DIE EIE-EK.

Die Here Jesus het gekom sodat ons die lewe kan hê en dit in oorvloed. Jesus sê in Johannes 10:10: “‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Hierdie lewe van oorvloed dui natuurlik op die ewige lewe, die lewe in sy volmaaktheid, die lewe soos wat God bedoel het dit moet wees. Die hartseer is, dat baie mense dink hierdie lewe van oorvloed is iets wat eers begin na die wederkoms. Dit is egter nie waar nie. Nou reeds moet ons iets van die volheid van die lewe ervaar en die lewe geniet.

Natuurlik weet ons dat hierdie lewe van oorvloed eers volmaak sal wees die dag as ons saam met God op die nuwe hemel en aarde leef. Die hartseer is dat ons bitter min van hierdie lewe in oorvloed sien en ervaar. En daar is baie redes daarvoor. Een van die redes is omdat die ‘eie ek’ en my eie planne en ideale ons van vreugde beroof. Kom ons fokus op die verhaal van Abraham en Sara en sien hoe die ‘eie ek’ vreugde uit hulle lewens gesteel het. Die verhaal van Abraham begin in Genesis 12, waar die Here aan Abraham ‘n opdrag gee om vanuit sy geboorteland te trek. Die Here maak verder aan Abraham ‘n wonderlike belofte van ‘n groot nageslag. In Genesis12:1-3 gee die Here aan Abraham die opdrag wat ‘n wonderlike belofte inhou, belofte van land, nageslag en seën. Abraham, baie gehoorsaam aan die Here, pak op en trek.

Die enigste probleem is, Abraham en Sara raak ongeduldig met God, want die tyd stap aan en hierdie beloftes word nie waar. Daarom vra Abraham vir die Here in Genesis15:2-3: “‘Here my God, wat kan U vir my gee? Ek sal kinderloos sterf, en Eliëser die man uit Damaskus sal my besittings kry.’ Abraham het verder gesê: ‘U het nie vir my ‘n nageslag gegee nie. ‘n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees.'” Die Here gee egter aan Abraham die gemoedsrus in vers 4-6, waar Hy hom verseker: “‘Daardie een sal nie jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees.’ Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: ‘Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.’ Verder sê die Here vir hom: ‘So baie sal jou nageslag wees.’ Abraham het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abrahamm so volgens die wil van die Here gehandel het.'”

Ongelukkig raak die wag vir Abraham en Sara te veel. Sara kry ‘n blink idee en maak die voorstel in Genesis 16:2: “‘Die Here het my nou eenmaal daarvan weerhou om kinders te kan hê. Gaan slaap by my slavin. Miskien bring sy ‘n kind in die wêreld wat my eie kan word.’ En Abram het saamgestem met sy vrou.'” Tipies mens, as God te lank wag, dan maak ons sommer self ‘n plan. Maar Sara se plan was nie so ‘n slim plan nie en het meer hartseer gebring as vreugde. Sara ervaar minagting (Lees Genesis 16:3-5) en jaloesie (Genesis 21:8-10). Hierdie verhaal van Abraham en Sara wys ons hoedat die ‘eie ek’ en die ‘eie wil’ en my ongeduld vreugde in my lewe kan steel. God het aan Abraham en Sara ‘n nageslag belowe, op die regte tyd, maar vir Abraham en Sara wag God te lank en hulle besluit toe hoe, waar en wanneer. En nou ervaar hulle die spanning en die verwyte van die ‘eie wil’, die ‘ek sal self’, die gevolge van ongehoorsaamheid.

Dit gebeur vandag nog. Ons maak dikwels ons eie planne uit ongeduld, en die hartseer is, dan sit ons met Ismaels en Hagars wat versorg moet word. Dan sit ons met die gevolge van ons eie slimmigheid, wat die lewe vir ons bitter maak. Vreugde ervaar ons as die ‘eie ek’ sterf en ons kan leer om God te vertrou en te wag op God se leiding.

Here, help my asseblief om aan myself te sterf en net op U te vertrou en te wag, in Jesus

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 382 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *