Professionele Christene

Professionele Christene
Hallo

Een van die wêreld se beste bergfietsspanne bly vir ’n tydjie in ons huis terwyl hulle vir die Cape Epic-bergfietstoer kom oefen.

My mond hang oop toe ek by die motorhuis inloer. Teen een van die mure is ’n hoop wiele wat die een na die ander ingeryg staan. Daar is ’n spesiale tafel vol gereedskap. Bokse en bokse vol parte. Hopies en hopies binne- en buitebande. My seun se mond hang ook vir ’n geruime tyd oop toe hy dit alles sien.

Een van die tafels binne die huis is toegepak met energiestafies, aanvullers en ek weet nie wat nog nie.

Saam met die span toer ’n bestuurder, ’n fisioterapeut, ’n fietswerktuigkundige en ’n kok (laasgenoemde is my vrou se droom). Geen geld word ontsien om net die beste vir die fietsryers te gee nie. Maar dis nog meer fassinerend om die fietsryers te sien oefen. Hulle hou nie op nie. Hulle motto: Oefen, rus, herhaal. Dis die een roete na die ander. Die heeldag. Ja, dis seker hoekom hulle die beste in die wêreld is. Ware professionele atlete.

Ek wonder hoe sal dit lyk as ons ook soveel moeite doen om te lewe soos God dit wil hê. Dis die pleidooi van Paulus ook: 1My liewe broers en susters, ek het julle geleer presies hoe julle moet leef om God se hart bly te maak. En julle doen dit ook. Nou vra ek julle baie ernstig in die Naam van die Here Jesus, span julle selfs nog meer in om al hierdie dinge te doen.

Ons hoef nie ons plek by die hemel in te werk nie, maar dit beteken nie dat ons nou kan terugsit, eers die dinge van die wêreld deurdraf en dan êrens ’n gebedjie of twee afstof nie.

Nee, ons moet alles insit, soos die fietsryers. Vir hulle om êrens te kom, moet hulle hulle hele lewe opoffer. Dis bloedsweet. Eintlik nog meer: Dis ’n leefwyse. So moet dit vir ons ook wees: Ons leefwyse moet heeltemal op God gerig wees. Ons moet al ons kragte inspan sodat ons manier van doen binne die wil van God is. Soos professionele Christene.

En terwyl ek so sit, spring die teksgedeelte van lou Christene in my kop. Hoe vêr gaan God ons nie uitspoeg as ons net lou Christene is nie?

Dis asof ons Christenskap te veel afgewater het. Soos die Engelsman sê: Everything goes. Sê maar net dat jy glo, dan gaan jy hemel toe. Moet jou nie te veel bekommer oor jou doen en late nie, jy sal die hemel ingaan. Wees versigtig om so te dink! Die verlossing wat vir jou aangebied word, het ’n duur prys gekos. Daarom moet jy jou deel doen en jou inspan om jou hele lewe vir God te leef.

Oefen hard om binne die wil van God te lewe. Sit alles in en wees ’n professionele Christen.

Teks

1 Tessalonisense 4:1-8

Om oor na te dink

Hoe professioneel is jou Christenskap?

Hoeveel energie sit jy in jou verhouding met God?

Wat doen jy?

Gebed

Vader, U Heilige Gees herinner my elke oomblik hoe U wil hê dat ek moet leef. Help my om gehoorsaam te wees aan U Ge

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 4

1My liewe broers en susters, ek het julle geleer presies hoe julle moet leef om God se hart bly te maak. En julle doen dit ook. Nou vra ek julle baie ernstig in die Naam van die Here Jesus, span julle selfs nog meer in om al hierdie dinge te doen.
2Julle onthou wat ek alles vir julle geleer het. Dit kom direk van die Here Jesus af. Daarom moet julle dit asseblief ook doen.

Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.e]

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 46 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *