Geloof deel 3

GELOOF (deel 3).
Hebreërs 11:1-40
Wanneer ons vandag verder kyk na die gedeelte in Hebreërs, dan lees ons van groot manne soos Jakob wat gelieg en bedrieg het om bo in die lewe uit te kom, maar ten spyte van al sy sondes tog God se groot genade ervaar het omdat hy geglo het. Die geloof van slegs tien mense sou die groot stad Sodom gered het, maar ongelukkig was daar nie eers tien gelowiges in die ganse stad nie…

Isak het ook geglo dat God vir hom ‘n nageslag en ‘n beloofde land sal gee. Daarom het hy sy twee seuns, Jakob en Esau, geseën met die oog op die toekoms (11:20). Die skrywer bespreek nie probleme omtrent Esau en Jakob se seën nie. Vir die skrywer is dit genoeg om hier net na Jakob se geloof te verwys toe hy die seëninge uitgespreek het.

Jakob het ook dieselfde toekomsbeloftes geglo. Al was hy op sy sterfbed (11:21), het hy Josef se twee seuns, Efraim en Manasse, geseën. Selfs toe het hy nog op die knop van sy kierie geleun (11:21), omdat hy tot die dag van sy dood ‘n swerwer gebly het.
Josef self, al was hy onderkoning van Egipte, het, in die lig van God se beloftes, op sy sterfbed van God se toekoms gepraat. Dit verwys na die uittog uit Egipte na die land wat God met ‘n eed beloof het (11:22). Hy het ook opdrag gegee dat sy liggaam saam moet trek.

Gebeure tydens Israel se uittog uit Egipte en inbesitname van Kanaän (11:23-31) bied ook voorbeelde van geloof. Moses se ouers het geglo en hom na sy geboorte vir drie maande lank weggesteek (11:23). Dit was ‘n dapper daad, omdat die koning beveel het dat alle Joodse seuntjies doodgemaak moes word. Geloof het hulle wat slawe was, die moed gegee om die bevel van die koning te verontagsaam.

Moses het ook geglo. Al is hy as ‘n prins in die farao se huis grootgemaak, het hy geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter (11:24). Moses maak ‘n doelbewuste keuse vir ‘n lewe van lyding en swaarkry, om deel te wees van God se volk (11:25). Vir die lesers van Hebreërs, wat afvallig geraak het toe hulle begin swaarkry, moes dit beskamend gewees het. Moses het hom só met die lyding van die Israeliete vereenselwig, dat hy ‘n Egiptenaar doodgeslaan het. Hy moes toe uit Egipte vlug en as vreemdeling in ‘n vreemde land woon. Moses kon, soos die lesers van Hebreërs en ons ook, die keuse vir die kortstondige genieting van sonde gemaak het. Volgens die skrywer van Hebreërs het Moses die smaad ter wille van Christus ‘n groter rykdom geag as die skatte van Egipte (11:26). Dis nie die moeite werd om jou beginsels prys te gee ter wille van korttermynvoordeel nie.
Moses se geloof het hom vreesloos vir die farao en sy militêre mag gemaak. Hy het slawe uit Egipte uitgelei (11:27). Hy het opgetree asof hy die onsienlike God sien. Dit het hom laat volhard te midde van al die teëspoed wat hy beleef het.

Met die eerste oogopslag is dit onduidelik waarom die skrywer verwys na die instelling van die pasga en die bloed aan die deurkosyne as geloofsdade (11:28). Ons moet onthou dat die skrywer gedurig vir Jesus Christus voor oë het. In die lig van die breë konteks van die Hebreërbrief, kan hierdie handelinge vooruit wys na wat in Jesus se gemeente gebeur. Die pasgamaaltyd en die besprinkeling met bloed het die eersgeborenes van Israel se lewe gered. In die gemeente het die nagmaal en die doop ‘n soortgelyke simboliese funksie. Die probleem was dat daar gelowiges was wat dit verwaarloos het.
Die Israeliete het geglo. Die effek van hierdie geloof was dat hulle lewe gered is. Hulle het deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het (11:29). Dit simboliseer die beloning vir geloof en straf vir ongeloof, wat ook in die gemeente van Christus aan die werk is.

Die Israeliete se geloof het hulle vir sewe dae lank om die mure van Jerigo laat trek. Die gevolg van hulle geloofsvolharding was dat die mure omgeval het. Op ‘n wonderbaarlike manier het God hulle vyande in hulle hande gegee.

Selfs Ragab die prostituut het genade ontvang op grond van haar geloof. Sy het teen haar eie mense hoogverraad gepleeg. Die verkenners het sy vriendelik ontvang (11:31). Haar lewe is gered, en dié wat ongehoorsaam was, het omgekom (11:31).

Die geloof van die rigters, koning Dawid en die profete (11:32-38) kom vervolgens aan die beurt. Ons lees oor Gideon, Barak, Simson en oor Jefta. Koninkryke is deur die rigters, maar veral Dawid verower (11:33). Die reg van God is deur Samuel en Dawid gehandhaaf (11:33). Leeus se bekke wat toegestop is, kan op Simson of Dawid betrekking hê. Daniël is as een van die profete beskou en die opmerking kan ook op hom van toepassing wees. Deur reg te leef, het hulle verkry wat God beloof het (11:33).Gloeiende vuur wat geblus is, laat ‘n mens aan Daniël 3:17 dink (11:34). Aan die swaard het Dawid, Elia en Elisa ontkom. God het hulle teen ‘n oormag in swakheid krag laat ontvang (11:34). Veral Dawid en Gideon was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag.

Elia het die weduwee van Sarfat se seun uit die dood opgewek (11:35), en Elisa die seun van ‘n Sunemmitiese vrou. Daar was egter ook gelowiges wat geen beloning tydens hulle aardse lewe ontvang het nie. Hulle het aan die opstanding tot ‘n beter lewe deel gekry (11:35). In die tyd tussen die Ou en Nuwe Testament word sulke verhale van marteling tydens die Makkabese oorlog vertel (2 Makkabeërs 6-7). Dieselfde geld vir bespotting, lyfstraf, boeie en gevangenskap (11:36). Sagaria is met klippe doodgegooi (11:37). Volgens oorlewering is Jesaja in stukke gesaag (11:37). Die vriende van Elia is met die swaard vermoor (11:37; vgl 1 Konings 19:10).

Dit is nie duidelik wie met skaapvelle en bokvelle rondgeswerf het nie (11:37). Volgens oorlewering het profete soos Elia, Elisa en Esegiël só gekleed gegaan. Die wêreld was hulle nie werd nie (11:38), wil sê dat hulle tot ‘n ander wêreld behoort het. Elia het die woestyn in getrek (11:38) en ook in ‘n grot weggekruip.
Ondanks al hulle ontberings, het hulle nie verkry wat beloof is nie (11:39). Hulle was bereid om swaarkry en ontbering te verduur vir ‘n beloning na hulle dood. God beoog vir ons iets beters (11:40), dit wil sê, ‘n hemelse vaderland waar die gelowiges van die ou verbond en dié van die nuwe verbond saam die beloofde hiernamaals sal binnetree. Wanneer mense swaarkry en moed verloor, bemoedig die skrywer hulle om op God te vertrou. God hou die wêreld en die geskiedenis sinvol aan die gang. Vertrou ook op God se beloftes, aangesien God dit hou. Dit help ons om swaar tye te deurstaan. As ons agtertoe kyk na hulle wat ons voorgangers was, opkyk na Jesus toe en vorentoe kyk na sy toekoms, kry die lewe volle sin en betekenis, met sy soet en suur, hartseer en trane.

Ek bid dat jy vandag sterk sal staan in jou geloof, in Jesus Naam.
(Gedeeltes uit Die Bybellennium Eenvolume Kommentaar)

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 111 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *