Marinades

Ingestuur deur Lynette Muller

‘n Klassieke sous, wat deesdae baie in oosterse kookkuns gebruik word, is TERIYAKI. Dit werk wonderlik as jy veral steak daarin laat marineer, en die suiker in die sous, veroorsaak heerlike karamelisering wanneer die vleis op warm hitte neergelaat word.

• Sit 2 koppies soya sous (die light is gesonder – die sout inhoud is laer as die gewone soya sous), 1 koppie suiker, 6 knoffelhuisies en ongeveer 5cm gemmer, saam in die voedselverwerker, en maak alles baie fyn. Hou in die yskas as alles nie gebruik word nie.

• Suurlemoen, suurlemoen, suurlemoen. Dit maak alles sag. Taai steaks oornag in suurlemoen, hoender oornag in suurlemoen of vark oornag in suurlemoen. Wit vis, in klein blokkies gesny, het net suurlemoen nodig om dit te kook – kyk hoe die kleur verander! Die wenner wenk vir hoender kry jy hier, en hierdie is my absoluut gewaarborgde wenner. Jy sal met ‘n swaar gemoed ooit weer ‘n hoender net so uit die winkel in die oond druk!

• ‘n Wonderlike marinade vir skaaptjops, en ‘n welkome verandering in die geur van gebraaide lam/skaap, is om gedroogte roosmaryn te neem, en dit fyn te maak in die vysel en stamper, en oor die tjoppies te sprinkel. Skeut ‘n skoot worcestersous aan beide kante van die vleis, en vrywe die krui en sous lekker oor die vleis. Ten minste vir ‘n uur voor dit die kole tref. Vars roosmaryn werk ook, sny dit baie fyn met ‘n skerp mes.

• Fyngesnyde knoffel, heel takkies tiemie en suurlemoen tussen hoenderstukkies, verrig wondere vir die geur van die dis. Kneus die tiemie effens sodat die olies vrygestel kan word.

• Kinders is gek oor die smaak van tamatiesous, blatjang, worcestersous en ui oor gebraaide hoender. Neem ‘n koppie tamatiesous, ‘n half koppie blatjang, ‘n groot lepel worcestersous en ‘n gerasperde ui, meng saam en marineer hoender hierin voor dit kole toe gaan. Volg hierdie wenk en kook die hoender oor baie lae hitte in die marinade om die braaiproses te verkort. Neem ‘n lepel en bedek die boonste stukke hoender met die sous gedurende die kookproses.

• ‘n Lekker steak marinade, en persoonlike gunsteling van my is om ‘n suurlemoen oor die steak uit te druk, gevolg deur ‘n goeie klomp olyf olie, en ‘n eetlepel sesame olie. Na ‘n paar uur by is daardie steak sag en baie geurig. Die waaghalsiges kan altyd ‘n ‘rub’ maak van knoffel en sout, wat met ‘n mes platgedruk, en tot ‘n pulp gemaak word, ook oor die vleis smeer. Voorwaar ‘n heerlikheid!

• Varkvleis wat gebraai gaan word, kry sommer ‘n eersteklas smaak as 1 teelepel kerriepoeier, 2 teelepels borrie en 2 teelepels suiker gemeng word met 2 teelepels asyn, en ‘n bietjie water, om ‘n pasta temaak. Verdun verder met bietjie water of witwyn, en sorg dat al die vleis van die marinade oor kry. Neem dungesnyde uieringe, en sit dit onder en bo die stukke vleis, en marineer vir ‘n paar uur voor daar gebraai word. Braai vleis met die uie op – die geure is heerlik.

*** Let daarop dat feitlik nerens sout genoem is nie – elke kok het sy smaak vir sout. Hierdie is slegs riglyne vir ekstra geur. Sout en peper na smaak, en die smake kom bymekaar.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 616 times, 1 visits today)
Advertisements
 

One thought on “Marinades”

  1. Vark en Hoender marinade
    200ml pynappelsap 100ml olie
    1 ui, in ringe gesny 1 takkie pietersielie
    1 lourierblaar 6 peperkorrels
    1 gekneusde knoffelhuisie 15ml gemmerwortel, gekap
    5ml fyn gemmer
    50ml suurlemoensap

    Rooivleis marinade
    200ml rooiwyn 100ml olie
    1 ui, in ringe gesny 1 takkie pietersielie
    1 lourierblaar 6 peperkorrels
    1 gekneusde knoffelhuisie
    5o ml balsemiese asyn

     

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *