DETOKS DIE BREIN.

DETOKS DIE BREIN.

Hier word nou geskryf oor daaglikse gebeure wat ons almal raak. Wie lees koerante? Wie het ‘n televisiestel? Wie het ‘n selfoon? Internet? Ons word daagliks, 24/7, gebombardeer deur die media, in besonder die elektroniese media.

‘n Mens kan elke dag die koerante oopslaan en die voorblad sal verwys na moorde, korrupsie in die regering, siektes van bekende sportmense en so aan. Ons as kinders van die Almagtige God en Hemel Vader sien elke dag hoe siek ons land geword het en dit versleg by die dag. Pappa Vader se belofte aan ons oor ons besondere mooi land word gevind in 2 Kronieke 7:14 wat soos volg lui: “…en My volk oor wie My Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na My wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.”

Nou vra ek jou, hoe gaan ons onsself detoks van die inligting wat ons elke dag gevoer word deur die media? Die eerste voorbeeld wat ek wil meld word gevind in Eksodus 15:22: “Moses het die Israeliete laat wegtrek van die Rietsee af en hulle het na die Surwoestyn toe gegaan. Hulle het drie dae lank die woestyn in getrek en geen water gekry nie.” 

Lees ons verder vind ons dat toe water gevind is by die plek Mara, was die water bitter. Die Israeliete het terugverlang na die kospotte van Egipte. Indien ons vandag in die Israeliete se skoene gestaan het, het ons terugverlang na die Steers hamburgers en tjips, Debonaires se pizza’s, Fishaways se calamari en rys, ons groot 108cm LG platskerm televisiestelle, blackberry selfone en internet, om net ‘n paar goed te noem! Ons sien dat die Israeliete vir drie dae sonder kos en water is. Hulle was besig om te detoks, want die gemorskos van Egipte was na drie dae uitgewerk. Die bitter waters van Mara bevat vitamiene wat die mae verder sou skoon spoel en ook die liggaam voed. Die bitter water is deur God verander om soet te smaak en dit het die Israeliete liggaamlik versterk. Ons kan dus hier aanneem dat om te vas, detoks die liggaam en word gifstowwe uitgeskei. 

Here, my God, help my om verby materiële dinge te kyk na die kruis van Jesus en te onthou wat Hy vir my gedoen het. Here, lei my om van die goed ontslae te raak wat ‘n obstruksie tussen U en myself veroorsaak. Dankie daarvoor, in Jesus Naam. Amen. 

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 89 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *