Jesaja 40:12

KAN GOD ONS HELP?

Tydens die ballingskap van die Jode in Babel het die volk vir die profeet gevra: ‘Kan die Here ons help? Is Hy enigsins in staat daartoe? Hier sit ons in ballingskap. Ons is oorwin deur die Chaldeërs. Hulle het Jerusalem, ons geliefde stad, vernietig. Ons is verneder in die oë van die wêreld. Is die gode van die heidennasies nie dalk regtig sterker as ons God nie? Dit wil vir ons lyk of Hy glad nie in staat was om ons te help toe ons aangeval is nie.’ In Jesaja 40:12 lees ons die profeet se antwoord op hierdie vraag. 

Die profeet kom sê vir die volk: “Kom ons vergelyk God ‘n bietjie met ‘n paar goed wat regtig groot is.” Vat byvoorbeeld die water in die see. Vir ons is dit oorweldigend groot. Vir God is dit ‘n klein bietjie water wat Hy in die holte van Sy hand afgemeet het. Kyk na die ontsaglike hoë berge. Vir God is dit ‘n bietjie grondjies wat Hy op ‘n skaaltjie geweeg het. Kyk na die magtige nasies wat die Jode met geweld uit Jerusalem verwyder het en hulle in Babel gevange hou. Die oormag was net te groot. Vir God is hierdie magtige nasies soos ‘n druppeltjie aan ‘n emmer en ‘n stoffie op ‘n skaal. Hulle maak geen indruk nie. En die sogenaamde magtige gode wat dalk sterker as God kan wees? Hulle is maar beeldjies wat deur ‘n ambagsman gemaak is en wat nie eers self kan staan nie. Die ambagsman moet spesiale moeite doen om die dingetjie so te balanseer en te stut dat hy nie omval nie. Die groot heersers van die wêreld, soos Nebukadneser, lyk uit ons oogpunt magtig en vreesaanjaend. God blaas net Sy asem oor hulle en hulle verdor en word weggewaai soos stoppels in die wind.

Die mooiste een vir my is die beskrywing van die sterrehemel. Hoe vergelyk God met hierdie ontsaglike, onmeetbare heelal? Die profeet het maar ‘n baie beperkte kennis gehad van die omvang van die heelal. Ons weet vandag baie meer (nog lank nie alles nie!) en daarom weet ons dat die sigbare heelal oor duisende miljoene ligjare strek… en God is groter as dit alles. Hy het alles gemaak deur net ‘n woord te sê. 

Alles wat tot hier toe gesê is, laat my dink aan die kinderliedjie wat sê: “My God is so groot, so sterk en so magtig; daar’s niks wat my God nie kan doen!” Jesaja is so bewus van die grootheid en die krag van die Almagtige God, dat hy nie anders kan nie as om vir die volk te vra: “Vir wat kla julle dan so?” Vir hierdie groot God is niks onmoontlik nie. Die Here is die ewige God – die Skepper van die heelal. Hy kan nie moeg en swak word soos ‘n mens nie. Inteendeel! Hy het soveel krag dat Hy in staat is om dié wie se krag opraak te versterk, sodat hulle weer kan opstaan en aangaan. Hy nooi ons uit om ons vertroue in Hom alleen te stel. Hy belowe: “Dié wat op die Here wag, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke. Hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”

Kan hierdie God ons help? Vir seker! Hy het al die mag in Sy hande. Jy ken die situasie waarin jy self vandag is. Wag op die Here – Hy sal jou weer optel en krag gee om aan te gaan, selfs al voel jy dis onmoontlik. Hy kan baie meer doen as wat jy kan bid of dink.

Ek sien U nou weer in ‘n nuwe lig, Here. Vergewe my my kleingeloof, asseblief, en laat my weer vlieg met arendsvlerke, in Jesus Naam. Amen. 

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 93 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *