Markus 8:1-10

Jesus Voed Weer ‘n Skare – Markus 8:1-10

Jesus kyk na die skare mense wat voor Hom sit, en dan kry Hy hulle innig jammer. Die toneel wat hier voor Hom afspeel is ‘n herhaling van wat ‘n rukkie gelede gebeur het, toe Hy en die manne ook by ‘n afgeleë plek was, en die mense naderhand honger was. Hierdie slag is Hy egter op nie-Joodse grondgebied, die Dekapolis. Vir die laaste drie dae sit die skare van “heidene” nou al bankvas hier voor Hom terwyl Hy hulle leer. Die bietjie kos wat daar nog was, is al lankal op, en Hy kan sien dat die honger nou sy tol begin eis. Dan roep Jesus die manne bymekaar: “Ek is baie bekommerd oor hierdie mense. Party van hulle het ‘n ver pad gekom. As ons hulle nou huistoe stuur sonder om eers vir hulle iets te ete te gee, kan ‘n paar van hulle dalk iewers langs die pad beswyk van die honger!”

Dan gebeur die onverstaanbare, die verstommende, dieselfde hande-opgooi ding van ‘n paar maande tevore toe hulle in presies dieselfde situasie was. Die manne vra radeloos vir Jesus waar hulle in hierdie verlatenheid kos in die hande moet kry vir so ‘n klomp mense? Hulle Meester moet darem onthou dat hier nie minder nie as vierduisend mense voor hulle sit. Hoe verwag Hy dan nou van hulle om skielik kos op te tower vir hierdie skare?

Hoe kort is hulle geheue nie! Het hulle tog nie al klaar vergeet van die vorige geleentheid, gladnie so lank gelede nie, toe Jesus ‘n skare van vyftien-duisend mense kos gegee het met slegs vyf broodjies en twee verskrompelde ou vissies? Het dit lankal by hulle koppe uitgewaai dat hulle agterna nog twaalf mandjies vol oorskiet bymekaar gemaak het? ‘n Mens voel dat jy daardie twaalf manne aan hulle skouers kan vat en skud dat hulle wakker word en sien Wie hulle mee te doen het. Kan hulle dan nie verstaan nie?

As ek Jesus was, sou ek sékerlik nét daar uitgebars het en die manne se koppe gewas het oor hulle ongeloof en hulle geestelike blindheid en hulle onvermoë om te kan verstaan.

Maar Jesus doen dit nie. Hy verstaan. Hy wéét hoe moeilik dit vir hulle is om te begryp. Hy weet ook dat hulle tyd nog nie gekom het om waarlik insig te hê in al hierdie dinge nie. Later sou hulle wél verstaan, en dan sou hulle die wêreld aan die brand steek met hulle geloof. Sonder verwyt vra Jesus hulle geduldig: “Hoeveel brood is hier?” Hulle kon sewe brode bymekaar skraap, dis al! En hiermee moet hulle vir vierduisend mense kos gee?

Jesus neem die brood by die manne, en dan kyk Hy op na die hemel en sê dankie vir God vir die kos, terwyl vierduisend paar honger oë Hom aangaap en wonder wat nou aan die gang is? Wat sou hierdie Rabbi nou wil doen met die brood? Sy aksie maak hulle rasend van die honger! Vol belangstelling hou hulle Hom dop as Hy die brood in stukke breek. Dan gee Hy dit vir die twaalf manne om uit te deel, saam met ‘n paar vissies wat iemand “geskenk” het.

En weereens vind die vermeerderings-wonder plaas. Die manne hou aan uitdeel en die kos raak net eenvoudig nie minder nie! Hoe meer hulle uitdeel, hoe meer word die brood en vis, totdat vierduisend honger mense versadig was, en daar nog sewe mandjies propvol oorskiet oorgebly het.

Hoe moes die manne hierna gevoel het? Was hulle skaam oor hulle ongeloof? Het hulle tóé begin besef dat Jesus waarlik die Messias is? Dat Hy almagtig is? Hoeveel asemrowende, verstommende wonderwerke moes hulle nog sien voordat dit kon insink?

Jesus het die mense huistoe gestuur en toe klim Hy en die manne in ‘n skuit en vaar na die Dalmanuta gebied.

Opvallend wanneer ons hierdie verhaal lees, is Jesus se omgee. Hy kry die mense innig jammer, al is hulle nie eers Jode nie en al is hulle nie deel van God se verbondsvolk nie. Maar ewe opvallend is Jesus se geduld met die manne wat dag-vir-dag die talle en talle wonderwerke beleef, maar net nie kan verstaan nie. Hoeveel keer moet Hy dit nog vir hulle verduidelik? Is daar ‘n manier om dit vir hulle duideliker te kan stel? Maar Jesus raak nie ongeduldig met hulle nie: Hy verstaan.

En ek en jy? Moes Hy nie dalk al lankal met my ongeduldig geraak het nie? Hoeveel keer het ek Hom nie al teleurgestel in my lewe nie? Hoeveel keer het ek al gevra: “Here, vergewe my,” om maar net môre weer dieselfde sonde oor te gaan doen? Ek raak moedeloos met myself, maar Jesus bly maar net geduldig met my. Hy verstaan! En as ek die dinge wat Hy doen bevraagteken, so asof ek dalk beter weet as Hy? As ek Hy was, het ek hierdie kreatuur al lankal verdoem. Maar Hy doen dit nie! Sy genade en liefde is baie groter as wat enige menslike verstand ooit kan peil. En soos daardie twaalf manne, sien ek elke dag die wonderwerke, dikwels asemrowende wonderwerke rondom my gebeur. Maar dan staan ek steeds in ongeloof en kerm as daar die geringste probleempie oor my pad kom.

Hoe onbeskryflik groot is Jesus se omgee en geduld en liefde en verstaan en barmhartigheid nie!

Here, maak asseblief my oë oop sodat ek U grootheid en almag en liefde en omgee kan raaksien, in Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 91 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *