Liefde op pad na Karoo

Liefde op pad na Karoo
Hallo

Was jy al in ’n klein plekkie met iemand vasgekeer wat anders as jy is en dink? Iemand wat oënskynlik alles al deurdink het en vir elke vraag reeds al die antwoorde uitgewerk het? Maar dat dit heeltemal van jou verskil?

Ek was saam met so ’n persoon “vasgekeer” in ’n motor saam met nog ’n vriend op pad na ’n ander vriend se 50ste vieringe in die Karoo. So ongeveer 8 ure op en 8 ure weer terug.

Hy glo in reïnkarnasie en wonder hard in watter gedaante hy na sy dood weer aarde toe gaan kom.

Gou besef ek dat die motor nie die regte plek en nog minder die regte tyd is om hom aan te vat nie. Hy het in ieder geval reeds al die antwoorde wat reg staan. Ek het wel vir hom die storie vertel van die dosent wat vir ’n student moes antwoord op sy vraag of hy ooit vir God sal vind. Die dosent het die student geantwoord: “Nee jy sal nie vir God vind nie, maar God sal jou vind.”

Dit was al wat ek moes sê, maar vir die res moes ek vir hom omgee. Hom nooit wegdruk nie en hom aanvaar soos hy is. Ons het lank gepraat oor ons elkeen se manier van dinge sien en dat ons nie altyd dieselfde dinge raaksien nie. Maar in dit alles het ons ander 2 in die kar net omgee en liefde uitgesaai. Niks veroordeel nie. Niks gedreig met die hel en so nie.

Net so 15 kilometer voor die plaas hoor ek hulle skree en ek kyk van my foon af op. Reg voor ons het ’n koedoe voor ons ingespring en binne ’n breukdeel van ’n sekonde tref ons die bok met ’n moewiese slag. Ons almal is oraait, maar ons bewe van die adrenalien wat deur ons are opgestoot kom. Die kar is afgeskryf en die bok blaas sy laaste asem uit.

Toe al die stof gaan lê het en ons almal rustiger is, kom high five die ou my en sê: “Daar moet Iemand wees wat na ons gekyk het. Dit kon baie erger gewees het!” Ek wil dadelik die oomblik gebruik om iets te getuig, maar besef dit is nie nou die regte tyd nie.

Ek besef dat die Heilige Gees aan die werk was in die paar ure van saamwees en dat geen veroordeling of bekgeveg van my kant sou help nie. Iets is in hom wakker gemaak. Die saadjie is geplant en God doen die res. Die meeste van die kere kry liefde uitleef, omgee en ruimte gee meer reg as ’n duisend woorde.

Na die trippie verstaan ek die volgende teks beter: 10Ek weet julle is regtig lief vir al die gelowiges daar in die provinsie Masedonië. Maar, my liewe broers en susters, ek vra julle baie ernstig, gee asseblief nog meer vir ander gelowiges om.

Op snaakse plekke, op snaakse tye vra God van ons om vir ander om te gee. Om nog meer lief te wees. Plekke en tye wat ons glad nie verwag nie. Ek weet met my hele hart dat God ’n afspraak met ons mede-reisiger op pad na die Karoo gehad het. God het nie baie van ons verwag nie, behalwe om lief te hê, om te gee en nie te oordeel nie.

Ek hoop ons het dit reggekry. Al was dit nie ’n “ander gelowige” nie, glo ek dat dit juis ons taak was en is om vir almal om te gee en liefde te leef sodat God se plan in ander se lewens ook kan waar word.

Teks

1 Tessalonisense 4:9-12

Om oor na te dink

Waar moet jy meer liefde uitleef?

Hoe moet jy dit doen?

Wanneer moet jy dit doen?

Gebed

Vader, net U kan die liefde vir ander in ons laat groei en oorvloedig maak. Werk in ons en met ons sodat U ook deur ons kan werk. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 4
10Ek weet julle is regtig lief vir al die gelowiges daar in die provinsie Masedonië. Maar, my liewe broers en susters, ek vra julle baie ernstig, gee asseblief nog meer vir ander gelowiges om.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 70 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *