrou; Timotheus se pa was ‘n Griek. Timotheus het ‘n goeie naam in sy eie gebied en ook in Ikonium gehad. Dadelik het Paulus hom geëien as ‘n goeie kandidaat vir ‘n voltydse medewerker. Timotheus se gemengde afkoms sou egter probleme kon veroorsaak by ander gemeentes (veral waar die Jode die botoon voer) en daarom het Paulus hom besny. So is ‘n moontlike struikelblok vir die evangelie uit die weg geruim.

Paulus het hom dus nie blind gestaar teen Timotheus se gemengde afkoms nie, maar die besondere persoonlikheidsgawes wat God aan hom gegee het, raakgesien en dit deur onderrig en voorbeeld ontwikkel. So kon hy Timotheus uiteindelik vir baie verantwoordelike werk gebruik. Timotheus het byvoorbeeld namens Paulus die Thessalonisense gaan besoek en die groot probleme by die Korinthiërs gaan hanteer. Timotheus was ook vir ‘n geruime tyd die predikant in Efese.

Dit is dus met volle vertroue dat Paulus hierdie mooi dinge van Timotheus kan sê. Hy was immers ‘n steunpilaar waar hy ookal gegaan het.

Maar Paulus sê ook ‘n paar baie mooi dinge van Epafroditos. Die gemeente van Filippi het hom na Paulus toe gestuur met geld om hom te onderhou terwyl hy in huisarres was. Maar Epafroditos moes ook vir Paulus bystaan en dit het hy onselfsugtig gedoen onder moeilike omstandighede, selfs toe hy dodelik siek was. Paulus sê dat Epafroditos sy lewe gewaag het vir hom. Hy was die gemeente se verteenwoordiger by Paulus. Nou stuur Paulus hom terug, waarskynlik sommer met die brief. Paulus gee eers ‘n getuigskrif van Epafroditos dan noem hy hoekom hy hom terugstuur en hy gee voorskrifte oor hoe hulle hom moet terugverwelkom. Hierdeur kom ‘n mens agter hoe onselfsugtig Paulus is. Epafroditos se wense en die Filppense se bekommernis is vir hom belangriker as sy eie ongerief.

In die eerste plek het ons Timotheus se gesindheid: Dit help niks as jy ‘n hardwerkende personeellid is en jy het nie die regte gesindheid nie. As jy die Here dien om vir jouself ‘n beter plekkie in die Hemel los te werk, dan is jou gesindheid totaal verkeerd. Dan sou jy beter af wees bloot as ‘n passassier. Jou gesindheid moet een wees van liefde vir God, liefde vir jou medemens en dankbaarheid vir jou verlossing. En jou arbeid in die Koninkryk moet nie vir jou ‘n straf wees nie, maar jy moet dit met blydskap doen.
In die tweede plek lees ons van Timotheus se betroubaarheid. Ai! Ek ken dierbare kinders van die Here, met ‘n pragtige gesindheid, maar jy kan net eenvoudig nie op hulle staatmaak nie. Jy weet nooit of hulle op ‘n vergadering sal opdaag of nie. En jy kan nooit seker wees of hulle hulle pligte gaan nakom of nie. Hulle is gewoonlik baie gewillig, maar as dit by die doen kom, dan is dit ‘n twyfelagtige saak.
In die derde plek het ons Epafroditos se onbaatsugtigheid. Toe die gemeente hom afvaardig om na Paulus te gaan, het hy dit sonder huiwering gedoen. Hy het die lang, vermoeiende reis na Rome aangepak en Paulus bygestaan ten spyte van sy siekte en ten spyte van die feit dat hy hom doodverlang het na sy mense en sy geboortedorp.

In die vierde plek sien ons Paulus se onselfsugtigheid. Hy het Epafroditos se hulp so bitter nodig gehad. Maar hy het die verlange in Epafroditos se oë gesien en hom teruggestuur huis toe. Hy het seker die volste reg gehad om hom nog ‘n ruk langer daar te hou, want sy eie probleme is baie groter as die van Epafroditos, maar ‘n ander se belange weeg vir hom baie swaarder as sy eie.

Hierdie is maar enkele voorbeelde van hoe ons op die geloofstrein moet werk. Kom ons sit skouer aan die wiel, onbaatsugtig met blydskap en die regte gesindheid in ons harte, in dankbaarheidsdiens aan ons Vader wat ons onvoorwaardelik liefhet, in Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 100 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *