Die allerlekkerste ertjiesop

3 eetlepels olyfolie
3 groterige uie, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 gerookte varkskenkel van ongeveer 1 kg
3 selderystingels, in stukkies gekap (as die blare nog aan die stingels is en mooi vars en ferm is, kap ek sommer daarvan ook fyn)
4 groterige preie, goed skoongemaak en in muntstukke gesny sop1
3 groot wortels, geskraap en in blokkies gesny
4 groterige aartappels
1 x 500 g pakkie split-ertjies
‘n lekker groot handvol vars origanumblare
6 – 8 koppies water
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit die olie in ‘n swaarboomkastrol.
(My ma het altyd in so ‘n lekker groen ysterpot gekook en toe ek die dag my duur Franse ysterpot gaan uitsoek, het ek sonder om te dink net so ‘n groene gekies.
Maar ek sweer hare kook baie lekkerder as myne.)
Braai die uie daarin tot sag en deurskynend.
Voeg die knoffel by en braai so ‘n minuut of twee saam.
Sny die tou-omhulsel om die varkskenkel los (indien dit wel so opgebind is) sodat die vleis makliker kan loskook.
Plaas die skenkel saam met die uie en knoffel in die pot. Voeg die seldery, preie, wortels en aartappels by.
Bedek die pot en laat die groente so vir 15 minute lank sweet. As jy bang is dit gaan aanbrand, kan jy so ‘n skeutjie water byvoeg.
Voeg die split-ertjies en origanum by en dan die water. Meng alles goed en maak die pot dig toe.
Verlaag die hitte en laat stadig vir so ‘n uur of twee kook totdat die erte sag is, die vleis los van die been en vel afkom en die sop begin dik word.
Verwyder die bene en die vel en maak die res van die vleis los sodat dit met die sop vermeng.
Skep so ‘n kwart van die sop uit  in ‘n afsonderlike bak en verpulp met ‘n handmenger of in ‘n voedselverwerker.
Giet dit terug in die pot en roer deur die sop. As die sop steeds nie die tekstuur het wat jy verlang nie, kan jy die proses herhaal.
Geur met sout en peper na smaak en maak weer deurwarm.

Skep uit in sopbakke en sorg dat elke ou so ‘n stukkie vleis kry.
Bedien met varsgebakte brood of sommer net so.

Resep met vergunning van toorkombuis.co.za

 

 

Blogger:  http://eposvriende.blogspot.com

Source: www.liplekker.co.za

Facebook:  www.facebook.com/ResepteRecipes

 

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 3,713 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *