Josua 6:15-19

Josua 6:15-19.Maar op die sewende dag het hulle vroeg klaargemaak toe die rooidag uitkom, en die stad op dieselfde manier sewe maal omgetrek; net maar dié dag het hulle die stad sewe maal omgetrek. En toe die priesters die sewende keer op die horings blaas, sê Josua vir die volk: Skreeu! want die Here gee die stad aan julle oor. Maar die stad met al wat daarin is, moet ’n banoffer aan die Here wees; net Ragab, die hoer, mag lewe, sy en almal wat by haar in die huis is, omdat sy die boodskappers wat deur ons gestuur was, weggesteek het.Maar neem julle net in ag vir die ban, dat julle nie, terwyl julle met die banvloek tref, tog van die bangoed neem en die laer van Israel onder die ban bring en dit in die ongeluk stort nie. Maar al die silwer en goud en die koper- en ystervoorwerpe is heilig aan die Here: dit moet by die skat van die Here kom.

Die Here wil nie maar net dat ons sy kinders sal wees nie. Hy wil dat ons sy gehoorsame kinders sal wees.
Net so min as wat ons God sonder geloof kan behaag (Hebr 11:6), kan ons Hom sonder gehoorsaamheid behaag. Selfs ons mooi godsdienstige gewoontes en handelinge kan Hom nie behaag as gehoorsaamheid in ons lewe ontbreek nie.

( 1 Sam 15:22).Waarom het jy dan nie na die stem van die Here geluister nie en op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here? Toe sê Saul vir Samuel: Ek het na die stem van die Here geluister en gegaan op die pad waar die Here my op gestuur het, en Agag, die koning van Ámalek, gebring; maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref. Maar die manskappe het van die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die Here u God in Gilgal te offer. Daarop sê Samuel: Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.

Die inname van Jerigo was ñ toets vir Israel se gehoorsaamheid. Uit ñ militêre oogpunt het dit byna belaglik gelyk om sewe maal om die stad te trek. Om jou so aan die vyand bloot te stel, het so te sê op selfmoord neergekom. Tog het die volk van die Here dit gedoen omdat Hy dit uitdruklik so beveel het. Anders as in so baie ander gevalle het hulle sy opdrag stiptelik gehoorsaam. Jerigo het wonderbaarlik in hulle hand geval sonder dat hulle enige verliese gely het.
Gehoorsaamheid betaal. daardeur behaag ons God. Daardeur deel ons in sy seëninge (Deut 5:29; Openb 22:14). Daardeur bewys ons ook dat ons die Here waarlik liefhet. “As julle my liefhet, bewaar my gebooie’ (Joh 14:15,23).

Is jy ñ gehoorsame kind van u hemelse Vader? Vandag ry my vriend Pietman die hele Afrika vol. Sy grootste “storie” is wanneer hy vertel hoe sy lewe se koördinate dramaties verander het toe hy die Man van Nasaret trompop raakgeloop het. Almal wat die ou Pietman geken het, wie se lewe nie meer ontsier is deur daardie dinge wat “tawwe manne” gewoonlik doen om hul manlikheid te bewys nie. Maar ’n mens bly ook maar net mens. Hier en daar steek dinge vas wat moeilik uit jou sisteem padgee. Daarom dat Pietman so geskok was toe hy op ’n dag bewus raak van ’n innerlike oortuiging dat hy sy huiswerker, Maria, se voete moet was. Hy, wat voete was?!
Dit het nie te lekker afgegaan nie. Maar vir iemand wat so radikaal tot geloof gekom het, en wat nie met die gewig van godsdienstige vroomheid opgesaal sit nie, is só ’n oortuiging nie grappies nie. Nogtans was dit nie ’n maklike ding om te doen nie. Jy moet immers op jou knieë voor iemand staan as jy voete was. Pietman het weke lank oor hierdie voetwassery-ding getob. Tot op ’n dag dat hy dit nie langer kon uithou nie. Hy het vir Maria nader geroep en vir haar gesê om haar skoene uit te trek. Terwyl dié waardige dame, wat al jare lank by Pietman werk, hom groot-oog aangekyk het, het hy haar voete onbeholpe gewas. Hy, ’n man onder die manne, op sy knieë voor sy huiswerker met ’n skotteltjie water het skielik hardop uitgebasuin waarvoor Jesus staan.

Toe volg die eintlike skok ’n paar dae later. Maria het kom sê: “Meneer Pietman, jy moet asseblief Sondag in kerk kom voete was!” “Hoekom?” het Pietman gevra. “Ek werk al jare lank vir jou, maar jy het nooit agtergekom van die artritis wat maak dat ek moeilik oor die weg kom nie. Nou die dag, toe jy my voete gewas het, sou my laaste werkdag by jou gewees het. Ek wou bedank want ek kan nie meer die pyn uitstaan nie. Maar toe was jy my voete. Kyk, ek kan weer loop. “Die pyn is weg. Die Here het my aangeraak. Die mense by my kerk het hiervan gehoor. Hulle wag vir jou!” Egte Goeie Nuus het daardie dag gewen. Pietman se buite-die-boks-gehoorsaamheid was al wat nodig was om sy lewe in sesde rat te plaas. Terloops, jy moet hierdie ou grote deesdae hoor. My vriend loop deesdae saam met Jesus op water rond! En ek leer by hom. Want dis dáár waar ek ook die graagste wil wees.

Miskien het ek self te gewoond geraak aan heilige dinge. Ek is al só ge-kerk, be-preek, op-gepreek, ingelig, geleer, of self aan die leer dat min dinge aan die geestelike front my nog soos ’n klein kindjie verras. Eintlik het ek my geloof lankal in ’n veilige boksie verpak met etikette aan alles en almal daarbinne én daarbuite. Ek is vas oortuig van wat reg en verkeerd is, en saam met ander sing ek Sondae half valerig oor Jesus wat die Bron van my vreugde is. Dalk het ek ook tussendeur Christenskap in ’n stel dooie reëls vervorm, in plaas van ’n lewende verhouding met Jesus. Ja, ek veg vir die waarheid en staan dapper op vir my beginsels, maar verander dit mense se lewe ooit op die regte manier?

Daarom dat ek skielik so doodmoeg is vir dié geblikte, kort-raklewe-godsdiens waarvan die vervaldatum lankal verstryk het. Met dié dat ek vandag amptelik bedank by die kerklike klub van veilige heiliges waarvan ek die erevoorsitter of ouderling is! Ek wil Jesus weer op verrassende maniere ontdek, soos wat Hy vir Maria en Pietman verras het deur hulle in ’n lewende seën vir mekaar en ander te verander. Terwyl ons kerklik dink, praat en dreig oor hoe ons nog eendag die wêreld gaan verander, gebruik Jesus intussen doodgewone mense onder ons neuse om ’n paar sentimeter op ’n slag splinternuut te maak. Dit het die hemele geskud. Dink net wat sal gebeur as ons almal die kerklike servette van ons nekke afhaal en ons dit ’n slag oor ons arms gooi om self ook bediendes van Jesus te word!

Hemelse Vader, vergewe my dat ek so dikwels ongehoorsaam is. Help my om U gebooie te bewaar. Help my om so te wys dat ek U waarlik liefhet. Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 105 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *