Seks is heilig net binne die huwelik

Seks is heilig net binne die huwelik
Hallo

Seksuele sondes is nie ’n nuwe ding nie. Dit bestaan reeds van die begin van die mensdom af. Selfs hier waar Paulus vir die jong Christene van Tessalonika skryf, is dit juis die eerste onderwerp wat hy aanspreek waarvoor hulle moet pasop. Hoekom? Want dit is een van die eerste plekke waar die mens in die gat trap en val.

Die mens is gerat met ’n oerinstink en dit is om kinders te hê. Saam met die instink het God gedink om plesier daaraan te koppel. God het dit mooi gemaak. Dis ’n heilige moment waar twee mense binne die huwelik een word.

Ek vermoed Paulus het ook so gedink, daarom skryf hy: 3God wil hê julle moet julle lewe voltyds aan Hom wy. Moenie deel hê aan enige seksuele sondes wat teen God se wil indruis nie. In die oorspronklike teks word “voltyds aan Hom toewy” ook as “heilig” vertaal. En “heilig” beteken ook om afgesonder te wees vir God. Ons moet ’n intieme verhouding met God hê. God smag daarna. Dis God se droom om een met ons te wees. Wanneer ons dan hierdie mooi geskenk van God deur die modder sleep, as ons deur die grense van seks storm, kom steel dit ons intieme verhouding met God. Met vuil moddervoete kom bevuil dit ons skoon en heilige verhouding met God en pyn, vrees, alleenheid en onreinheid maak hulle opwagting.

Ek kry ons kinders so jammer. In ons dae moes ons na ’n klein winkeltjie sluip net om niks te sien nie, want alles was toegeplak met sterretjies. Vandag word niks meer oorgelaat aan die verbeelding nie en dit sommer op die foon in jou hand in kleur. Die keuse is joune.

En dit smokkel met jou kop. Dit smokkel met jou toekomstige verhouding met jou lewensmaat. Dit smokkel met jou verhouding met God. Want as die pornografie hier deur jou oë inkom, sluip jou mooi, heilige, afgesonderde verhouding met God êrens uit.

Ek het baie respek vir iemand wat nie net sensitief is nie, maar ook gehoorsaam is aan die stem van die Heilige Gees. Daar waar jy voor jou rekenaar sit, daar waar jy alleen in ’n hotelkamer sit en verveeld is met die lang aand wat voor jou uitgestrek lê, daar waar ’n ander man of vrou net ’n bietjie langer na jou kyk en jy iets in jou binnekant voel beweeg – dis waar jy sensitief moet wees en tussen die vlees en die Gees moet onderskei.

Gehoorsaamheid aan die Gees kan jou beskerm, maar gehoorsaamheid aan die vlees laat rooiligte flikker. Ons moet seker maak dat ons nie ingekatrol word by ’n plek waar God moet wegkyk en die heiligheid tussen ons skipbreuk ly nie.

Hier is ’n groot waarskuwingsbord of liewer ’n stopteken. God het seks mooi gemaak. Dis daar om te geniet binne die huwelik. Dis daar om eenwording tussen mens en God te vier. Moenie dit deur die modder sleep nie. Moenie toelaat dat die duiwel hierdie groot geskenk van God by jou kom steel nie.

Maak die regte keuse elke keer as pornografie of wellus by jou lewensdeur kom aanklop. Los die sonde en keer terug na God. God sal vergewe. Doen nou jou uiterste bes om jou pad skoon te hou en stel jou radars op die stem van die Heilige Gees wat jou op ’n veilige pad sal lei.

Teks

1 Tessalonisense 4:1-8

Om oor na te dink

Hoe heilig is jou verhouding met God?

Hoe ingestel is jy op die stem van die Heilige Gees?

Is daar ’n paar verstellings wat jy moet maak?

Gebed

Vader, om een of ander rede is seks die plek waar die meeste mense struikel. Ons het baie krag en ondersteuning nodig. Help ons om meer tyd met U deur te bring sodat U heiligheid ook deel van ons lewe kan raak. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 4

3God wil hê julle moet julle lewe voltyds aan Hom wy. Moenie deel hê aan enige seksuele sondes wat teen God se wil indruis nie. 4Julle en julle huweliksmaats is eksklusief aan mekaar gegee. Behandel mekaar met groot respek.
5Julle huwelik moet so kosbaar wees dat daar geen tyd of plek vir verkeerde seksuele begeertes in julle lewe is nie. Ongelowiges wat hulle nie aan God steur nie, vang al daardie vieslike dinge aan. 6Ek waarsku julle, moenie julle aan verkeerde seksuele gedrag skuldig maak nie. Onder geen omstandighede mag julle ’n skelm verhouding met ’n ander gelowige se huweliksmaat hê nie. Onthou, die Here sien dit raak. Hy straf sulke sondes.

Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 118 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *