Wanneer laas het jy Gebid?

Dalk het jy al hierdie storietjie iewers gehoor. Dis die verhaal van ‘n jong bokwagter daar in die woestynagtige gebiede in die Arabiese lande. Elke oggend het hy gebid dat die Here hom vandag so sou lei dat hy iewers iets te ete sal kry vir sy bokke en dat hy iewers water sal vind vir die bokke om te drink…. en elke dag het die Here sy gebed verhoor!

Op ‘n dag kom hy by ‘n nedersetting wat gebou is rondom ‘n soort oase. By die ingang van die nedersetting ontmoet hy ‘n man wat daar sit met ‘n groot hoop voer wat hy verkoop. Die bokwagter vra vir hom of hy ‘n bietjie van die voer kan kry. Die man sê toe vir hom hy kan elke dag van die voer vir sy bokke kry as hy hom net eenkeer per week ‘n boud van ‘n bok gee om te eet. Hulle kom toe so ooreen. Die bokwagter besef egter dat sy bokke ook water nodig het en hy vra die voerverkoper waar hy water kan kry. Die voerverkoper stuur hom na die middel van die nedersetting waar ‘n vrou by ‘n waterryke put sit en water skep in trôe vir diere om te drink. Die bokwagter vra vir haar of sy bokke van die water mag drink. “Natuurlik!” sê sy. “As jy net elke oggend vir my ‘n emmertjie bokmelk bring, mag jou bokke elke dag van hierdie water kom drink.” Hulle kom toe so ooreen. Die bokwagter is baie tevrede daar weg om vir hom ‘n plekkie te gaan soek waar hy rustig kan woon binne stapafstand van die voer en die water.

Twee weke later staan die bokwagter en kyk hoe sy bokke water drink by die vrou se put en dink…. en skielik besef hy hy het twee weke gelede laas gebid!

Is dit nie ook maar hoe dit baiekeer met ons gaan nie? Ons kom op ‘n stadium in ons lewe waar alles so goed uitwerk. Ons het werk en ‘n inkomste en ons kan ‘n klompie lekker dinge in die lewe bekostig, en dan vergeet ons van God. Ons vergeet dat dit Hy is wat vir ons die inkomste moontlik gemaak het en wat sorg vir ons welstand en vir ons gesondheid en vir die geleenthede wat oor ons pad kom sodat ons kan hê wat ons het. Dan kom ons mos self reg. Al sê ons dit nie, leef ons so asof ons Hom nie nodig het nie. Dit is eers weer wanneer ons in ‘n noodsituasie beland dat ons skielik onthou om weer te bid. 

So ‘n verhouding met God is baie ongesond. God wil in ‘n verhouding met jou lewe in al die omstandighede waarbinne jy jouself mag bevind. Hy is nie ‘n deeltydse Vader wat net gebruik word (in diens gestel word) wanneer Hy die goed moet voorsien wat ek wil hê nie. Hy is die Vader wat in goeie en slegte tye my Vader wil wees. Hy wil in ‘n lewende “elke-oomblik” verhouding met my lewe. Hy wil hê ek moet Hom in alles ken, sodat ek in elke oomblik van voorspoed dankbaar sal leef teenoor Hom en in elke oomblik van teenspoed in groot afhanklikheid aan Hom sal vashou.

Vader, herinner my asseblief deur U Gees wat in my woon om elke dag dankbaar te wees vir U goedheid en elke dag afhanklik te wees van U hulp, in Jesus Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 63 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *