Romeine 6:1-11.

VRYGEKOOPTE SLAWE.

Romeine 6:1-11.

Jy het dit seker al dikwels teegekom dat iemand vir jou sê: “Nee, ek gaan nie kerk toe nie, want ek wil myself nie vereenselwig met ‘n spul huigelaars nie.” En dan gaan die persoon voort deur voorbeelde te gee van die een of ander “vroom” ouderling wat saans in die kroeg sit en suip of liefdeloos lewe of iets dergeliks. Christene is dikwels die oorsaak dat iemand wat soekend is na die evangelie, sy rug daarop draai, omdat hulle bly vaskleef aan die sonde. Hulle het as’t ware slawe geword van hulle sondige begeertes.

In die Bybellennium is die volgende interessantheid omtrent slawe in Paulus se tyd aangeteken:

“In die eerste eeu was daar, na bewering, meer slawe in Rome as vry mense. Slawe het in die tyd wat Paulus sy brief skryf, feitlik geen wetlike regte gehad nie. Romeinse burgers kon hulle slawe na goeddunke uitbuit, mishandel en selfs kastreer of doodmaak. Ongehoorsaamheid is swaar gestraf. Strawwe het ingesluit die doodstraf, lyfstraf of verkoop as galeislaaf, prostituut of gladiator. Tog is daar ook voorbeelde van slawe in die Romeinse beskawing wat baie goed en selfs soos eie kinders behandel is. Gevalle is bekend waar slawe ryk geërf het of deur hulle eienaars met hoë posisies in die samelewing vertrou is. Baie slawe het ook daarin geslaag om hulleself mettertyd vry te koop. Die uiterste voorbeeld van goeie verhoudings tussen ‘n slaaf en ‘n eienaar was wanneer die eienaar aan die slaaf vryheid gee, maar die slaaf vrywillig in die eienaar se diens bly. Later, onder keiser Hadrianus (117-138 nC) het slawe meer regte bekom en meer menslike behandeling ontvang.”

As Paulus in hierdie gedeelte by bogenoemde beeld van Romeinse slawe aansluit, bewys hy eers dat Christus jou van jou vorige wrede eienaar bevry het (Rom. 6:1-11), dan roep hy jou op om jouself in diens van God te stel (Rom. 6:12-20) en derdens wys hy jou wat die resultaat van jou keuse is (Rom. 6:21-23).

Paulus vra die vraag, of ons dan nou maar kan aanhou sonde doen. God het ons tog immers vrygespreek – nou kan ek mos maar doen wat ek wil, want ek is tóg gered! Nee, dit het God nooit bedoel met “vryspraak” nie.

Neem die voorbeeld van ‘n tronk. Voordat jy God se vryspraak ontvang het, was jy vasgevang in die tronk van sonde. Dit was vir jou totaal onmoontlik om daaruit te kom. Hoe harder jy probeer het om daaruit te ontsnap, hoe stewiger was jy daarin vasgeketting. Onthou jy nog hoe hard jy gewerk het om jou paadjie daar uit te wriemel met goeie dade, en allerhande edel dinge? En onthou jy nog hoe bitter moedeloos jy geword het wanneer jy elke keer teruggly in die donker dieptes van reddeloosheid?

Ja, en toe kom daardie wonderlike dag toe God gekom en en die tronkdeure vir jou oopgemaak het. Hy het vir jou gesê: “Jesus, My Seun, het jou volle straf gedra aan die kruishout. Daarom spreek Ek jou nou vry. Jou skuld is betaal.” Onthou jy nog daardie blye dag toe jy uit daardie tronkdeure van sonde uitgestap het, ‘n vry persoon? Natúúrlik sal jy dit onthou! Wie kan dit dan ooit vergeet!

Om nou terug te val in die sonde, beteken om vrywilliglik self terug te stap in daardie selfde tronk in, en die seldeure agter jou toe te trek. Hoekom sou enigiemand so dwaas wou wees om só ‘n ding te doen? As Christus ons vrygemaak het van die sonde, dan beteken dit dat ons ook nie meer slawe van die sonde is nie, maar vry om God te dien. Ons moet onsself dan in diens stel van God as werktuig om te doen wat God wil. Eintlik is dit baie maklik, want as ons net gewillig is, en Hom toelaat, gee die Heilige Gees vir ons die krag om dit te doen.

Moenie lê en wag dat versoekings oor jou pad kom nie – geniet jou lewe voluit saam met Christus!

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 72 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *