DIE AANKLAG

DIE AANKLAG
“So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Juda, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle die wet van die HERE verwerp het en sy insettinge nie onderhou het nie; en hulle leuengode het hulle verlei waar hulle vaders agter aan geloop het. Daarom sal Ek ’n vuur slinger in Juda, en dit sal die paleise van Jerusalem verteer. So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Israel, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle die regverdige vir geld verkoop het en die behoeftige vir ’n paar skoene.” (AMOS 2:4-6).

Juda het hier veroordeel word op grond van hulle verwerping van God se besondere openbaring. Laas keer het ons daarop gelet dat God die heidennasies aanspreek oor hulle oortredinge teen Sy algemene openbaring(wat hulle ontvang het), maar nooit oor enige sondes teenoor Homself nie. In Sy regverdigheid hou Hy daarmee rekening dat hulle nie Sy besondere openbaring ontvang het nie. Maar oor laasgenoemde word Juda onmiddellik voor stok gekry, want vir seker ontvang hulle al vir eeue God se besondere openbaring.

Die spesifieke uitdrukkings wat die Woord hier gebruik, baie betekenisvol. Juda het “die wet” van die Here verwerp. Die Hebreeuse woord praat nie soseer van ‘n onpersoonlike wet nie, maar van persoonlike onderwysing, met die verwante idee van persoonlike kontak tussen onderwyser en leerling. Ook het Juda “die insettinge” van die Here nie gehou nie. Die woord se wortelgedagte is om uit te kerf of te grafeer. Dit herinner natuurlik dadelik aan die feit dat God die Tien Gebooie met Sy vinger op klippe geskryf het. Die idee hier is dus die onveranderlike permanensie en betroubaarheid van God se voorskrifte. Juda het dus nie net God se persoonlike en liefdevolle bemoeienis met hulle verag nie, maar hulle het ook die onuitspreeklike kosbaarheid van ‘n lewensnorm wat tydloos en universeel op ‘n pad van verhewe moraliteit en welsyn lei, gering geskat.

Juda het nie net hulle rug gedraai op die gawes van God se bemoeienis en ewige norme nie, maar aktief het hulle ook agter leuens aangeloop. As mens eers die waarheid oorboord gegooi het, is ‘n lewe volgens die leuen immers onvermydelik. Maar in hierdie verwyt sit nog meer: hierdie leuens kom al van die voorvaders af. Juda het met ander woorde, sonder om twee keer te dink, die sondige lewenstyl van hulle voorgeslagte nagevolg.
WAT SÊ DIT ONDER MEER VIR ONS?

God se oordele is altyd regverdig.
Juda word geoordeel in ooreenstemming met die openbaring wat hulle ontvang het.
Sekerlik is dit ‘n baie, baie groot voorreg as die Here deur Sy Gees se verligtende werk ‘n mens en ‘n gemeente diep inlei in die geheimenisse van die Nuwe Verbond. En om dit na te jaag, is gewis elke gelowige se onontkombare verantwoordelikheid en roeping. Maar terselfdertyd moet ons onthou dat elke nuwe stukkie lig wat mens ontvang, tot jou aanspreeklikheid toevoeg. Waarmee die heidennasies nog kon wegkom, is teen Juda gehou. Waarlik, die lewende God is ‘n regverdige God!

“Want almal wat sonder wet gesondig het, sal ook sonder wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word; omdat nie die hoorders van die wet by God regverdig is nie, maar die daders van die wet geregverdig sal word.” (ROMEINE 2:12-13).

Onthou God het nie witbroodjies nie. Nou sit jy in n groot dilemma. Jy weet dat om goed te doen noodsaaklik is as jy die straf van God wil vryspring. Jy probeer we’ll partykeer goeddoen, maar weet ook diep binne-in jou dat dit nooit volmaak en nooit genoeg en nooit meer is as al die verkeerde dinge in jou lewe nie. In selfs jou beste werke sit altyd nog te min liefde, te veel eiebelang, foute en ongehoorsaamheid. Hierdie dinge gaan nie by die Alwetende God verby nie. HOU MOED!
Die heidene moes beter geweet het; Juda (en natuurlik ook Israel) het beter geweet. En daarom is die verbondsvolk strenger geoordeel.

“”En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word;” (LUKAS 12:47-48).

Jesus stel die beginsel in. Ons glo dat die Here vir ons baie goed was en steeds is. Laat ons dan ook verstaan dat daar dienooreenkomstig ‘n groot verantwoordelikheid op ons rus om getrou met Hom te wandel, en om die waarhede wat Hy ons geleer het uit te leef, en ver en wyd uit te dra. Vergeet dit nooit nie: as Hy eendag ons ewige loon vasstel, sal Hy in ag neem hoeveel lig en guns ek en jy van Hom ontvang het. Onuitspreeklik kosbaar is God se twee samehangende gawes: Sy tydlose en algeheel betroubare Woord, asook Sy Heilige Gees om ons in die verstaan daarvan te lei. Juda het God se persoonlike bemoeienis en Sy onveranderlike voorskrifte verag – en daarom op leuenpaaie beland. Daarenteen is erns met hierdie twee gawes die sleutel tot ‘n lewe van godsvrug.

Mag die Here ons help om Sy Woord altyd kosbaar te ag, om weer en weer ‘n dieper begrip daarvan te soek, en om die uitlewing daarvan steeds as hoogste prioriteit na te jaag.
Maar laat ons dit altyd voor oë hou: sonder die Heilige Gees se gemeenskap en verligtende werk sal so ‘n ambisie tevergeefs wees. Daarom moet Sy volheid ons voortdurende versugting voor die Vader se genadetroon wees. Ons verval baie maklik in ‘n ongebalansseerde siening oor hierdie saak.
Enersyds vergeet ons maklik die noodsaak van die Gees se verligtende werk. Mense begin bloot intellektueel en akademies met die Skrif omgaan. Dan is dit net ‘n kwessie van tyd voordat ‘n dooie ortodoksie die kerk in sy wurggreep kry – met ‘n spoedige afsterwe tot gevolg. En dan is dit tyd vir kettery na kettery se dodedans op die graf van ‘n instelling wat eens op ‘n tyd ‘n huis van gebed en ‘n basuin van evangeliese waarheid was.

Mens Hoor nie gereeld dat gepraat word van ‘n sogenaamde spreke van die Gees los van die Woord nie? En wat van die sogenaamde rhema-woord wat verhef word bo die logos-woord? Wat is dit anders as ‘n afmaak van vasgelegde Bybelbeginsels as minderwaardig? Die galbitter vrugte hiervan is só oorweldigend duidelik dat geen nugter mens dit kan miskyk nie. Nee, die Gees werk deur die eens en vir altyd afgeslote en genoegsame Woord van God. Juda het sonder meer op die leuenpaaie van hulle voorvaders bly voortgaan – sonder om hulself af te vra of dit inderdaad reg was in die oë van die Here.
Een van die mees subtiele gevare wat elke geslag in die gesig staar, is ‘n onkritiese aanvaarding van dit wat ons van ons voorgeslagte geërf het. Tradisie kan baie kosbaar wees, maar as dit ons verkeerd lei, moet ons dit summier verwerp.

Hieroor swyg die Skrif nie. Die idee van tradisie word op twee maniere aangebied.
Die eerste is uiters negatief. Die Jode in Jesus se tyd, veral die skrifgeleerdes en Fariseërs, het geweldig baie gemaak van die tradisie, oftewel die oorleweringe van die ou mense. Hierdie tradisie was vir hulle nie net die Ou Testament nie, maar ook die Talmud. 3 Dit is welbekend dat die Here Jesus male sonder tal die gesag daarvan verwerp het – as bloot menslike tradisies wat mense weerhou het om God in gees en waarheid te aanbid. Maar dan word die idee van tradisie ook baie positief aangebied – die apostoliese tradisie.

“So dan, broeders, staan vas en hou julle aan die voorskrifte wat julle geleer is òf deur ’n woord òf deur ’n brief van ons. En mag onse Here Jesus Christus self en onse God en Vader, wat ons liefgehad het en ’n ewige troos en goeie hoop in genade gegee het,” (II THESSALONICENSE 2:15-16). Paulus roep sy lesers op om standvastig te wees en vas te hou aan die “leer”. Die woord beteken eintlik tradisie – dit wat van geslag tot geslag oorgedra word. Die apostels het, volgens hulle eenstemmige getuienis, die geopenbaarde Nuwe Testamentiese waarheid van die Here Jesus self ontvang. Dit het hulle onvermoeid aangegee aan die eerste gelowiges.

“WEES my navolgers, soos ek dit ook van Christus is. EN ek prys julle, broeders, dat julle in alles aan my dink en aan die leringe vashou soos ek dit aan julle oorgelewer het.” (I KORINTHIËRS 11:1-2).

“gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ’n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ’n woning van God in die Gees.” (EFÉSIËRS 2:20-22).

Amen jy moet n heerlike dag geniet. Die Here so goed vir ons met die reen. Groente groei pragtig.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 71 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *