n Plan vir liefde uitdeel

’n Plan vir liefde uitdeel
Hallo

Boats (skuilnaam) uit die Boland vertel:

My dogter raak siek en met ’n baie erge virus en sy raak nie gesond nie.

Dit het my regtig opgehad en finansies het later by die agterdeur uitgegaan, want die kar het gebreek en daarna weer en so het dit aangegaan. Dit was nie lekker tye nie en my moed in die mensdom het al meer agteruit gegaan en seker my geloof ook.

’n Jong laaitie wat so blok van ons af bly, bel my een Saterdag en ek antwoord nie my foon nie – hy bel weer en hy vra of hy ons gou kan kom sien? Dringend…

Hy kom hier aan met ’n sak vol geld. Dit was ’n hoop geld wat hy die middag gou gaan bymekaarmaak het by ’n paar mense. Ons kon dit nie glo nie. Nou kan ons ’n scan laat doen om te kyk of daar nie iets snaaks met ons kind aan die gang is nie.

Ons stap daar uit en huil soos babas. Ek sê vir hom baie dankie vir vandag – nie vir die geld nie, maar vir die feit dat jy my vertroue in die mensdom weer herstel is. Ek glo nou weer dat daar nog goeie mense is en nie dat alles en almal sleg is nie…

Daardie geld was presies genoeg om al die toetse te laat doen en die dokters te betaal. Vertel jy dan nou vir my dat ons God nie bestaan nie!

Een jongman wat omgee. Een jongman wie se liefde oorloop in dade. Een jongman wat ’n middag afgeneem het en ’n lewenslange verskil in ander mense se lewens gemaak het.

Die jongman het êrens in sy lewe geleer wat dit beteken om liefde te doen. Die jongman het geweet dat ware liefde nie in die kop bly nie, maar deur jou hande en voete uitvloei.

Ek dink dit is wat Jesus sou gemaak het as Hy vandag hier in die Boland geloop het. Inteendeel, Hy sou juis dit gedoen het, enige plek op die aarde. Ja, Jesus sou plan op plan gemaak het om mense te help.

9Ek het nie nodig om nog iets te sê oor hoe julle mekaar as gelowiges moet liefhê nie. God self het julle geleer hoe om mekaar lief te hê.

Watter grote les in liefde kry ’n mens nie by Jesus nie? Hy wat bereid was om vir skermunkel mense soos ons sy lewe te gee. Dis liefde. Dis ware liefde en dis die petrol agter die jongman se lewe en dade.

Watter plan kan jy maak? Waar kan jy, daar waar jy in die lewe loop en skouers skuur met ander mense wat swaarkry, Jesus se liefde deur jou hande en voete uitleef?

Teks

1 Tessalonisense 4:9-12

Om oor na te dink

Leef jy Jesus se liefde uit?

Hoe kan jy dit meer gereeld doen?

Waar kan jy Jesus se liefde uitleef?

Gebed

Vader, dankie vir mense wat gehoorsaam is aan U opdrag om vir ander mense om te gee. U sê in U woord dat elkeen wat liefhet, U kind is en U ken. Mag dit waar wees van al U kinders, ook van my. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 4
9Ek het nie nodig om nog iets te sê oor hoe julle mekaar as gelowiges moet liefhê nie. God self het julle geleer hoe om mekaar lief te hê.
10Ek weet julle is regtig lief vir al die gelowiges daar in die provinsie Masedonië. Maar, my liewe broers en susters, ek vra julle baie ernstig, gee asseblief nog meer vir ander gelowiges om.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 81 times, 2 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *