Hebreërs 10:26-31.

GEEN VERSOENING VIR OPSETLIKE SONDES.

Hebreërs 10:26-31.

Begin jy hierdie gedeelte lees, dan staan die hare op jou nek regop! ‘n Verskriklike ding wat die skrywer hier vir ons wil oordra, dat as ‘n gelowige opsetlik sondig, dan kan geen offer weer sy sondes wegneem nie. Al wat dan oorbly is die verskriklike straf van God waarvan hy later skryf. En nou skrik ek my boeglam, want hoe dikwels sondig ek dan júís opsetlik! Moet ek dus aanvaar dat ek verlore is?

Nee! Dankie tóg!

Ons moet hierdie hele gedeelte in sy konteks lees, en die agtergrond verstaan van die omstandighede van die tyd waarin dit geskryf is. Hierdie gedeelte handel in die eerste plek oor afvalligheid. Die lesers van die oorspronklike brief was bekeerlinge uit die heidendom, waar verskillende afgode aanbid is. Indien so ‘n persoon dan afvallig word van die kerk en terugval op sy ou godsdiens, dan sou dit beteken dat hy weer die ou afgode aanbid. Dit is niks anders nie as om die duiwel self (Satan) te aanbid. Wat ‘n verskriklike gedagte is dit nie, dat iemand die versoening van Christus kon ondervind, en dan vir God in die gesig klap deur terug te val op sy ou afgodediens! Vir so ‘n persoon is die verskriklike straf van God, die helse vuur, sy voorland, ‘n straf wat hy op homself gebring het!

Die skrywer gebruik hier strafsielkunde om te keer dat gelowiges nie afvallig word nie. Ons moet onthou dat Christene in daardie tyd maar ‘n klein minderheid was, en dat daar geweldige vervolging was. Die klein groepie gelowiges moes dus saamstaan en ‘n hegte band vorm. Enige persoon wat dus afvallig sou raak, sou by die vyand aansluit en dus ‘n groot gevaar wees vir die binnekring van die gelowiges.

Kan dit vandag nog steeds gebeur? Baie beslis! Dikwels sien ons hoedat gelowiges wat eens aktiewe lidmate was, wegdryf van die kerk af. Geleidelik raak sy kerkbywoning al hoe kariger. Naderhand sien jy hom op geen kerkfunksie nie. Die uiteinde van die saak is dat hy net kan beledigings gooi oor die predikant/ouderling/diaken en alles wat verkeerd is in die kerk wat, volgens hom, vol huigelaars sit! Hierdie is net ‘n skans om sy eie probleem te probeer verbloem. Natuurlik bring kerkbywoning jou nie in die hemel nie, maar jou versuim om die samekomste van die gemeente by te woon is ‘n simptoom van ‘n baie groter, diepliggende probleem.

Is so ‘n persoon nie dalk besig om stadig weg te sink in die moeras van die vyand nie? Dit is soos dryfsand: dit suig jou stadig maar seker in, en dit is bitter moeilik om daar uit te kom as jy eers diep weggesink het. As jy egter eers heeltemal ondergesuig is, is dit vir ewig te laat……..

Kom ons gaan kyk ‘n bietjie wat werklik hier gebeur. Volgens vers 29 verag hy die Seun van God, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, en minag hy die Gees van genade. ‘n Verskriklike gedagte!

Sondag na Sondag sien ons hierdie simptome: meer en meer leë kerkbanke wat vir ons gaap. Meer en meer eens getroue kerklidmate wat begin afvallig word, of dalk reeds heeltemal te ver afgedwaal het. ‘n Angsgevoel gryp jou aan die hart: wat gaan ons daaromtrent doen? Dalk het die tyd nou aangebreek dat ek en jy uit ons gemakstoele opspring en evangelisasie in ons eie gemeentes gaan doen, om die afvalliges wakker te skud voordat dit vir hulle vir ewig te laat is.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 103 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *