Galasiërs 4:8-20.

VRYHEID IN CHRISTUS.

Galasiërs 4:8-20.

Op ‘n  Ripley’s program wat ek een aand gekyk het, was daar twee baie ontstellende episodes: Die eerste was van drie broers in Indië wat gebore is met ‘n baie rare gebrek. Hulle skedels is baie kleiner as normaal, met die gevolg dat hulle ‘n bobbejaanagtige voorkoms het. Hulle is boonop verstandelik erg gestremd. Vir die mense van die omgewing is dit egter ‘n wonderwerk, en glo hulle dat die broers die inkarnasie is van die aapgod, Hannuman. Die broers word letterlik aanbid as gode! Tragies!

Die tweede ontstellende toneel was van mense wat op hulle maag teen ‘n berg opseil, oor klippe, deur modder vir kilometers ver, tot by ‘n tempel, om die guns van die een of ander god te verkry. Die verskriklike pyn en uitputting wat hulle moet deurmaak is skrikwekkend!

In albei gevalle hierbo is die arme mense slawe van die nikswerd afgode. In sy brief aan die Galasiërs, gebruik Paulus nou baie kras woorde as hy skryf: “Daar was ‘n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees?”

Die Galasiërs het die een afgodsdiens verruil vir ‘n ander soort afgodery, een wat op die oog af onskuldig en baie godsdienstig lyk, maar in der waarheid net so veel ‘n afgodery is. Paulus verwys hier na die Joodse kalender wat stiptelik nagekom moet word: “…besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare…” Nie alleen moes die feeste op ‘n spesifieke manier gevier word nie; volgens die Joodse interpretasie moes hulle ook op die presiese regte datum gevier word. Soms het die Jode hewig onder mekaar verskil oor die datum waarop ‘n spesifieke godsdienstige fees gevier moes word. Paulus rig hier ‘n baie emosionele pleidooi, en ‘n mens kan nie help om hartroerend saam met Paulus te voel oor hierdie saak nie. Hoe kan ‘n mens jou vryheid in Christus wil verruil vir so ‘n vorm van geestelike slawerny? Maar Paulus trap net so hard op óns tone, want dit gebeur vandag nog steeds met ons. Baie mense voel hulle meer tuis in ‘n soort Christelike godsdiens waar allerhande reëls en wette uiters belangrik word. 

Hier moet ‘n mens dalk besin oor hoedat jy die Erediens wil inkleur: Hoe moet jy aantrek? Daar was jare gelede in ons gemeente ‘n vurige debat oor die drag van kerkraadslede, en sommige mense wou hê dat dit sonde sou wees as hy nie ‘n swart pak dra nie! (Dankie tog: ook die hoed het gesneuwel!). 

Vat nou maar ons kerkmusiek: Jy durf geen ander musiekinstrument by ‘n Erediens gebruik as ‘n orrel of klavier nie! Hoekom nie? Wat maak ‘n orrel en klavier dan nou soveel “heiliger” as ‘n kitaar of saksofoon of enige ander instrument? Ons sing tog immers: “Loof Hom met die tromme, loof Hom met die harp” terwyl ons eintlik bedoel “Loof Hom slegs met klavier en orrel.”

En dan is daar die debat rondom die taal waarin ons mag sing: Jy mag nie in sekere kerke ‘n Engelse lied sing nie! Ook nie Latyn, of enige ander taal nie, slegs Afrikaans. As dit die geval is, dan is ons besig om ‘n afgod te maak van Afrikaans! Dan is ons net so pateties as die armsalige mense wat die verstandelik gestremde broers aanbid. Hoor wat die Here deur Paulus oor hierdie dinge sê: Dit is niks anders as ‘n vorm van geestelike slawerny nie. Christus maak jou vry van hierdie slawerny.

Ek het hierdie gedeelte vanoggend biddend geskryf. Dit is nie wat ek wou skryf nie, maar wat die Heilige Gees my op die hart gelê het. Indien jy betrokke is in die een of ander debat soos wat hierbo genoem is, bid dan dat die Here jou die wysheid sal gee om te kies vir die vryheid in Christus.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 50 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *