Efesiërs 4:15

GROEI.

Ek deel graag vandag met jou ‘n insiggewende oordenking wat ek raakgelees het. Dit is geskryf deur Bayless Conley.

Die Bybel leer ons in Efesiërs 4:15 dat ons in alle opsigte moet groei. Hier volg 10 areas waarin die Bybel sê ons moet groei. Nadat jy elkeen gelees het, vra jouself die vraag of jy groei soos jy moet in elkeen van hierdie areas. 

1. Neem toe in die kennis van God – Efesiërs 4:15. Jy is veronderstel om nou meer te weet van God en Sy Koninkryk as wat jy verlede week geweet het.

2. Groei in ons invloed – Psalm 71:21. Elkeen van ons moet groei in die invloed wat ons het om goed te doen aan ander.

3. Ons moet op materiële gebied groei – Spreuke 13:11. Wanneer ons oorvloedig besit, het ons ook oorvloedig om uit te deel.

4. Toeneem in vreugde – Jesaja 29:19. Dit lyk deesdae of mense net suurder en suurder word en al hoe minder ‘n sin vir humor het. Ons moet egter groei in ons vermoë om te lag vir die op-en-af van die lewe.

5. Toeneem in geloof – 2 Thessalonisense 1:3. Geloof raak elke aspek van ons lewe. Hopelik raak ons nie vandag so paniekerig wanneer beproewinge oor ons pad kom soos ons voorheen gedoen het nie, omdat ons geloof toegeneem het en ons al soveel keer beleef het dat God goed is en die goeie vir ons doen.

6. Ons liefde vir mekaar moet toeneem – 2 Thessalonisense 3:12 en 1 Thessalonisense 4:9-10. Mag nie een van ons ooit die bodem bereik van ons liefde vir God en vir ons naaste nie.

7. Groei in ons eenheid – Efesiërs 2:19-22. Ek en jy is veronderstel om al hoe beter met ander gelowiges oor die weg te kom, veral met diegene wat saam met ons in ons gemeente is.

8. Toeneem in wysheid – Lukas 2:52. God wil jou so graag toerus met Sy wysheid, maar dit is iets waarvoor jy moet vra. Neem jy toe in wysheid?

9. Toeneem in guns – Lukas 2:52. Is jy een van daardie mense met wie dit moeilik is om oor die weg te kom? Vind jy dit op jou beurt weer moeilik om met ander oor die weg te kom? As dit waar is van jou, daag ek jou uit om bietjie te kyk na Jesus se lewe. Hy het toegeneem in guns by God en mens.

10. Toeneem in genade – 2 Petrus 3:18. Ek weet nie van jou nie, maar ek is werklik dankbaar vir God se genade in my lewe. Ek is ook baie dankbaar vir elkeen wat my genadig is wanneer ek droogmaak. Is genade deel van jou lewe?

Volgens die Woord is hierdie tien baie belangrike areas waarin ek en jy moet groei. Ek daag jou uit om weer elkeen van die skrifgedeeltes te gaan lees en elke area voor die Here te bring en Hom te vra om jou te wys waar jy moet groei. Jy sal verstom staan oor die goeie veranderinge wat in jou lewe gaan plaasvind! 

Here, wys my waar ek moet groei en help my asseblief deur die Heilige Gees om dit te doen, in Jesus Naam.

 

 

.

 

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 88 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *