God is gom: Efesiërs 5:21-33

God is gom: Efesiërs 5:21-33

Die verhouding tussen ‘n ouer en ‘n kind is baie besonders. Ek sê altyd dat my kinders my meer mens gemaak het. Hulle het my lewe meer waarde kom gee. Sonder kinders sou ek op baie uitgemis het.

Wanneer ‘n man en vrou trou, word daar meer waarde aan hulle verhouding geheg as die tussen ouers en kinders. Die Skrif sê mos: “‘n Man moet sy pa en ma verlaat en met sy vrou gaan saamleef. Die twee sal soos een mens wees.” Sjoe, daar word dus nog meer waarde op die verhouding tussen man en vrou geplaas.
Nee, ek dink nie kinders moet nou hulle ouers afskryf nie. Kinders het nog steeds ‘n baie groot rol in hulle ouers se lewe te speel. Tog verskuif die klem nou na die eggenoot en die verhouding tussen hulle twee. Ouers moet dit besef. Kinders is nou groot genoeg om hulle eie lewens te bestuur en hulle eie potte te krap.

Binne die huwelik is daar nie plek vir ‘n derde persoon nie. Baie huwelike het al op die rotse beland deur ouers wat te veel inmeng. Later voel dit vir die een of die skoonouers met die ander “op team” en dan is dit nie lank nie of hy of sy loop dan eerder uit.

Hoor mooi wat die teks sê, pa en ma, die kinders moet uitstap en hulle eie ding op hulle manier gaan doen. Ja, dis nie lekker om te sien dat hulle dieselfde foute as jy gaan maak nie, maar dis net daar in die koppe stamp waar hulle regtig leer en stywer aan mekaar groei. Laat hulle maar lustig die sakke sout saam opeet.

Want dis juis hier waar hulle een word. Twee mense met heel waarskynlik verskillende persoonlikhede, (want daar word mos gesê dat “opposites attract”) moet nou soos een mens word. Barnes (e-Sword) beskryf die eenwording so mooi: “That is, they two, or they that were two, shall be united as one – one in law, in feeling, in interest, in affection. They shall no longer have separate interests, but shall act in all things as if they were one – animated by one soul and one wish.”

Die eenwording is meer as net s*ks. Dit is in alles. Selfs die belangstellings begin nader na mekaar trek. Kyk maar ‘n bietjie na jou pa en ma of ‘n ander paartjie wat lank getroud is. Hulle begin later oor dieselfde dinge praat. Die een begin doen soos die ander een. Hulle begin mekaar se sinne klaarmaak. Hulle weet presies wanneer om eerder nou niks te sê nie. Hulle het soos een mens geword.

En dit gebeur nie oornag nie. En nog minder op rustige waters. Dit is in die roei en stoei en die uitstorm en sê, “Nou is ek klaar” en die omdraai en verskoning vra dat ons nader aan mekaar groei. Sommige sien dit nie so nie en beweer dat hulle eenvoudig net te veel verskil, daarom kan hulle nie aangaan nie en die eenheid spat aan skerwe. Dit is vir my so absurd dat die verskeidenheid en verskillendheid wat hulle aan die begin na mekaar aangetrek het, nou die redes raak om die skeisaak aanhangig te maak…

Dalk is dit omdat hulle nie die gom wat die twee een laat word, verstaan nie. Dalk is dit omdat hulle nie vir Hom plek in hulle huwelik maak nie. Jy sien, God is die een wat die eenheid bewerk. Die huwelik is ‘n heilige verhouding, juis omdat God daarby betrokke is. God bring die heiligheid na die pakkie toe en daarmee saam is Hy die gom wat altwee aan mekaar vasbind.

Hoe mooi het God die huwelik gemaak. Man en vrou raak een en Hy wat God is, is die Een wat die gom voorsien om die huwelik aanmekaar te hou.

Hoe lyk jou verhouding?

Hoeveel Gom is oor?

Hoeveel plek het God?

Onse God, U het soveel blink planne. Net jammer dat ons dit soveel keer kom opfoeter. Die huwelik het U spesiaal gemaak. U is die gom wat dit aanmekaar bind. Help ons, Here, om nie die heeltyd aan die gom te ruk en pluk nie, in Jesus Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 116 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *