DIE KREUPEL HONDJIE.

Hebreërs 4:14-16: “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.”

Ek lees nou die dag die storie van ‘n boer wat ‘n werpsel hondjies gehad het wat hy wou verkoop. Op ‘n stuk karton het hy ‘n advertensie geskryf vir die vier hondjies wat hy van die hand wou sit en was net besig om die bord aan die plaashek vas te maak, toe hy ‘n stemmetjie agter hom hoor: “Oom, ek wil graag een van oom se hondjies koop.” Die boer draai om en sien ‘n klein seuntjie agter hom staan.

“Ou seunie,” antwoord die boer, “ek weet nie so mooi nie, want hierdie hondjies is nogal duur.” Die seuntjie dink ‘n oomblik, steek sy hand in sy sak en haal ‘n paar muntstukke te voorskyn. “Ek het vyf-en-veertig sent, oom. Is dit genoeg sodat ek na hulle kan kyk?” Die boer glimlag. “Natuurlik!” Hy fluit hard en roep, “Kom hier, Tessa.” Tessa kom dadelik uit die hondehok en hardloop na die boer toe. Agter haar kom vier klein bolletjies pels aangehardloop.

Die seuntjie se gesiggie verhelder en sy ogies blink sommer terwyl hy die hardlopende honde dophou. Maar dan vang sy oog iets by die hondehok. Nog ‘n klein bolletjie pels is besig om stadig by die hondehok uit te kruip en sukkel-sukkel begin die hondjie agter die ander aanhardloop.

‘Ek wil dáárdie een hê, oom!” sê die seuntjie en beduie na die hondjie wat aangehobbel kom. Die boer kniel by die seuntjie en sê: “Ou seun, jy wil nie regtig daardie hondjie hê nie. Hy sal nooit saam met jou kan hardloop en speel soos een van hierdie ander hondjies nie.” Die seuntjie buk egter en begin sy een broekspyp oprol. Om sy been is ‘n ‘steel brace’ wat aan ‘n spesiale skoen vas is. Die seuntjie kyk na die boer en sê: “Oom sien, ek kan self nie so goed hardloop nie en daardie hondjie gaan iemand nodig hê wat verstaan.” Sy oë is vol trane toe die boer afbuk om die hondjie op te tel. Versigtig gee hy die hondjie vir die seuntjie. “Hoeveel, oom?” vra hy. “Hy kos niks nie, my kind, want liefde kan geen mens koop nie.”

Almal van ons het behoefte aan iemand wat verstaan. Hebreërs 4 sê dat Jesus verstaan, Hy het medelye met ons. Hy was Self ‘n mens en het alles deurgegaan wat ons deurgaan, so Hy verstaan. En dan word ons in vers 16 uitgenooi om met vrymoedigheid na die genadetroon toe te gaan, want daar ontvang ons barmhartigheid en genade. Maak nie saak wat vandag in jou lewe aangaan nie, Jesus verstaan. Wil jy nie met vrymoedigheid na Hom toe kom en Hom vertrou om Sy liefde, genade en barmhartigheid op jou uit te stort nie?

Dankie, Here Jesus, dat U verstaan. Help my asseblief om met vrymoedigheid tot U te nader.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 96 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *