Vrede anderkant die geraas – Filippense 1:1-2

Vrede anderkant die geraas – Filippense 1:1-2.

Die lewe is nie maklik nie.

Dit is ‘n gehol van die een kant na die volgende. Ons staan nou op ‘n Sondagaand met vlinders in die maag oor die week wat voorlê en voor ons ons kom kry, ontvang ons orals snaakse prentjies van gedroggies wat aankondig dat die naweek hier is.

Die tyd woerts verby.

Dis net ‘n gejaag. En vir onsself het ons nie tyd nie. Op ‘n dag gebeur daar iets wat ons tot stilstand dwing en ons kyk na onsself in die spieël. Op ‘n manier ken ons nie die persoon wat in die spieël na ons terugstaar nie. Die wêreld het die persoon soveel anders gemaak. ‘n Persoon wat ander dinge najaag met drome wat anders is as die wat ons gedroom het toe ons nog klein was.

Iets is weg, besef ons met ‘n slag en na ‘n lang gesoek, kom ons agter dat ons nie meer tevrede is met dit wat aan ons uitgedeel is nie. Ons soek meer. Ons wil hê wat die ander het, daarom moet ons nog meer tyd en energie insit. Ons werk nog harder en op ‘n manier word die gemis net meer en meer.

Sonder dat ons dit eintlik besef, raak God al hoe minder ‘n faktor in ons lewe en word ons lewe en rigting bepaal deur dit wat ons najaag. Die somtotaal hiervan is dat ons nie meer gelukkig is nie. Ons bly onrustig en êrens is daar ‘n groot gat van gemis en onvrede slaan ons gemoed plat.

Eintlik is ons soos ‘n hond wat sy stert al in die rondte jaag. Ons mis vrede in ons en daarom jaag ons dinge in die wêreld na. As ek net ‘n beter werk kan kry. As ek net meer kan verdien. As ek net ‘n groter kar kan koop. As ek net in ‘n beter woonbuurt kan woon, dan sal ek vrede kry. Dan sal die iets wat my jaag, stop. Dan sal ek nie meer soek nie. Dan het ek gearriveer.

Dis egter die grootste leuen wat die meeste van ons onbewustelik glo en al het al die wêreldse drome waar geword, bly ons gemoed nog vol met onvrede.

Ons mense is geprogrammeer, nog voor geboorte, om na God te smag. Dit is deel van ons DNA. Die skepsel smag altyd na die Skepper. Dit is hier by ons Skepper waar ons werklik vrede kry. Dis hier waar ons tevrede kan terugsak in die bank en weet ons is waar ons moet wees.

Daar is slegs een plek waar ons ware vrede kan kry en dit is by God. Die res is net geraas. Ja, die res is verseker net geraas. Dit is ‘n gejaag na wind en die gevolg is onvrede.

Wil jy vrede ervaar? Wil jy weer tevrede wees met wat jy het? Wil jy weer rustig wees en dinge in perspektief sien? Wil jy oorspoel word met daardie vrede wat mens se verstand te bowe gaan?

Dan is dit tyd om stil te word, tyd te maak en by God uit te kom. Maak ‘n afspraak en klim uit die resies. Draai na God, raak stil en ontvang Sy seën: “…mag julle die vrede beleef wat net God kan gee” (Filippense 1:2).

Vrede wat net God kan gee. Mag jy daarna smag en dit najaag.

Wat jaag jy?

Ervaar jy God se vrede?

Kom jy genoeg by God uit?

Vader, gee aan ons U vrede. Daardie vrede wat die wêreld ons nie kan gee nie,in Jesus Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 77 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *