Gesondheidsbeskuit – Mikrogolf resep

 

 

 

 

 

 

Lewer 104 beskuite
By die meeste van ons gaan dit dikwels soggens aan die ontbyttafel maar raap en skraap en is daar nie tyd vir ‘n ordentlike ontbyt nie.
Hou vir sulke dae hierdie growwe karringmelkbeskuit in voorraad. Saam met ‘n koppie boeretroos sal so ‘n beskuit jou tot middagete laat hou.

500 g botter of margarien
200 g (250 ml) sagte bruinsuiker
50 ml melasse
1 kg bruismeel
15 ml bakpoeier
2 ml sout
350 g (750 ml) muesli
300 g (6 x 250 ml) All-Bran semel vlokkies
100 g (200 ml) afgedopte sonneblomsaad
75 g (100 ml) pitlose rosyntjies
500 ml karringmelk
2 ekstra-groot eiers

Mikrogolf die botter of margarien, sagte bruinsuiker en melasse 3 minute saam in ‘n diep bak by 100% krag.
Roer dit goed en mikrogolf dit ‘n verdere minuut indien die botter of margarien nog nie gesmelt is nie.
Sif die bruismeel, bakpoeier en sout saam in ‘n groot skottel.
Voeg die muesli, semelvlokkies, sonneblomsaad en rosyntjies by en meng.
Voeg die suikermengsel by en meng dit liggies maar goed met die hande.
Klits die karringmelk en eiers saam, voeg dit by die meelmengsel en meng goed.
Voer die boom van ‘n ronde koek- of tertbak, 20 cm in deursnee en 5 cm diep, met ‘n ewe groot sirkel papierhanddoek uit.
Druk ‘n kwart van die beskuitdeeg (800 g) styf met ‘n spaan in die bak vas.
Plaas die bak op ‘n omgekeerde piering in die mikrogolfoond.
Mikrogolf die beskuit 5 minute by 70% krag en daarna 5 minute by 100% krag.
Draai dit elke 2de minuut as die mikrogolfoond nie ‘n draaitafel het nie.
Keer die gaar beskuit op ‘n draadrak uit, trek die papierhanddoek af en laat dit afkoel terwyl ‘n volgende kwart van die deeg op dieselfde manier gemikrogolf word.
Gaan so voort totdat al die deeg gaar is.
Sny die 4 ronde beskuit-“koeke” met ‘n broodmes in 8 snye van 2,5 cm elk.
Sny elke sny in lengtes van 5 cm elk.
Plaas die beskuite op ‘n draadrak en droog dit gewoonweg in ‘n louwarm konveksie-oond uit, of plaas ‘n kwart van die beskuite op ‘n skoon doek of papierhanddoek op die boom van die mikrogolfoond.
Mikrogolf dit 20 minute by 30% krag tot halfdroog.
Haal dit uit en doen dieselfde met ‘n volgende kwart.
Wanneer al die beskuite halfpad uitgedroog is, begin weer met die eerste kwart en mikrogolf dit ongeveer 20 minute by 20% krag tot droog.
(Wees tog net versigtig dat jy die beskuit nie te lank mikrogolf nie, want dit verbrand maklik binne-in terwyl dit van buite reg lyk.)
Herhaal met die volgende klomp en gaan op hierdie manier voort totdat al die beskuite gedroog is.
Laat dit goed afkoel en bewaar dit in ‘n digte houer.

Mikrogolf Wenners, Annette Human

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 827 times, 2 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *