Onthou en doen

Onthou en doen
Hallo

Om ses kinders groot te maak, was geen maklike taak nie, maar my ouers het dit reggekry. Daar was reëls neergelê om die orde te handhaaf en as jy oor die grens gebeur het, was daar gevolge. En so, met die opstaan na die val, hol ons vinnig na my ma toe vir ’n pak slae. Sy kon nie eintlik slaan nie, maar as my pa gehoor het ons is reeds gestraf, sou hy ons nie weer foeter nie. Daarvoor was ons dankbaar, want ons vermoed hy het ’n graad in pakgee gehad.

Deur dit alles het ons geleer van wat reg en verkeerd is. Ons het geleer watter pad die beste is om te loop en waar jy maar eerder moet wegbly. Vandag is dit die fondasie van ons lewe. ’n Mens besef dit eintlik nie, maar die fondasie wat ons ouers in ons lewens gegooi het, is vandag nog die fondasie vir ons doen en late.

So het ons geleer wat reg en verkeerd is in die Here se oë. Tydens Sondagskool, jeugkampe en preke is die regte rigting vir ons aangedui. Deur die jare is ons gevorm en ons weet hoe om die pad van God te stap. Vir die meeste van ons is die volgende dan waar: 2Julle onthou wat ek alles vir julle geleer het. Dit kom direk van die Here Jesus af…

Ja, op ’n manier het God dit so bewerk dat ons gelei is tot waar ons elkeen vandag is om te weet hoe ons moet lewe. ’n Stemmetjie hier binne ons gaan gou aan die keer wanneer ons voor ’n verkeerde deur staan en ons hand uitsteek om oop te maak. Net jammer dat ons ons soms doof hou vir die stemmetjie. Wanneer ons na die tyd ons wonde lek, is ons so spyt dat ons nie maar na die stemmetjie geluister het nie.

Die Boodskap-vertaling voeg nog ’n sinnetjie by vers 2. Ek vermoed hulle herhaal dit vanaf vers 1: …Daarom moet julle dit asseblief ook doen.

Dit is eintlik so voor die hand liggend. Dit help nie ons het al die kennis, maar ons doen niks daaromtrent nie. Hoe dom kan ’n mens nou wees om te weet dit is reg en daai is verkeerd, maar dan kies ons steeds die verkeerde ene. En om een of ander rede doen ons dit aanmekaar. Ons kies om die verkeerde te doen en voor ons ons kom kry, lek ons weer ons wonde en kry onsself jammer. Ons kom maar net nie los van die oorblyfsels van ons sondige natuur nie.

Miskien moet ons hande vat met ’n vriend of vriendin. Miskien moet ons daardie swak plekkie in ons mondering, daardie een waarvan net jy bewus is, vir iemand gaan wys, sodat hulle jou kan help om dit wat jy geleer het, te doen.

Nee, dis nie maklik nie, maar God sal ons help om dit wat Hy ons geleer het, te onthou en deel te maak van ons lewe.

Teks

1 Tessalonisense 4:1-8

Om oor na te dink

Onthou jy nog wat jy geleer het?

Doen jy dit?

Met wie moet jy iets gaan deel?

Gebed

Jesus, dankie vir U Heilige Gees wat altyd daar is om my te help om die regte ding te doen. Help my om nie na my sondige natuur te luister nie, maar dat ek eerder gehoorsaam sal wees wanneer U Gees my op die regte paaie lei. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 4

1My liewe broers en susters, ek het julle geleer presies hoe julle moet leef om God se hart bly te maak. En julle doen dit ook. Nou vra ek julle baie ernstig in die Naam van die Here Jesus, span julle selfs nog meer in om al hierdie dinge te doen.
2Julle onthou wat ek alles vir julle geleer het. Dit kom direk van die Here Jesus af. Daarom moet julle dit asseblief ook doen.

Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.e]

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 80 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *